Vrystaatse regering gedreig oor onbetaalde beursgeld

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

AfriForum Jeug het Dinsdag ’n prokureursbrief aan die Vrystaatse provinsiale beurskantoor gestuur om te eis dat hy een van die Vrystaat se 100 topmatrieks van 2021 se toegekende beurs uitbetaal.

Maryke du Pisanie het ’n staatsbeurs ontvang om fisioterapie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te studeer. Elkeen van die 100 topmatrieks in die provinsie ontvang ’n volle beurs van die Vrystaatse regering.

Sy het telkemale die beurskantoor gekontak om haar beursbrief of uitbetaling te ontvang, maar kry geen reaksie nie. Die UV het ook bevestig dat haar naam nie op die lys van die beursontvangers verskyn nie.

Maryke se suster het in 2018 dieselfde beurs ontvang. Haar pa, Pieter du Pisanie, beaam dit. Die suster het ’n amptelike brief van die departement ontvang waarin hulle bevestig dat hulle onderneem om die beursgeld te betaal. Die brief het ook uiteengesit watter uitgawes die beurs alles gaan dek.

Maryke het egter nie so ʼn brief ontvang nie. “Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het by die prysuitdelinggeleentheid van die 100 topmatrieks egter onderneem dat die studente die beurse wel gaan ontvang,” vertel Pieter aan Maroela Media.

“Hierdie jaar is dit totaal en al net chaos. Ons is onseker en weet nie wat aangaan nie. En ons kry geen antwoord van die beurskantoor nie.”

Pieter sê hulle het finansieel staatgemaak op die beurs. “Ons is nou in die donker gelaat. Ons weet nie wat volgende gaan gebeur nie – of die beurs wel gaan uitbetaal of nie. Dit plaas druk op Maryke wat al haar fokus nou op haar studies moet sit.

“Ek voel Maryke werk hard en verdien hierdie beurs.”

AfriForum Jeug het ingespring om Maryke te help nadat hulle reeds ’n ander student aan UV gehelp het wat in dieselfde posisie as sy was.

“Ons jong mense is gereeld die slagoffers van onregverdigheid met betrekking tot beurse en AfriForum Jeug sal dit nooit aanvaar nie. Ongeag of hierdie onreg plaasgevind het as gevolg van rasse- en ander kriteria, of bloot as gevolg van wanadministrasie, dit bly onaanvaarbaar,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Volgens Van der Vyver ervaar Maryke en haar ouers geweldige druk van die universiteit om haar studiegeld te betaal, hoewel sy hard gewerk het om dié gesogte beurs te ontvang.

“Boonop bestee sy geweldig baie tyd daaraan om die beurskantoor te kontak vir terugvoer terwyl sy eerder tyd kon bestee aan haar akademiese verantwoordelikhede.”

AfriForum Jeug nooi ander studente, wat in dieselfde posisie is, om die organisasie om hulp te nader by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Madz

Laat ek raai….. al die BEE kandidate het wel HULLE beurse ontvang…?