Vrystaatse damme reeds propvol

Die Vanderkloofdam se vlak staan tans op 106,5%. Elias Nel het hierdie foto op SA Reënvalverslae op Facebook gedeel. (Foto: Elias Nel)

Die meeste Vrystaatse damme loop reeds oor en inwoners moet hulle staal vir nóg reën wat vir die naweek voorspel word.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê die gemiddelde vlakke van damme in die provinsie staan tans op 106,9%, meer as die 105,4% waarop dit verlede week dié tyd gestaan het.

Die Gariepdam se vlak staan op 105,6%, die Vanderkloofdam s’n op 106,5% en dié van die Welbedachtdam op 95,1%.

Die Sterkfonteindam se vlak staan op 102,%%, die Fika-Patsodam op 100%, die Bloemhofdam op 106,4% en die Allemanskraaldam op 102,3%.

Die vlak van die Vaaldam is in hierdie stadium op 115,3% en sewe sluise is reeds geopen. Nog sluise kan moontlik binnekort oopgemaak word en die stelsel word fyn dopgehou.

“Dit situasie kan uurliks verander,” sê Ratau.

“Ons bestuur die vloei uiters versigtig, maar mense moet steeds waaksaam wees. Ons reik waarskuwings uit voordat ons die sluise open en dan moet mense vinnig reageer.”

Posted by Tom Mc Murray on Tuesday, April 19, 2022

Ratau sê die grond is reeds oorversadig en reënwater dra by tot die plaaslike watervlakke. Hy het mense gemaan om nie te talm wanneer ʼn waarskuwing uitgereik word nie.

Indien nog sluise by die Vaaldam oopgemak word, moet die uitvloei by die Bloemhofdam ook verhoog word. By dié dam sal die uitvloei Woensdag om 12:00 al na 1 600 kubieke meter per sekonde (kumek) verhoog word, met die moontlikheid dat dit Donderdag selfs na 1 800 kumek verhoog kan word.

Swaar reën, ongewoon vir hierdie tyd van die jaar, het die afgelope ruk oor Noordwes uitgesak.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê hoewel die Oranje- en Vaalrivierstelsel vol is, is daar nie in hierdie stadium ʼn vloedgevaar nie. Hy sê die landerye sal egter binnekort moet begin uitdroog om mielies en veral sojabone te begin oes.

Ook Peter Joseph, uitvoerende hoof van die Oranje-Vaal-waterverbruikersraad, sê daar is in hierdie stadium geen wesenlike vloedgevaar vir Douglas nie. “Die ouens het goed beplan en is gereed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Hoekom kan die uitvloei van water nie beter bestuur en beheer word nie? Vlakke van verskeie damme ver bo 100%, talle plekke langs Vaalrivier weereens onder water.

Shakespeare ·

Wonderlike nuus vir boere. Hulle het elke meevaller nodig om staande te bly teen die ANC/EFF verwoesting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.