Vrystaatse dorpe stééds sonder krag ná storm

Talle dorpe sit sedert Dinsdag sonder krag.
(Argieffoto: Johannes Plenio/pixabay)

ʼn Aantal dorpe in die Vrystaat sal tot volgende week sonder krag wees nadat ʼn storm vroeër vandeesweek van Eskom se infrastruktuur beskadig het. Minder as die helfte van dié inwoners se krag sal eers later vandag herstel word, terwyl die res tot Maandag in donkerte gedompel sal wees.

Kraglyne in onder meer Jagersfontein, Fauresmith, Trompsburg en Edenburg is Dinsdag deur die storm beskadig, wat meer as 250 mense sonder krag gelaat het.

Eskom het Vrydag bevestig dat altesaam 67 kragpale en meer as 1 500 kraglyne weens die storm omgewaai of beskadig is.

“Tegnici het dié week onophoudelik gewerk in ʼn poging om die kragtoevoer aan al die geraakte gebiede te herstel,” lui Eskom se verklaring.

“Bykomende spanne is na die Vrystaat ontbied en hulle moet dikwels deur modderige terreine ploeg wat nie maklik toeganklik is nie.

“Weens die voortdurende weerstoestande gaan daar ongelukkig ʼn paar inwoners wees wie se krag eers Maandag herstel sal word.”

Desnieteenstaande is Eskom hoopvol dat ʼn handjievol dorpe en landelike gebiede reeds teen Vrydagaand weer krag sal hê.

Teen die oggend is 30 kragpale reeds herbou wat sal verseker dat kragtoevoer deur die loop van die dag aan 115 mense herstel word.

Drie pale is tussen Trompsburg en Kromelmboog herbou en krag is reeds aan dié inwoners herstel, terwyl mense in Edenburg vanaf Woensdag al krag het.

Diegene in Pompie en Rietkuil se krag is gedeeltelik herstel nadat sewe uit die 11 pale Donderdag vervang is. Die res van die pale sal na verwagting Vrydag ingesit word.

Altesaam ses uit die 21 kragpale wat tussen Fauresmith en Spitskop benodig word, is vervang, maar die res sal glo deur die loop van die naweek gedoen word. Diegene in Fauresmith tot Metz het egter tydelik krag totdat 11 pale oor die naweek herstel word.

Inwoners tussen Rouxville en Smithfield se twee kragpale sal ook Vrydag vervang word.

Hoewel Eskom beplan om die meeste van dié gebiede vandag nog af te handel, waarsku hy dat daar verdere vertragings kan wees indien slegte weer hom noop om sy werkers uit die gebied te onttrek.

“Eskom vra om verskoning vir die ongerief wat deur die onvoorsiene weerstoestande veroorsaak is. Dringende aandag word aan al die herstelwerk gegee.”

Eskom het ook lede van die publiek gemaan om op die uitkyk te wees vir potensiële gevare wat weens die weer tot stand gebring is.

“Oorhoofse kragkabels wat beskadig is, ineengestort het of laag hang weens stormweer, asook vandalisme en onwettige verbindings kan lewensgevaarlik wees vir mens én dier wat daarmee in aanraking kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

En plaaslik in Monumentpark Pretoria, vir die TWEEDE keer in TWEE weke…is ons sonder krag vir tussen 14 en 16 ure aan een! Dit terwyl dit letterlik n paar minute vat om DIESELFDE “transformer” wat “trip” terrug te skakel?????

Bloot GEEN erns of dringendheid nie! Om nie te praat van absurde tekorte aan kapasiteit nie. En dan die OORTYD werk “terloops” eerder as normale werks ure.

Jacobus

Pateties!

annie

Hoekom pateties? Eskom is nie magtiger as erge stormweer nie. Kyk maar watter skade rig wind en weer aan kragnetwerke in die VSA en Duitsland ~ twee eerstewêreldlande. Alle probleme begin iewers. Eskom se huidige krisis is amper 3 dekades in aanloop. Party ou kragstasies en netwerke het al gryshare en Eskom het van hul probeer vergeet. Nou is baie krukke nodig.

Shakespeare

Kla oor die DA julle mense wat nie mooi kan dink nie. Ek wag om te hoor as die verrotte EFF die opposisie party is hoe julle dan gaan galbraak. Kom by, julle wat die DA so afkraak.