Vrystaatse beursprobleem kring wyer uit

Virseker_student_rekenaar_pixabay.jp

Argieffoto (Foto: Pixabay)

AfriForum Jeug het vandeesweek nóg prokureursbriewe aan die Vrystaatse provinsiale beurskantoor gestuur om te eis dat die toegekende beurse aan die Vrystaat se 100 topmatrieks van 2021 uitbetaal word.

Dié organisasie het die afgelope weke talle pleitende e-posse ontvang van verskeie van die 100 topmatrieks wat nie hul beloofde beurse gekry het nie. Dít nadat hulle weke gelede namens Maryke du Pisanie opgetree het, wat ook nog nie haar beursgeld ontvang het nie.

Die organisasie sê nou die probleem blyk veel groter te wees as wat hulle aanvanklik gedink het.

Volgens AfriForum Jeug is volledige beurse aan die begin van die jaar aan elke matriek wat hierdie prestasie behaal het, belowe, maar die Vrystaatse regering het kort daarna teruggedraai en ander kriteria vir beurstoekennings voorgestel.

Kinders wie se ouerpare gesamentlik meer as R600 000 per jaar verdien, word toe van die beurs ontneem. Ná groot druk van opposisiepartye en die media het die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, op 4 Maart opnuut beloof dat elke top-100-matriek die beloofde beurs sal ontvang, ongeag wat hul ouers se jaarlikse inkomste is.

Studente was genoop om op 25 April van voor af aansoek vir die beurse te doen, met hul ouers se salarisstrokies aangeheg.

Dit is nou reeds Mei en talle van dié matrieks sit steeds hande in die hare omdat hulle nog nie hul beloofde beursgeld of korrespondensie van die beurskantoor ontvang het nie.

Du Pisanie, wat vanjaar fisioterapie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) begin studeer het, het stééds nie haar beursgeld ontvang nie.

Sy – net soos die ander matrieks wat nog nie hul beursgeld ontvang het nie – maak finansieel staat op hierdie geld en onsekerheid oor die situasie beïnvloed haar studie.

René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, sê die aantal navrae wat AfriForum Jeug ontvang het, beklemtoon dat onregverdigheid met die toekenning van beurse ’n wesenlike probleem vir die jongmense is.

“Ons het sowaar ’n miernes oopgekrap, waar verskillende euwels in hierdie verband ontbloot word,” sê Van der Vyver.

“Dit is hartseer om te sien hoe hardwerkende toppresteerders deur die Vrystaatse regering behandel word. Die studente probeer al vir maande om basiese korrespondensie van die beurskantoor te kry en nou moet hulle weer deur die uitmergelende proses gaan om ’n beursaansoek in te stuur, met onbillike vereistes, om die beurs te kry wat reeds aan hulle beloof is.”

AfriForum Jeug nooi ander studente, wat in dieselfde posisie is, uit om die organisasie om hulp te nader deur ’n e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

My gooiste daai arme Vrystaat is ‘n gemors……in en met alles!

Jaco ·

Beurs of geen beurs: WAAR gaan dié wit studente eendag werk kry met hulle wonderlike grade? Regstellende aksie word reeds om elke hoek en draai toegepas en radikale ekonomiese transformasie gaan seker ook oor die volgende 2 of 3 jaar begin. Moet ook nie vir my daars werk “oorsee” nie. “Oorsee” gaan werk is VEEL moeiliker as net vlieg soontoe en daar instap en dink die werk word op ‘n skinkbord aangebied. Dis ‘n lang baie duur proses.

Mieke ·

Om ‘n positiewe uitkyk op die lewe te hê, is ‘n moet! Om ‘n negatiewe uitkyk te hê gaan niemand help nie. Mens sal verbaas hoeveel jy kan regkry deur net om te probeer. Ek bedoel dit nie om iemand af te kraak nie maar wil eerder net te sê dat dinge tog goed kan uitwerk! Carpe Diem!!

De Villiers ·

Ons sal self Jaco!

Laat ons nie nou moed verloor nie. Sluit liewer aan by Solidariteit en Afriforum en woeker saam vir ons en ons kinders se toekoms.

Ons het nie die ANC regering nodig nie!

As hulle ons nie wil lei nie
As hulle ons niks wil gee nie
Dit keer nie
Wat ons nog gaan bereik nie
Ons sal self!!!

Di ·

Die 100 top matrieks het seker almal die verkeerde velkleur! Als gaan mos oor ras in die land

Frank ·

Wat ‘n klomp narre!!! En hulle bestuur ‘n provinsie.
En dan het ons minister van Finansies die vermetelheid om te sê: “Hou op kla, kom met oplossings…..”. En hys die minister van FINANSIES!@!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.