Vrystaatse brande: ‘Hulp nóú nodig’

Sowat 100 000 ha weiveld is verwoes. (Foto: Vrystaat Landbou)

Agri SA het ʼn beroep op die private sektor gedoen vir skenkings aan boere en plaaswerkers wat deur die verwoestende brande in die Vrystaat geraak word.

Die organisasie sê meer as 100 000 ha weiveld is die afgelope vier dae in groot gedeeltes van die Vrystaat en Noord-Kaap deur vlamme verteer.

“Honderde stuks vee, wild en selfs huise is geheel en al verwoes. Boshof, Dealesville, Hertzogville en Hoopstad is van die gebiede wat deur die verwoesting geraak is. Dié brand het in ʼn noordwestelike rigting na Boshof in die Noord-Kaap beweeg,” het die organisasie Woensdag gesê.

Die brande is volgens Agri SA in hierdie stadium onder beheer, maar word steeds fyn dopgehou.

‘n Lid van Working on Fire besig om een van die brande te help blus. (Foto: Vrystaat Landbou)

Volgens Vrystaat Landbou (VL) is die brand veroorsaak deur betogers wat tydens ʼn diensleweringsbetoging bande aan die brand gesteek het. Dit is verder deur sterk wind aangedryf.

Talle vrywilligers en boere het saamgewerk om die brande te blus en verskeie mense is in hierdie pogings beseer.

“Vrystaat Landbou en Agri Noord-Kaap is besig om ʼn opname op grondvlak te doen om die omvang van die skade te bepaal. Die dringendste behoefte is om boere by te staan met die herstel van infrastruktuur soos heinings om vee wat tydens die brande gevlug het, te beveilig. Veevoer en die vervoer daarvan is ook van sleutelbelang,” sê die organisasie.

Agri SA het reeds ʼn skenking van R300 000 aan VL gemaak om boere te help.

Landwyd het verskeie takke van die burgerregteorganisasie AfriForum reeds minstens R65 000 aan geraakte boere geskenk. Die takke het ook ander takke uitgedaag om dieselfde te doen.

Honderde stuks vee het ook in die brande omgekom. (Foto: @DerLydia/Twitter)

Die waarnemende Vrystaatse premier en LUR vir landbou in die provinsie, William Bulwane, is intussen reeds na Boshof waar hy geraakte gemeenskappe ontmoet het.

Sello Pietersen, woordvoerder van die premier, het gesê ʼn omvattende skadebepaling sal nou gedoen word en daarna sal op die pad vorentoe besluit word. Pietersen het gesê meer besonderhede oor die provinsie se reaksie op die verwoestende brande behoort binnekort bekend gemaak word.

Die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het Dinsdag reeds ʼn beroep op Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gedoen om die geraakte streke tot rampgebied te verklaar.

Agri SA sê skenkings kan direk aan Vrystaat Landbou gedoen word. Voornemende skenkers kan met Elize Spence van VL kontak maak by [email protected] of 051 444 4609.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

EK hoop die nar van polisie sien die as dringende tyd om die te kry wat die brand begin het- dit is tussen eff en anc se rassiste. (EK sal die nie een oomblik as enige ander iets sien nie). CELE MAAK N PLAN JOU BOERE VERNE…..!!!

Peetjie ·

Ek hoop die brandstigters word in hegtenis geneem en van brandstigting aangekla. Daar is so baie mense wat nou àllés verloor het….

PieterP ·

Dit is tereur en klaar. Skielik brand boere wyd en suid se lande en skure af! As moord julle nie breek nie dan sorg ons julle het niks om mee te boer nie… Terroriste!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.