Vrystaatse gesin veilig

Van links: Victor, Jay en Charlene (Foto: Verskaf)

Die Vrystaatse gesin wat sedert Vrydag spoorloos verdwyn het, is veilig gevind. Hulle het by ’n polisiestasie in Durban aangemeld en daarna die familie in kennis gestel dat hulle veilig is.

Victor Bosman (55), Charlene Lombard (27) en haar seun, Jay Lombard (5), het Vrydag laas met enige iemand kontak gehad nadat hulle daardie Maandagoggend omstreeks 05:00 van Odendaalsrus na Secunda geryloop het. Bosman kon moontlik werk in Secunda kry.

Soos vroeër berig het die gesin die Donderdag in Secunda aangekom en die aand by ’n vriend in die dorp oornag. Die vriend het hulle die volgende dag (Vrydag) na die taxistaanplek geneem sodat hulle met ’n minibustaxi kan terugry Odendaalsrus toe.

Die vriend het later die dag ’n oproep van Bosman ontvang. Bosman het hom vir geld vir kos gevra. Hy het vir sy vriend gesê dat hulle in Alberton is. Die vriend het geld in Bosman se bankrekening inbetaal, maar het sedertdien niks weer van hom gehoor nie.

Nadat niemand die gesin op hul selfone in die hande kon kry nie, het bekommerde familielede hulle as vermis by die polisie in Odendaalsrus aangemeld.

Chantelle Lombard, Charlene se suster, sê nadat haar suster-hulle vermis geraak het, het sy onverpoos na hulle gesoek.

“Ek kon nie ophou soek nie,” vertel Lombard.

Lombard het vandag (Woensdag) omstreeks 16:00 gehoor dat die gesin veilig in Durban is.

“Hulle het van Alberton na Durban geryloop, waar hulle toe by die Point-polisiestasie aangemeld het. Daar het hulle Victor se suster gebel om haar in kennis te stel dat hulle veilig is. Sy het my toe in kennis gestel,” vertel Chantelle.

“Daarna het ek self my suster gekontak en met haar gepraat. Ek het ook met haar seuntjie, Jay, gesels en hy het gesê hy mis my, maar hulle is oukei.”

Chantelle sê dit klink asof die gesin hul selfone moontlik op die pad verkwansel het vir kosgeld en daarom kon niemand hulle in die hande kry nie.

Volgens Chantelle gaan ’n krisis- en traumasentrum in Durban hom oor die gesin ontferm en het aangebied om vir hulle kos en blyplek te gee totdat hulle kan teruggaan huis toe.

Chantelle sê die gesin is na Durban toe waar Bosman blykbaar ook werk gesoek het.

“Ek wil graag die polisie van Odendaalsrus uit ons harte bedank vir hul hulp om my suster-hul op te spoor. Ek is ook dankbaar vir almal wat ingespring en gehelp soek het na hulle.”

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die gesin Dinsdagaand by die Point-polisiestasie aangemeld het.

“Reëlings word met die Odendaalsrus-polisie getref om te verseker dat die gesin veilig terugkeer huis toe,” sê Makhele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wielspore ·

Dankbaar die familie is veilig maar ek voel dat die ouers onverantwoordelik is deur ‘n 5 jarige kind saam te vat terwyl hulle ryloop. Los eerder die kind by familie of vriende tot die pa werk kry en die gesin kan vestig.

Oom Jaap ·

Dis maklik vir ons om dit te sê, maar ons ken nie hulle omstandighede nie.

Diana ·

Maklik om te praat, as mens nie in daardie ouers se skoene staan nie.Sterkte aan hulle en voorspoed vir die toekoms, aanhouer wen.

Mariaan ·

Arme kind…pleks bly ma en kind tuis terwyl pa gaan werk soek..dis mos traumaties vir n 5jarige kind om so te swerf..nee man!

Hennie ·

Kind maak dit makliker om ‘n ryloop geleentheid te kry. Bestuurders kry hulle jammer en stop.

Casper ·

Dankie tog, hulle is engendered.Deesdae kan jy nie meer met veiligheid ryloop soos in ons weermagdae nie.

ES ·

Hier is baie mense wat kommentaar lewer en dit is maklik om jou opinie te lig as jy nie self in daardie situasie is nie. Ek so bly hierdie storie het nie tragies geindig nie, veral in die tye van vandag.

Dit moet vreeslik wees om geen werk of heenkome te he nie. Daar is mense wat bitter baie swaar kry en dis nie lekker om ‘n familie te verdeel nie, selfs nie eers tydelik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.