Vrystaatse leeuboer sal nie vervolg word – staat

Pieter Swart (Foto: Facebook)

Pieter Swart, die leeuboer wat verlede jaar op sy plaas naby Kroonstad in die Vrystaat aangeval en drie vermeende aanvallers uit beweerde selfverdediging doodgeskiet het, sal nie vervolg word nie.

Só het die staat Woensdag gesê nadat bevind is dat daar “geen vooruitsigte op suksesvolle vervolging bestaan nie”.

Swart is in Februarie verlede jaar in hegtenis geneem op drie aanklagte van moord nadat ʼn voorlopige ondersoek deur die polisie op ʼn ander weergawe van die aanval gedui het as wat dié boer aanvanklik gegee het.

Hy is eindelik uit aanhouding vrygelaat omdat daar nie ʼn prima facie-saak teen hom was nie.

FC Schilling, Swart se regsverteenwoordiger, het destyds aan Maroela Media gesê dat Swart steeds vorentoe vervolg kan word, sou die polisie se ondersoek na die voorval enige konkrete bewyse na vore bring.

Schilling het egter bevestig dat die staat nou finaal besluit het om enige toekomstige vervolging van Swart te laat vaar.

“Daar is geen vooruitsigte op ʼn suksesvolle vervolging nie omdat al die beskikbare bewyse daarop dui dat die beskuldigde uit selfverdediging opgetree het,” het die staat gesê.

Schilling het vroeër gesê dat Swart getraumatiseer is ná die gebeure en dat hy geadviseer is om berading te oorweeg.

“Dit was nie ʼn aangename ervaring nie.”

Drie ander verdagtes, wat glo by die aanval betrokke was, is ook destyds op aanklagte van sameswering om ʼn misdaad te pleeg in hegtenis geneem.

Een van dié verdagtes het toe bekentenis afgelê waarin hy glo bevestig het dat die verdagtes op Swart se plaas was met die doel om hom te beroof.

Dié bekentenis het Swart se weergawe van gebeure bevestig.

Slegs Lehlohonolo Modisadife (22) word in die stadium vir die plaasaanval aangekla. Die saak teen sy twee medebeskuldigdes is weens ʼn gebrek aan bewyse teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kompas

Ek sal so hoop dat hy nie vervolg sal word nie! Hy het homself verdedig. Voel net deesdae of die oortreders meer regte het as die slagoffer! Bly dat die uitkoms positief is.

casper

Nou moet hy die polisie laat vervolg vir verkeerdelike arres en aanhouding !!

Misky

Hulle was definitief nie daar om tee te drink nie. Die staat en gereg faal ons boere en hulle moet hulself beskerm, want die regering is te sleg om dit te doen.

Marius

Die kriminele het meer regte en beskerming as die slagoffers. Dis ‘n siek wêreld.

christo

Bheki Cele, maak jou reg vir ‘n siviele eis, maar dit word met belastinggeld betaal.