Vrystaatse boer uit honderde duisende rande geswendel

aanlyn-banke-faktuur-betalings

Ter illustrasie. Foto: Rawpixel/Pixabay.com

Die Bloemfonteinse hooggeregshof het ’n finale beslagleggingsbevel op die bankrekening van ’n verdagte of verdagtes toegestaan sodat ’n boer ’n gedeelte van ’n groot bedrag geld waaruit hy vroeër vanjaar geswendel is, kan terugkry.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die polisie, sê ’n Vrystaatse boer wat gewoonlik vee by ander boere en veilings koop, het op 20 Maart ’n bedrag van R768 477 na die verdagte se bankrekening oorbetaal nadat hy per e-pos ’n faktuur ontvang het waarin hy in kennis gestel is dat die klant se bankbesonderhede na bewering verander het.

Die boer het egter later besef dat hy bedrieg is toe sy klant laat weet het dat hy nooit die geld ontvang het nie. Die saak is dadelik by die owerhede aangemeld en die swendelaar se bankrekening is in April gevries. Daar was egter in dié stadium net R270 000 van die boer se geld in die bankrekening oor.

Die boer sal nou dié bedrag ingevolge die finale beslagleggingsbevel kan terugkry.

’n Voorlopige ondersoek deur die Valke dui daarop dat die verdagte(s) vermoedelik die boer se e-pos gekuberkraak het en sy lewendehaweaankooptransaksies onderskep het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie aangesien die adres wat by die bankbesonderhede verskaf is, vals is, sê Nkwalase.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elsabe

Bankrekening besonderhede verander nie sommer net nie. Jy stel eers ondersoek in.

Stefan

Ek wonder al lankal hoe soiets moontlik is.
Om ‘n bankrekening oop te maak is daar rika en baie dokumente nodig en soms selfs kamera’s, hoe kan so’n persoon later nie opgespoor word nie.
Hierdie rekeninge word waarskynlik geopen met die doel om te bedrieg, hoekom word by nuwe rekeninge die eerste 3 of 4 groter inbetalings nie 1 week vasgehou nie, in die tyd sou die bedrog al uitgekom het.
Baie lastig vir eerlike rekening openers maar ek dink die ongemak is die moeite werd as dit bedrog moeiliker maak.

Coolbanana

Dit gebeur ook in die koop van eiendom waar die deposito’s van Kopers onderskep word…..selfde modus operandi

Martie Smartie

Stefan, dis niks om met ‘n vervalste groen ID boek en vervalste water/ligte rekening ‘n bank rek te open nie. Groot banke neem gewoonlik net jou duim afdruk of twee duim afdrukke and kleiner banke glad nie. Heeltemal korrek, banke is aanlyn gekoppel aan Binnelandse Sake en verifieer die ID no en naam, maar as dit aan ‘n ander persoon behoort, help dit niks. Banke verifieer nie die foto op rekord by Binn Sake teenoor die persoon wat die rekening open nie. Om ‘n persoon positief te identifiseer word ‘n volstel vingerafdrukke benodig en banke neem nie dit nie. FICA… Lees meer »

Louise

Dis maar gewoonlik ‘n inside job by die bank.