Vrystaatse munisipaliteit versuim om salarisse te betaal

Werknemers in Ladybrand wat verlede week gestaak het (Foto: Verskaf)

Munisipale dienste in Ladybrand is Dinsdag gestaak nadat werknemers van die Mantsopa-munisipaliteit in die Vrystaat nie hul salarisse vir Februarie ontvang het nie. Onluste het verlede week reeds begin opvlam nadat die munisipaliteit versuim het om salaris-aftrekkings aan onder meer pensioen- en mediese fondse oor te betaal. Dit is wel van werkers se salarisse verhaal.

Die Mantsopa-munisipaliteit bedien dorpe soos Ladybrand, Tweespruit, Excelsior en Hobhouse in die Vrystaat.

Tania Halse, ʼn DA-wyksraadslid, sê werkers moes vandag betaal word en Thamae Masejane, die munisipale bestuurder, het die situasie tydens ʼn geslote vergadering met die werkers bespreek.

Halse sê raadslede het reeds gevra vir ʼn spesiale raadsvergadering sodat die probleem bespreek kan word.

Werknemers is ontsteld omdat hulle nie hul salarisse vir die maand ontvang het nie (Foto: Verskaf)

Halse is ontsteld omdat die munisipaliteit verlede week tydens die finansiële komitee-vergadering en raadsvergadering geswyg het oor sy onvermoë om werkers te betaal. “Dit is onaanvaarbaar dat die raad nie in die saak geken is sodat daar betyds aan oplossings gedink kon word nie,” het sy gesê.

Die DA het aan die begin van die jaar die burgemeester, Mamsie Tsoene, ook versoek om die aantygings van wanbestuur teen Masejane te ondersoek. Die versoek is verlede Vrydag eenparig ondersteun.

Volgens Halse skuld die munisipaliteit Eskom boonop meer as R200 miljoen. Eskom het in Desember 2016 al gewaarsku dat hy kragtoevoer na die munisipaliteit weens wanbetaling gaan opskort. Die munisipaliteit het Eskom toe reeds sowat R60 miljoen geskuld. Teen einde verlede jaar het Eskom die munisipaliteit weer kennis gegee dat hy die kragtoevoer weens wanbetaling gaan onderbreek.

Maroela Media het ’n navraag aan die munisipaliteit gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Wat nog? ANC, die hele land is n gemors. Hier is nie meer omkeer nie.

marius

Verorberaars !

Frederik C

Darem een ding omtrent die munisipale werkers. Hulle is selfs te lui om te toi-toi.

Charles

Die groot party is verby, hier kom nog baie hiervan..

Sobymykoolkop

Soos ń munisipale arbeider my die ander dag toesnou, julle tyd is verby dis nou ” ons” beurt. Kry vir julle in oorvloed, stem weer vir wie julle elke keer stem. Lekker man lekker