Vrystaatse boer vas ná dodelike skietery

plaas-polisie-veld argief

(Argieffoto)

ʼn Vrystaatse boer is dood en nog een onder polisiebewaking in ʼn hospitaal ná ʼn bakleiery oor vee wat ʼn heining beskadig het in ʼn dodelike skietery ontaard het.

Die bakleiery het Sondag omstreeks 18:30 uitgebreek nadat vee van ʼn boer van die Ficksburg-omgewing glo na dié van ʼn buurman beweeg en ʼn heining beskadig het, sê AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder in die Thabo Mofutsanyana-distrik.

Die boer en sy 28-jarige seun het volgens die polisie die vee van die buurplaas verwyder en die pa het agtergebly. In hierdie stadium het die boer van die buurplaas glo die man begin aanrand en hy het sy seun ontbied.

“Met sy seun se aankoms het [die verdagte] sy vuurwapen uitgehaal en die seun glo vyf keer geskiet. Die seun het teruggevuur en die verdagte een keer in die heup gewond,” sê Mophiring.

Die boer het met sy gewonde seun huis toe gejaag, waar hulle ʼn ander voertuig gekry het om na ʼn hospitaal te ry. “Ongelukkig het die seun aan sy beserings beswyk voor hulle by die plaaslike hospitaal kon aankom.”

Mophiring sê die polisie het albei slagoffers op die R26 naby ʼn vulstasie aangetref waar die pa langs die pad stilgehou het.

Die polisie het die verdagte, wat die jong man glo geskiet het, by ʼn hospitaal op Bethlehem opgespoor en daar in hegtenis geneem. Hy het op sy beurt ʼn klag van poging tot moord aanhangig gemaak.

Die polisie het ook beslag gelê op albei vuurwapens wat tydens die skietery gebruik is.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die verdagte sal in die Ficksburg-landdroshof verskyn sodra hy genoegsaam herstel het,” sê Mophiring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Katinka ·

Boere moet kalmeer, probeer altyd ‘n situasie ontlond, nie vererger nie. Dis net vee.

Nettie ·

Sjoe. Die arme, arme Pa en seun. Hoekom sou die man die seun net skiet? Vyf maal? Dis verskriklik. Hulle moet maar die sleutel weggooi. As jou vee op ander se plaas gaan rondloop, kan jy hulle mos nie net gaan skiet omdat hulle plan gemaak het op hul EIE plaas nie?! Hoe durf jy ‘n lewe neem daaroor?

Sterkte en innige meegevoel aan die familie en vriende van die seun. Mag julle berusting en troos by God vind in hierdie tyd.

Hayntjie ·

Ek bid ook daarvoor vir al die partye. Natuurlik was daar iewers ʼn situasie wat die lont aan die brand gesteek het. Kalmte wat van die eerste ontmoeting wysloos ontbreek het.

Mariana ·

Die geweld in SA is chroniese probleem. Almal wil hul geskille met geweld oplos. Is dit omdat polisie nie meer vertrou kan word om hul werk te doen nie of is dit maar net mense wat nou net nie meer omgee om wet in eie hande te neem nie. Wilde Weste.

Sandra ·

Sjoe, mense wat veronderstel is om mekaar by te staan, moor mekaar nou uit! Is dit waarheen ons land nou oppad is?

Lida ·

Ongelooflik ons is nie meer die land van melk en heuning waar ons nog tyd en empatie gehad het vir mekaar nie. Neem alles in eie hande met net geweld en bloed en vernietig alles. Dit is net hartseer….is omdat die duiwel heers in die land van ons en net n handjie vol wat nog glo in Jesus ons verlosser en omdat Hy lewe sal hy ons na veiligheid lei.

Pieter ·

Ek weet nie so mooi nie, die inligting is maar bietjie onduidelik. Iets anders moes gebeur het dat dinge so handuit geruk het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.