Vrystaat Landbou (VL) sê die meeste boere in die provinsie juig oor die goeie reën wat die afgelope ruk daar uitgesak het, maar dit het op sommige plekke egter ook skade aan oeste aangerig, terwyl paaie in sommige streke beskadig is.
Die organisasie sê volgens ʼn opname wat sy streekverteenwoordigers gedoen het, het die meeste distrikte bogemiddelde reën ontvang.
Volgens Koot Naudé, streekverteenwoordiger in die Ngwathe-distrik wat dorpe soos Heilbron, Edenville en Parys insluit, is daar nie tans vloedskade in die gebied nie. Op sommige plekke het landerye egter erg verspoel.
Naudé sê dat sonneblomaanplantings nog op sekere dele gedoen moet word, maar dat die nat toestande dit nie nou toelaat nie. ʼn Groot kwelpunt is egter die toestand van paaie in dié distrik.

Die reën is wyd verwelkom, maar het plek-plek ook skade aangerig. Die foto is in die omgewing van Tweeling geneem. (Foto: Vrystaat Landbou)
“Die toestand van paaie het nog meer versleg en op sommige dele is dit onbegaanbaar” sê hy.
Die Nketoana-distrik, wat dorpe soos Reitz en Lindley insluit, het net gedurende die afgelope naweek 100 mm ontvang.
Nollie Steyn, VL-streekverteenwoordiger vir die distrik, sê daar is nog heelparty boere wat koring moet stroop. Ook in dié distrik is die toestand van paaie nou ’n groot probleem.
VL sê sekere boere in die Hoopstad- en Bultfontein-distrik sit intussen met die hande in die hare weens ernstige vloedskade aan nie net landerye nie, maar ook aan huise.
Benewens die feit dat dié boere skade aan infrastruktuur het, bestaan die moontlikheid ook dat hulle hul aanplantings kan verloor.
VL sê hy is reeds in gesprek met die hoof van die departement van samewerkende regering in die provinsie, maar sal ook in sy eie geledere kyk waar nood verlig kan word.