Vrystaters raadop oor rybewyse

Mense staan in toue by die Brandfort-toetssentrum (Foto: Verskaf)

Talle Vrystaatse inwoners is raadop oor die talle uitdagings wat hulle met die hernuwing van hul rybewyse te bowe moet kom. Behalwe dat sommige toetssentrums sommer dae lank gesluit word, moet motoriste dikwels in lang toue wag weens ʼn beperkte getal amptenare om mense te bedien.

Motoriste met bestuurslisensies wat reeds tussen 26 Maart en 31 Desember verlede jaar verval het, het kans tot 31 Augustus om dit te hernu. Maroela Media het vroeër berig die regering het reeds die grasietydperk verlede jaar tot die einde van vandeesmaand verleng en het aangedui dat nie weer verleng gaan word nie.

Motoriste wat geraak word, het dus twee weke om hul lisensies te hernu.

ʼn Inwoner van Bloemfontein het aan Maroela Media vertel sy, haar man, ʼn kollega van haar man en dié se vrou, wie se lisensies in Mei verlede jaar verval het, probeer al vir byna ʼn jaar lank hul rybewyse op verskillende dorpe in die Bloemfontein-omgewing hernu.

Hulle is onverrigter sake weggewys, onder meer omdat die sentrums slegs ʼn sekere getal mense per dag help, of omdat die sentrums slegs beperkte kantoorure het. Hulle moes ook talle kere in ellelange toue staan omdat daar ʼn personeeltekort by die sentrums is. Voor gekom, is hulle glo ook weggewys.

Die groep het verlede Woensdag na Brandfort, Theunissen, Virginia en Welkom gereis om hul lisensies daar te probeer hernu.

“Ons het die dag spesiaal verlof ingesit om ons rybewyse te hernu. Ons het vroeg by die toetssentrum in Brandfort aangekom. Daar was omtrent 30 mense wat al in ʼn tou gestaan het om gehelp te word. Al die mense kon egter nie gehelp word nie omdat daar ’n tekort aan vorms en drukwerk was,” het die inwoner vertel.

Brandfort se toetssentrum is glo slegs van Maandag tot Woensdag tussen 08:00 en 11:00 oop.

Die vier is daarna na die toetssentrum op Theunissen waar die personeel reeds omstreeks 10:00 die hekke gesluit het. Daar was op dié dag glo geen water by die sentrum nie.

“Ons is daarna na Virginia, waar daar ʼn lang tou mense was en slegs een personeellid agter die toonbank. Die mense in die tou het nie eers beweeg nie. Hierna is ons Welkom toe. Daar het die personeel aangedui hulle help net ʼn sekere hoeveelheid mense en ons sou nie daardie dag gehelp word nie.”

Die inwoner sê behalwe dat hulle raadop is, het hulle ook groot bedrae geld aan brandstof en tolhekke bestee om op verskillende dorpe te probeer regkom. Sy sê hulle moet ook elke keer onbetaalde verlof neem.

“Ons stres dat ons lisensies nie betyds voor die einde van die maand hernu gaan word nie.”

ʼn Ander inwoner van Bloemfontein, wat ook anoniem wil bly, het vertel sy was al sewe keer na die toetssentrum in Bloemfontein om haar lisensie te hernu. Sy is nog steeds nie gehelp nie.

Van die sentrums in die provinsie is weens Covid-19 ook verskeie kere gesluit.

Die VF Plus het die Vrystaatse waarnemende LUR vir polisie, paaie en vervoer, Mamiki Qabathe, en die waarnemende hoof van dié departement, Mosa Tlali, dringend versoek om die kantoorure by Vrystaatse toetssentrums te verleng om motorbestuurders in staat te stel om betyds hul bestuurderslisensies te hernu.

Volgens Armand Cloete, VF Plus-raadslid, word die VF Plus met klagtes oorval rakende die kantore wat vir dae en in sommige gevalle selfs weke gesluit was, toetssentrums wat ʼn tekort aan vorms het en drukwerk wat nie gedoen kon word nie.

“Die Vrystaat het uitdagings regoor die provinsie se toetssentrums beleef, met beperkings op die hoeveelheid persone wat per dag gehelp kan word en nie genoeg personeel om dié proses te hanteer nie. Hierdie situasie het bygedra tot ʼn enorme agterstand met vervalde lisensies,” het Cloete gesê.

“Beperkte kantoorure, uitdagings met infrastruktuur en hulpbronne asook streng Covid-19-regulasies strem die aansoekproses en veroorsaak dat baie bestuurders nie betyds hul aansoeke kan indien nie.

“Hierdie voorgestelde maatreëls sal bestuurders aanmoedig om hul bestuurderslisensies wettiglik in die beskikbare tyd te hernu. Dit sal ook lang rye en ʼn verwagte stormloop by toetssentrums beperk dae voor die sperdatum.”

Die departement kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Bernard ·

Versekeringsimplikasies as jou rybewys verval het. Tyd vir tien jaar-geldigheid..

Anel ·

Tyd dat lisensieskaarte weer lewenslank geldig is. Die is net ‘n geldmaak storie veral in hierdie onbevoegde land van ons. Onthou, dis net die kaart wat verval en nie die lisensie self nie.

Deon ·

My bestuurderslisensie het al 2 jaar terug verval. Het gister in Knysna gaan hernieu. Was sowat 45 minute in die lyn . R145 vir tydelike lisensie

Pieter ·

Ons sit mos met ANC menisters wat enige werk kan doen. Die land is om van op te gooi.

Peach ·

Pieter, hoekom so swartgalig….. dinge moet eers versleg voor dit beter word….. hou moed ou maat.

