Vrystaatse leraar verdrink: ‘Hy was geliefd onder mense’

Riaan Gerber (Foto: NG Kerk Vrystaat/Facebook)

“Hy was geliefd onder die hele gemeenskap en ʼn steunpilaar vir baie mense.”

Só sal dr. Riaan Gerber, leraar van die NG Moedergemeente in Vrede, onthou word nadat hy Dinsdagoggend op Margate in KwaZulu-Natal se hoofstrand verdrink het ná ʼn seestroom hom meegesleur het.

Ds. Johann Kemp, leraar van die NG gemeente in Cornelia en ook ʼn goeie vriend van Gerber, sê hy weet nie wat die presiese gebeure rakende die voorval was nie, net dat die seereddingsdienste op die toneel was.

Gerber se tienerdogter, Anchen, is ook deur die seestroom meegesleur, maar betyds gered. Sy is vir waarneming in ’n hospitaal in Margate opgeneem, maar gaan moontlik nog vandag ontslaan word.

Gerber het Saterdag 47 jaar oud geword.

“Ek het nog met hom gesels toe hulle net voor die naweek op pad see toe was,” vertel Kemp.

Kemp en Gerber was ook saam op die ring van Harrismith se kommissie, waar Kemp die skriba is en Gerber die addisionele lid.

“Ons stap al vir 20 jaar saam ʼn pad. Ons het mekaar jaarliks by die belydeniskampe gesien en baie ander dinge saamgedoen,” vertel Kemp.

Riaan Gerber en sy vrou Gretchen en hul kinders, Anchen, Juhann en De Wet (Foto: Vrede Skool/Facebook)

Kemp sal Gerber onthou vir sy goedhartigheid. “Hy het baie omgegee vir ander mense en veral uitgereik na siekes en mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het. Hy was ʼn geliefde mens – nie net vir die kerk nie, maar vir die hele gemeenskap.”

Gerber was sedert 1999 leraar by die NG gemeente in Vrede.

Gerber word oorleef deur sy vrou, Gretchen en sy drie kinders, Anchen (17), Juhann (9) en De Wet (19). De Wet is tans ʼn tweedejaar- mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hoërskool Vrede, ’n gesamentlike laer- en hoërskool, waar Juhann en Anchen tans skoolgaan, het hul medelye aan die gesin betuig.

Luidens ʼn plasing op die skool se Facebookblad is die skool diep geraak deur sy tragiese afsterwe. “Hy het ʼn groot invloed op ons skool en sy leerders gehad. Ons skool het baie by hom geleer en is opreg dankbaar vir alles wat hy vir die skool gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.