Vrystaat verloor miljoene in padtoelaes

’n Verspoelde pad tussen Warden en Vrede in die Vrystaat. (Foto: Vrystaat Landbou)

Te midde van die toenemende verval van Vrystaatse paaie het die nasionale tesourie nou die toekenning van ʼn R45,2 miljoen-instandhoudingstoelaag gestaak.

Dié besluit is Vrydag deur Enoch Godongwana, minister van finansies, aangekondig. Volgens ʼn kennisgewing deur die tesourie is hierdie geld nou ingevolge die Wet op Verdeling van Inkomste aan ander provinsies toegewys.

Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), sê die besluit is “roekeloos en totaal onaanvaarbaar”.

“Oorstromings gedurende die 2021-’22-reënseisoen het nie net boere se oeste verwoes nie, maar ook Vrystaat se padinfrastruktuur.

‘n Knewel van ‘n slaggat op die pad tussen Clarens en Fouriesburg. (Foto: Vrystaat Landbou)

“VL eis om van die minister te weet wat hom aangespoor het om die betaling van infrastruktuurtoelae aan die provinsiale departement van polisie, paaie en vervoer te staak, aangesien dit lig kan werp op die onbevoegdheid en onreëlmatighede van die departement waarvoor hulle [die regering] aanspreeklik gehou moet word.”

Maroela Media het vroeër berig dat Vrystaatse boere gevra is om die departement te help om paaie in die provinsie op hul eie onkoste te herstel. Talle boere betaal reeds skraperoperateurs sodat gruispaaie geskraap kan word en gebruik hul eie arbeid en hulpbronne om dit te doen.

“Ons sal die minister formeel versoek om die redes vir hierdie besluit te verduidelik en die uitwerking daarvan op die landbou en landelike gemeenskap uit te lig,” het Wilken Dinsdag gesê.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het vroeër gesê paaie gaan vir die volgende tien jaar nie in stand gehou kan word nie en toenemend versleg. Hy het die skuld hiervoor onder meer op die e-tolstelsel gepak en aangevoer geld wat bedoel is om paaie te onderhou, word gebruik om die mislukte stelsel se skuld te delg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JM ·

Hoeveel mislukkings, komende van die ANC-regering, moet nog geabsorbeer word?!

Nie Verbaas ·

Moenie van geforseerde BEE in privaat sektor vergeet nie. Kamera, sonbril, Gucci, Porche Cayenne, Moët, aksie en werk kan hy nie doen.

JohanR ·

Is dit ‘n slaggaat in die Vrystaat??????? Jy kan daar in val met jou motor, en hulle sal jou eers in 2025 kry. Miskien moet ek bietjie meer dankbaar wees vir die DA want het darem nog nooit soe groot slaggaat in die Wes-Kaap gesien nie.

piper ·

maar hul wil 50 miljoen aan kuba skenk omdat daar voetseltekort is.

Bella ·

As die regering ophou om al die staats toelaes uit die petrol prys uit te vat, sal daar genoeg geld wees vir die paaie.

Miskruier ·

Ek bid vir elke boer dat hy nie hoop verloor nie, die dag as hier nie meer voedsel beskikbaar is vir die armes, sal anargie uitbreek.

anniekiewiet ·

Daar word nou aanvaar die Boere sal vir herstel betaal.

Vossie ·

Vat hulle hof toe. Dit is die staat se verantwoordelikheid

Renier ·

Ons veg on eie interne ‘oorlog’ teen die regering. Hulle kook paddas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.