Vrystaatse vrou in plaashuis oorval, beroof

(Argieffoto: Maroela Media)

Verdagtes het vandeesweek ’n bejaarde vrou in ’n plaashuis in die Vrystaat oorval en só hardhandig behandel dat haar valstande byna in haar keel beland het toe daar lappe in haar mond gedruk is.

Jan van Niekerk, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, sê aan Maroela Media Peet Brits (76) en sy vrou, Magdaleen (72), woon op ’n plaas tussen Harrismith en Memel, sowat sewe kilometer noord van Verkykerskop.

Peet was Dinsdag pas uit die huis om ’n draai by die landerye naby die huis te maak toe drie verdagtes Magdaleen omstreeks 10:45 in die plaashuis oorval het. Minstens een van die verdagtes het vantevore vir die egpaar gewerk, terwyl ’n ander een verlede week gebel het op soek na werk.

Volgens Van Niekerk het een van die verdagtes Magdaleen se hande en voete vasgebind en toe lappe in haar mond gedruk. ’n Voorwerp is ook oor haar kop getrek terwyl een van die ander verdagtes na die slaapkamer gegaan het, op soek na ’n kluis se sleutel. Die verdagte het die sleutel opgespoor en vuurwapens uit die kluis gesteel.

Die derde verdagte het vermoedelik ten tyde van die voorval buite die huis gewag waarna al drie sowat tien minute later te voet met drie vuurwapens, drie selfone en kontant laat spaander het.

Magdaleen kon daarin slaag om haar hande los te wikkel en hulp te ontbied.

Volgens Van Niekerk het boere in die omgewing saam met verskeie polisiebeamptes na die verdagtes begin soek. Een van die verdagtes is in die veld op ’n buurplaas gevind terwyl ’n ander homself oorgegee het toe daar met twee privaat vliegtuie en ’n helikopter na hom in ’n nabygeleë mielieland gesoek is. ’n Polisiehelikopter is ook gedurende die soektog ingespan.

Die derde verdagte is in dié stadium steeds soek. Dit is dié verdagte wat verlede week by die Brits-egpaar werk gesoek het.

Van Niekerk sê hoewel daar vantevore plaasaanvalle en plaasmoorde in die gebied was, is die aanval op Magdaleen die eerste een in ’n paar jaar.

“Dié plaasaanval beklemtoon die noodsaak vir doeltreffender landelike beveiliging, doeltreffende plaaslike veiligheidsnetwerke en goeie samewerking met die polisie,” meen Dévar Smit van die VF Plus in die Vrystaat.

Volgens Smit is plaaslike gemeenskappe weerloos wanneer dit by aanvalle van dié aard kom. “Die VF Plus moedig alle boere aan om in te skakel by gemeenskapsveiligheidsnetwerke om vinnig reaksie en hulp te kry in gevaarsituasies. In die stryd om veiligheid op die platteland moet boere nie bloot op hulself aangewese wees nie.”

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê ’n saak van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Werner ·

Terrorisme onder die vaandel van huisroof hoe kan daar goeie samewerking tussen die boere en polissie wees as polissie die terroriste beskerm deur afgewaterde sake oop te maak dan wys dit mos daar is klaar geen samewerking

Cherokee ·

Vind uit by iemand wat weet, wat die klag ‘huisroof’ beteken. Soos dit reeds in hierdie forums verduidelik is, is dit nie ‘n afgewaterde klag nie. Vra jouself af of diefstal en roof dieselfde is, en indien nie, span jou verbeelding in en werk die verskil self uit.

Michael ·

Ek voel baie jammer vir die mense maar weereens het hulle vir die aanvallers wapens gegee om ander mense dood te maak.Die wapens wat altyd in n kluis toegesluit word op die plase maak van die inwoners sagte teikens en die aanvallers weet dit.

ElizeK ·

Michael, kan jy vir ons sê waar moet die mense hulle wapens hou asseblief.

Gerd Lourens ·

Wees paraat! Dra die wapens te alle tye by jou. En weet hoe om dit aan te wend. Dis absoluut nutteloos in die kluis.
Beveilig jou huis. Hou deure gesluit.
VERTROU NIEMAND NIE!!!
Ek dra my wapen elke dag en woon gereeld skietoefeninge by.
Ouderdom maak nie saak nie, indien jy weet hoe om jou wapen te gebruik.

Michael ·

Aan hulle ,wat is die doel van n wapen ,praat nie van jaggewere nie om n wapen vir selfbeskerming in n kluis toegesluit te hou is nie slim nie

Anel ·

Wat van poging tot moord! As ons net skeef kyk na een van hulle is dit poging tot moord. Die tannie kon dood gewees het!

FM ·

Dis goeie nuus dat die gemeenskap so gou reageer het en die booswigte vasgetrek het. Wanneer gemeenskappe saamwerk word dit minder interessant vir daai swerkaters. Ons moet dag en nag waaksaam wees.

gatgogga ·

Netso, en dis broodnodige oefeninge vir paraatheid – wat elke dag meer nodig raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.