Vrystaatse premier bestee miljoene aan ‘geleentheidsbestuur’

Sisi Ntombela (Foto: dumelangnews.co.za)

Die DA in die Vrystaat het uitgevaar teen die voortgesette besteding deur die provinsie se premier, Sisi Ntombela.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het Ntombela se besteding as “ongevoelig” bestempel te midde van beloftes in haar begrotingstoesprake dat koste besnoei gaan word en die regering eties sal optree.

In antwoord op ʼn vraag in die Vrystaatse provinsiale wetgewer het dit geblyk die kantoor van die premier het tussen Junie 2018 en Julie 2020 meer as R214 miljoen aan sogenaamde geleentheidsbestuurdienste spandeer.

Volgens Jankielsohn het vier maatskappye die grootste hap uit dié koek gekry: Dots Design Agency het sowat R59 miljoen ontvang, Quail Media-Cubicle Trading JV sowat R54 miljoen, Thepa Trading nagenoeg R61 miljoen en Central Plaza Investements R38 miljoen.

“Die besteding oor 26 maande kom neer op gemiddeld nagenoeg R8 miljoen per maand vir geleentheidsbestuurdienste,” sê Jankielsohn.

Volgens hom bewys dit dat die kantoor van die premier aanhou om belastingbetalers te melk, selfs nadat die kantoor ontruim is deur die voormalige premier, Ace Magashule.

Ntombela het in haar 2019-begrotingsrede gesê daar gaan in die komende jaar meer met minder gedoen word. Die premier het onderneem dat nie ʼn sent gemors gaan word nie, dat die provinsiale regering verantwoording gaan doen vir alle besteding en dat daar streng by besuinigingsmaatreëls gehou gaan word.

In haar jongste begrotingstoespraak het Ntombela gesê suksesvolle groei en ontwikkeling in die provinsie berus op ʼn vaardige, etiese en ontwikkelende staat.

“Haar besteding op geleentheidsbestuur voeg geen waarde tot haar verbintenis om vermorsing te verminder en aan mense se verwagtinge te voldoen nie. Die Vrystaat het ʼn werkloosheidskoers van 38,4% – 44,5% as werksoekers wat moed opgegee het bygevoeg word – asook groeiende armoede en hongersnood,” sê Jankielsohn.

“Gegewe die benarde situasie in die provinsie beskou die DA hierdie onnodige uitgawe wat aangegaan word deur ʼn onbevoegde, onetiese en ongevoelige Vrystaatse premier ten koste van die armste van die armes, as misdadig. Die buitensporige bedrae belastinggeld om vir amptelike regeringspartytjies te betaal, skep die indruk dat dié geld misbruik kan word om die regerende party te finansier.”

Jankielsohn sê die DA gaan verdere vrae vra om die presiese aard van die uitgawes op geleentheidsbestuur te probeer vasstel. Hy sê op sigwaarde lyk dit of daar ooglopend geplunder word, eerder as dat koste besnoei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Persheks Adri ·

Mooi geleer by kaders ne? Nogals partytjies ook… Julle kan net nie julle vingers van die geld af hou nie!

Porseleintjie ·

Lekker jolly Suid Afrika. Wie klim vlg op dié soustrein?

Suzette ·

Kan sien sy het ‘n luilekker lewe. Sy het geen idee wat eties beteken nie. Ek sal graag wil sien dat sy verantwoordelik gehou word vir die mors van die belastingbetalers se geld, maar dit is seker wensdenkery.

Pieter ·

Die ANC moet definisies neerpen van:
Demokrasie
Korrupsie
Eties
Rassisme
Integriteit
Christenskap
Verantwoordelikheid
Sal verder praat na ontleding van die antwoorde en prentjies.

Hercules ·

die lekker lewe van diefstal van belasting betalers geld!!

Francois Le Cochon ·

Lyk dan nou vir my of Sisi miljoene onder haar klere wegsteek.

Moedeloos ·

Wonder of sy vinger in die pie het by die 3 maatskappye

Misky ·

Seker nie toevallig dat daai uitrusting van haar soos die hoof-nar s’n lyk nie…. sirkus clown en sy dink ons is stupid

Genis ·

Daai foto spreek boek dele.. Lekker ver gevreet op die sous treine… en arme SA belasting betalers betaal… Dis diefstal as jy my vra… CR your people man?

Kokerboom ·

Die Tesourie doen nie hul werk om oudits te laat uitvoer. Dis ‘n absolute skande dat die kader skepsel so carte blanche kan voortgaan. Is die betrokke Minister verantwoordelik vir die premiers dan so afwesig en onbetrokke? Elkeen van “besighede ” wat geskep het moet asb ondersoek word vir opgeblase tenders!!!

Hoekom ·

Wanneer leer ons dat die ANC nie omgee om te lieg nie. Hulle gee nie om vir die land nie, hulle lojaliteit le net by die ANC…

4ntj13 ·

Beloftes om nie ʼn sent te mors nie? Hulle sal seker besnoei na R7miljoen per maand vir partytjies. Nogal in Covid-tyd ook!
Ek dink hul geld-kraantjie moet onmiddelik toegedraai word en hulle kan elk ʼn graaf kry as betaling maandeinde, om verder mee te werk. Hulle is dekades agter met werk, dus GEEN partytjies verder nie. Ek sal help koffie aandra as die paaie beter begin lyk en die waterkrisis en ander probleme almal opgeklaar is. Dus hoef hulle nie eens koffiegeld te kry nie!

Tokkel ·

Lekker om Fat Cats te wees op die soustrein…terwyl die armes nog armer word en dan praat die fat cats ander taal oor die televisie en radio hoe jammer hulle die armes kry….

Jakes ·

Slaan my met n vaak vis. Geen einde aan hierdie mense se kapperjolle nie.

Johann ·

Solank hulle skaamteloos daarmee wegkom gaan hulle aanhou! En ek dink rerig nie hulle het ‘n begrip vir of van wat n miljoen is nie? Nevermind MILJOENE!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.