Die Bloemspruit-polisie in die Vrystaat ondersoek ʼn saak van moord nadat ʼn bekende jazz-musikant Vrydag dood in sy huis aangetref is.
Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die liggaam van die 64-jarige Peter Nthwane is omstreeks 20:30 in sy huis in Mangaung Fase 6 aangetref. Hy het ʼn koeëlwond aan sy kop en aan sy linkerhand gehad. Nthwane was welbekend in jazz-kringe en het sy eerste album in 2004 opgeneem.
Mbambo het gesê Nthwane se lewensmaat, ʼn 39-jarige vrou van Lesotho, is deur die polisie vir ondervraging ingeneem, maar is sedertdien weer vrygelaat. Sy het ook bevestig dat daar ʼn geskiedenis van huishoudelike geweld tussen die twee was.
Mbambo het gesê niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie. Enigiemand met meer inligting word versoek om ao. Ramasoala by 082 465 5884 te bel.