Vrystaat-veldbrande saai verwoesting

Foto: FSUFPA

Verskeie verwoestende veldbrande het die afgelope week in die Vrystaat gewoed en tot gevolg gehad dat drie boere en ʼn boerseun brandwonde opgedoen het en weiveld verwoes is.

Johan Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaat se sambreelbrandbeskermingsvereniging (FSUFPA), het gesê ʼn ernstige brand het Donderdag wes van Kroonstad begin. Die brand is onder bedwang gebring, maar het later weer opgevlam.

Breytenbach het gesê twee boere, Burnie Staal en Mof Myburgh, is in die hospitaal opgeneem nadat hulle in dié brand beseer is. “Myburgh het ernstige brandwonde opgedoen en is na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.” Staal is ʼn bekende beesboer van Kroonstad.

Foto: FSUFPA

Volgens Breytenbach het verskeie verwoestende veldbrande Woensdag en Donderdag in die provinsie gewoed. Die brande is aangewakker deur winderige toestande weens die kouefront wat in aantog was. Volgens Breytenbach was daar teen Vrydagoggend geen ernstige brande nie danksy die kouefront wat oorbeweeg het.

Daar het Donderdag ook groot brande suid van Harrismith en in die Heilbron-omgewing gewoed. Die brand in die Heilbron-omgewing was een van drie brande wat sedert Woensdag in ’n radius van 50 km uitgebreek het.

Foto: FSUFPA

Die eerste brand in die Heilbron-omgewing het sowat 23 km noordwes van Heilbron uitgebreek en die tweede een sowat 20 km oos van Frankfort. Die grootste van die brande het sowat 20 km van Petrus Steyn uitgebreek, in die rigting van Reitz.

Breytenbach het gesê dié brand het glo ontstaan toe die vooras van ’n trekker gebreek het en die veld aan die brand gesteek het. ’n Gr. 12-leerder aan die Hoërskool Reitz het ernstige brandwonde opgedoen toe hy probeer help het om die brand te blus. Hy is intussen op sosiale media as die 18-jarige Dian (Didi) Terblanche geïdentifiseer. Hy word in die Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel.

Volgens Breytenbach sal hulle van vandag af probeer om die omvang van die skade te bepaal ná die week se brande.

Foto: Verskaf.

Maroela Media het ook vroeër berig oor Dawid Steenkamp (45), wat op die grens van Vredefort en Kroonstad ʼn gemengde boerdery bedryf, wat Sondag brandwonde opgedoen het. Hy is Dinsdagoggend uit die Netcare Kroon-hospitaal ontslaan.

Die brand het tussen Viljoenskroon en Vredefort sowat 10 km wes van die R721 in die Renosterspruit-omgewing uitgebreek en altesaam tussen 2000 ha en 3000 ha verbrand.

“Ek het gesien waarheen die vuur op pad is en is met die trekker vooruit om brandbane te sny. Die vuur was sowat 150 m van my af toe die wind draai. Ek het die implemente opgetel en probeer wegry. Ek kon ʼn hele ent ry, sowat 400 m, toe ek besef ek kan nie vir dié brand wegry nie,” het Steenkamp gesê.

Hy vertel daar was ʼn oomblik dat hy skielik tot die besef gekom het die vuur is vinniger as die trekker. Hy het toe besluit om die trekker om te draai en as’t ware in die rigting van die vuur te ry om sodoende déúr die vuur te ry tot anderkant waar die vlamme begin het en klaar gebrand het.

“Toe ek binne-in die vlamme was, het die trekker gevrek. Daar was nie genoeg suurstof vir die enjin om te ontbrand nie. Ek het toe besluit om uit te klim en te loop – dit was ʼn bestiering dat ek anderkant uitgekom het. Dit was net genade. Ek het regtig gedink ek gaan doodbrand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper Labuschagne ·

DIe wind waai vandag vir ‘n vale en die gras is steeds welig na die goeie reën laas somer. Maar die boere hak nou nie eers die brandkar af as hulle dorp toe ry nie, orals staan hulle reg en almal verwag brande. En daagliks kan jy die pluime van die veldbrande gewaar, maar genadiglik is dit tientalle kilometers ver.

Swanna ·

E hier is groot slange in die gras. Hoe eronies. Wonder maar net.

Alida ·

Jammer vir die oom hoop hy word gesond. Hoekom is daar mense wat op alles die misdaad kaart speel. Die gras is droog en die wind waai. Veldbrande is algemeen hierdie tyd van die jaar. Ai tog.

Koppies ·

By ons het dit ook kwaai gebrand. Baie huise was in gevaar. Een van die boere het gesien hoe dit begin. Hulle het net een geblus, toe sien hulle in die verte Langs die pad. Eers ‘n lig en Dan ‘n vuur. Hulle kon hom darm keer. Maar nie voordat die weiding eers afgebrand het nie. En hoe kan dit begin kort na mekaar km’s uitmekaar Langs paaie? Leef jy maar in n droom wereld. Jy sal wel eendag wakker word.

Frans ·

Ek is een van die manne in die Reitz -Petrus Steyn area wat deurgeloop het 82 hektaar van my 82 hektaar het heeltemal afgebrand 40 beeste en 50 skape moet nou iewers loseer,die seun wat gebrand het se pa het ook erg gebrand dis my bure

IK ·

Sterkte aan julle Frans. Ja, dit is so dat ongelukke die veld aan die brand steek maar wat opvallend is is dat met ‘n sterk wind die vure dan daar is. Seker ook weer tyd vir ‘wintersports’ soos ek dit noem. Daar moet ook nie vergeet word dat die vuur ook sy eie wind maak met die styging van warm lug. Daardie vuur wat oombliklik omswaai is uiters lewensgevaarlik.

Ella ·

My hart gaan uit na julle, die boere in ons land. Daar is soveel aanslae wat julle moet hanteer. Ek bid dat ons Hemelse Vader julle elke dag sal beskerm en dat uitkoms en rustigheid weer vir julle sal aanbreek.
Mag al die beseerdes spoedig en volkome herstel.

Sarel ·

Vrystaat – dit is basies nou die seisoen vir veldbrande. Sterkte aan die wat skade gelei het. Solank lewens gespaar bly

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.