Vrystaatse dorp dae lank sonder krag

Die krag in Harrismith is sedert Maandag af nadat die hoofsubstasie op die dorp beskadig is. (Foto: Google)

Duisende inwoners van Harrismith in die Vrystaat sit al sedert Maandag sonder krag nadat die hoofsubstasie op dié dorp vermoedelik deur vandale beskadig is. Gevolglik is water in die dorp ook vinnig besig om op te droog.

Verskeie ondernemings moes noodgedwonge hul deure sluit terwyl inwoners wat nie watertenks of kragopwekkers het nie, ook met hul hande in hul hare sit.

Dié wat wel opwekkers het, kan boonop nie bekostig om die opwekkers deurlopend aan te skakel nie.

Eleanor Quinta, die DA se raadslid in Harrismith, sê die Maluti-a-Phofung (Map)- plaaslike munisipaliteit sukkel sedertdien om ʼn kontrakteur aangestel te kry om kragtoevoer te herstel, maar dat geen redes vir dié oponthoud gebied word nie. Sy meen egter “politieke speletjies” is beslis ʼn bydraende faktor.

Volgens Quinta word ongeveer 6 000 mense tans deur die krisis geraak. Om dinge verder te vererger word watertenkwaens wat gestuur word om water aan inwoners te lewer, boonop gekaap en geplunder. “Ek was self vanoggend [Vrydag] daar en het gesien hoe dit gebeur.”

ʼn Groot onderneming het intussen ʼn kragopwekker by die waterpompstasie in Harrismith laat installeer sodat water weer gepomp kan word.

“Ons sal hopelik teen vanaand of môre [Saterdag] darem water hê.

“Die gemeenskap is regtig desperaat en ons kry net geen antwoorde van die munisipaliteit nie.”

Marius Bosch, wat die Oppie Hoek-gastehuis in Harrismith bedryf, sê hy en sy vrou is een van verskeie sake-eienaars wat hul bedrywighede noodgedwonge moes staak.

Dié gastehuis het nog genoeg water om een gas Vrydagaand te akkommodeer, maar moes verder alle besprekings vir die naweek kanselleer en sluit. Dit is ʼn groot finansiële knou vir eienaars van klein ondernemings, soos die Bosch-egpaar.

“Ons het nie meer baie water in die tenk oor nie en het nie ʼn boorgat nie. ʼn Vrou het ons vroeër die week gebel en gesmeek dat ons haar die naweek akkommodeer, maar ons kan nie. As jy ten minste nog water het, kan jy mense akkommodeer en beddegoed was, maar as dít eers opraak, dan gaan dit sleg,” het Bosch Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Soos jy deur die dorp ry, is daar oral klein ondernemings wat moes toemaak omdat hulle dit nie kan bekostig om opwekkers te laat hardloop nie.”

Nog ʼn inwoner, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy weet van baie inwoners wat ook skade ly oor hulle nie krag of water het nie.

Gevriesde vleis en kos word vrot, en mense het nie noodwendig geld vir onvoorsiene uitgawes soos dié nie. Plekke met opwekkers wat stoorplek vir inwoners aangebied het, is boonop oorvol.

“Ek weet van so baie mense wat nie opwekkers of watertenks het nie. Hulle is moedeloos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Spyker ·

……maar our people trek maar weer die kruisie op die kriminele se logo

Theuns ·

Wys hoe agterlik agter is…. ramapopo ook stil besig om geld te tel by pelle pelle ! Niks worries oor suffering nie. Meeste like dit en trek kruisie daar vir nog meer

Hendrik ·

Die algehele verval van die gesagtoestand is die rede van hd ontwrigting wat SA tans beleef.

Hennie ·

Klap die mislikepaliteit met ‘n klas aksie! Vrotkop ANC wetters!

Theuns ·

Harrismith bewys die KP,HNP, AWB en almal regs was selfs te optimisties oor wat onder n meerderheids demokratiese regering sal gebeur. Dis erger as almal se wildste negatiewe drome. Hul is belagluk gemaak deur NP en DP wat nou stil is. Tyd vir verandering. LAAT DA KRAGOPWEKKERS KOOP!

Jacobus ·

Dit is wat gebeur as n terroristiese organisasie die land regeer. Hulle terroriseer hulle eie mense vir eie gewin.

Waarnemer ·

Wie moet hulle bedank?Beslis nie Bolanx bNk nie naar die a en c en hul kaders.Stem maar weer vir die a en c in 2024….hakuna matata.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.