Vrystaatse egpaar oorval; man vermoor

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

’n Egpaar van Oranjeville in die Vrystaat is Vrydag in die vroeë oggendure in hul huis in Strydomstraat oorval, waarna die man (68) met ’n skerp voorwerp doodgesteek is.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê die egpaar het gelê en slaap toe drie mans in hul slaapkamer ingekom het. Een van die verdagtes het glo naby aan die slaapkamerdeur gestaan toe die egpaar wakker word, terwyl die ander twee aan weerskante van die egpaar se bed gestaan het.

Die bejaarde man het in ’n struweling met die verdagte aan sy kant van die bed betrokke geraak, waarna hy vier keer met ’n skerp voorwerp gesteek is. Die man se hande en voete is vasgebind voordat die verdagtes hom op die vloer agtergelaat en sy vrou begin dreig het.

Volgens die polisie het die verdagtes geld geëis en die vrou het hulle na ’n kluis in die motorhuis geneem. Die verdagtes was egter nie tevrede met die kontantinhoud van dié kluis nie en het besluit om ’n vuurwapen in die kluis te neem.

Die verdagtes het probeer om nog geld uit die vrou te kry. Toe hulle nie hierin slaag nie, het hulle nóg ’n vuurwapen uit ’n ander kluis elders in die huis geneem.

Die vrou se hande en voete is vasgebind en sy is op die bed agtergelaat voordat die verdagtes met die bietjie kontant wat hulle kon kry en die twee vuurwapens in die egpaar se VW Polo met die registrasienommer HGX 515 FS op die vlug geslaan het.

Die vrou kon daarin slaag om haarself los te wikkel en hulp te ontbied.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 06:10 met hul aankoms op die toneel na die slaapkamer geneem.

Die man het in dié stadium reeds aan sy beserings beswyk en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Mbambo sê die verdagtes is in die stadium steeds soek.

’n Saak van moord en huisroof word ondersoek.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om kapt. Patience Mahlatsi by 082 465 3012 of konst. Motloung by 073 982 8902 of 016 974 6841 te kontak. Inligting kan ook by die misdaadstopnommer by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Blikkantien ·

Mag die moordenaars ‘n erger lot tref as wat hulle uitgedeel het.

Jakes ·

Jammer vir die slagoffer en sy vrou. Ongelukkig loop daar baie sulke gemors rond in ons midde wat armoede pleit en dit as n lisensie sien om te moor.

Casper ·

Op wie is die aandklokreël van toepassing.’n Pa wat vir hulle baba gaan melk koop word gearresteer om hom ‘n les te leer maar hier word ‘n bejaarde man vermoor.

Renier johannes ·

Tiepies pas damme en strande op maar oumense word aangeval

Adam Adriaan ·

Dit gaan my verstand te bowe dat daar moordenaars in jou huis kom, tot langs jou bed, terwyl jy slaap en jy wis niks daarvan voor die tyd nie. Ander mense se wee in nie jou wee nie.

Barend ·

Onthou ouer mense se gehoor is nie altyd meer so goed nie, en dan ook die medikasie wat met die ouderdom gepaard gaan.

elphia ·

Wat ek nie kan verstaan nie, is dat wanneer ons wat by die see bly dit waag om jou groottoon op die strand te sit, word jy met arrestasie gedreig en as jy na die aandklokreël dit buite jou erf waag, is daar moeilikheid! Maar die kriminele loop los rond en doen net wat hulle wil en wanneer hulle wil! Hier is so ‘n paar nagte terug by ‘n besigheidsperseel ingebreek en alles wat soos elektriese toestelle en kabels lyk is afgesny / afgeruk / uitgeruk. Hoe de ongeluk klim jy oor 2m hoë “devils fork”, maak jou sakke vol, klim weer terug buite toe en verdwyn, en niemand sien jou nie! Iewers is prioriteite nie reg nie!
Baie sterkte aan die familie en vriende van die egpaar. Mag die skuldiges baie vinnig agter tralies wees.

david ·

Hierdie is ‘n vraag aan die Amerikaaanse Ambasadeur in SA….(in engels) You now have a new president. Would you PLEASE pass this question to him….Sir, what is your reaction to the umpteenth murder of a white elderly SOUTH AFRICAN …? Your predecessor has expressed his unease about this phenomenon–the sensless killings of our white citizens—-Sir, WHAT is your opnion ? Do you have an opnion at all …?

christo ·

Bejaarde boere is ‘n maklike teiken. Boere verarm en kan nie meer al die veiligheidsmaatreëls bekostig nie. Mense sal verras wees om te sien hoe klein die spasies is waardeer kriminele toegang tot ‘n gebou kry. ‘n Klein honderas is ‘n goeie alarm. Ek was aanvanklik skepties oor ‘n Yorkshire terrier, maar hulle is maklik om op te lei en te leer om slegs te blaf wanneer daar gevaar is. Onthou net hy/sy is nie daar vir verdediging nie. Net ‘n vierpotige alarmpie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.