Vrystaatse boer in Paraguay oorlede

Daan Coetzee (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaner Daan (of Daniel) Coetzee (75) wat Sondag vermoedelik in Paraguay ontvoer is, se liggaam is Vrydag gevind.

Volgens Daan se jonger broer, Mauritz (67), van Moreletapark in Pretoria is sy liggaam in ʼn ruigtetjie naby sy plaashuis naby die dorp Colonia Independencia opgespoor.

“Die oorsaak van my broer se dood is nog onseker,” het Mauritz gesê.

Die familie is Vrydag laatmiddag van Daan se dood deur sy vrou, Martie, in kennis gestel.

Daan is ʼn voormalige skaapboer van Smithfield, Vrystaat, en sy gesin woon al 30 jaar in Paraguay waar sy dogter, Dané, tans ʼn varkboerdery bedryf.

Daan Human, die oud-Springbokstut, is met Daan se ander dogter, Suzette, getroud. Human is tans die skrumafrigter van die Springbokke.

Maroela Media het vroeër berig Daan is vermoedelik ontvoer toe hy laat Sondag oudergewoonte op sy plaas van 40 ha gaan stap het.

Hy het altyd saam met Martie gaan stap, maar sy het gewoonlik ʼn korter roete as haar man gevolg. Sy stap gewoonlik op die groot pad en Daan deur die mielielanderye.

ʼn Ruk nadat hulle paadjies geskei het [19:41 internasionale tyd], het Martie ʼn oproep van Daan se selfoon ontvang. Daan het vir haar gesê dat hy by twee mense staan wat ʼn rewolwer teen sy kop hou en verduidelik dat hulle in militêre drag of polisieuniform geklee was.

Die mans wou aanvanklik met Martie praat, maar Daan het vir hulle gesê sy verstaan nie Spaans nie. Die mans het toe glo vir Daan gesê die losprys vir sy vrylating is $300 000 (R5,3 miljoen).

Martie het nie daarna weer met Daan gepraat nie en sy liggaam is nou etlike dae later gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.