ES ·

Peach, dit versleg al vir 27 jaar – meer as ‘n kwarteeu – wanneer gaan dit “beter” raak?

Mieke ·

Ek glo daar is ‘n tyd vir alles. En ‘n tyd vir die ANC om te val…. en ‘n tyd vir ‘n beter toekoms vir almal… maar ons gaan eers deur die vuur moet gaan.

SjN ·

Afrika tyd, more is nog n dag, Gaan nou seker op Sondae werk. Double pay. Probleem opgelos.

Peach ·

SjN, dit klink na ‘n blink plan….. stuur voorstel deur na Fikile Mbalula….. ons werkers kan doen met ‘n paar ekstra ponde.

Pieter ·

In hierdie geval verwys na Winnie Mandela dorp in plaas van Brandfort. Winnie Mandela is sinoniem met hierdie verval en swak dienslewering.

Hennie ·

Tyd vir n hofsaak om die swak regering te dwing om hulle werk te doen…Solidariteit?

ES ·

Hennie, ongelukkig kan mens nie die regering dagvaar nie. Uitvoerende besluite wat deur die president en die ministers gemaak word, is kwytgeskeld vir dagvaarding deur ons Konstitusie…

Klipkop ·

Die situasie is baie erger.Brandfort hernu net Maandae en Woensdae jou lisensie.Geen ander dae nie.Mense staan in wintersoggende 6h00 al tou voor hekke wat 8h00 open.9h00 word hekke gesluit en mense huistoe gestuur.Net diegene dan binne is word gehelp.Mense kom in groot getalle van Bloemfontein om by hierdie klein kantoortjie gehelp te word waar net 1 op ‘n slag gehelp word.Daar is vir meer as ‘n jaar al geen telefoon wat werk nie.Kantoor is gereeld gesluit weens netwerk probleme.My 78 jarige ma moes 4 keer 6h00 soggens in die tou kom staan weens probleme aan hul kant.My seun in 2019 in matriek sy leerlinglisensie gekry.Matriek was te besig en 2020 is hy Pretoria toe vir studie.Toe kom Covid.Sedert Jullie is ons 4 keer Hartswater toe na ‘n vriend wat ‘n ryskool het.Brandfort toets nie vragmotorlisensies.4 keer het ons verniet gery Hartswater toe.Dan is die stelsel af,dan iemand ons afspraak gekanselleer, dan verkiesing.Sy leerlinglisensie het Feb. verval.Moes weer gaan vir afspraak

Klipkop ·

My kommentaar bietjie lank maar gaan voort.Toe hy opdaag om te skryf is hekke en kantoor gesluit.Personeel het Covid.Halfuur later daag persoon op wat sê hulle sal op selfone in kennis gestel word wanneer om te kom skryf.Na ‘n maand staan ons weer tou en doen navraag.Hulle sê hy het nie opgedaag om te skryf nie.Ontken selfs dat hulle gesluit was. Ons moet ander dag weer vroeg kom tou staan vir afspraak.Weer verlof insit by die werk. Weer betaal.Weer oogtoets. Weer kom toustaan te skryf. Intussen my vriend sy vragmotors en ryskool verkoop. Nuwe probleem waar ons nou gaan toustaan om gehelp te word.Dan wonder ons hoekom daar so baie bedrog.Ek hoor gereeld nog hoe lisensies gekoop word.Ons wetsgehoorsames word gestraf.So werk SA mos.

JohnnyS ·

Ons moet ophou verwys na die rybewys wat verval het. Jou rybewys veral NOOIT. Dit is die kaart wat as bewys dien wat verval, en daarvoor kan jy NIE aangekla word nie. Die padverkeerswet bepaal baie duidelik dat dit nog steeds as bewys aanvaar MOET word. Het al twee keer dagvaardigings by oningeligte, onbevoegde beamptes gekry, en beide is summier deur die senior staats aanklaer terug getrek.

ES ·

Dankie Johnny, dis goed om te weet ingeval dit dalk met my sou gebeur.

Nozi ·

Ek verstaan nie, my lisensie het ook in hierdie tydperk verval. Ek het dit gaan hernu en het my nie eers ‘n uur gevat nie toe is ek klaar en 4 weke later het ek my kaartjie gaan afhaal by verkeersdepartement. Dit is omdat almal mos nou wil wag tot op die nippertjie.

Klipkop ·

Kom Brandfort toe dan sien jy.Almal wag nie tot op die nippertjie nie.Mense kan nie bly werksverlof neem vir ‘n staatsdiens se onbevoegdheid en onwilligheid nie.Jy het ongelukkig nie ‘n idee wat aangaan nie.

Bosvelder ·

Waar was dit gewees? Ek is bereid om verlof te vat en vir die dag soontoe te ry.

Blikkies ·

Ek stem nie saam met daardie Minister nie. As hulle eie staats departmente so krities vervalle is kan hulle mos nou nie die publiek dwing aan ‘n tyd lyn te hou deur hulle eie onvermoëns nie. As jou lisensie verval beteken dit mos nie jy weet nie meer hoe om te bestuur nie? die hernuwing is slegs ‘n administrasie proses om die lisensie kaartjie weer op datum te bring.

Misky ·

Ek gaan tans deur dieselfde proses om my en my seun se id kaart te kry in Durban omgewing. Laasjaar Okrober begin en steeds onsuksesvol. Covid het nou die verskoning geword vir onbevoegdheid.

Chantel ·

Altyd ‘n ou verskoning, voor COVID was die diens net so swak.

Vernon ·

Ag dit bly maar n hopelose,lui en onbekwane spul…..solank hulle net “pay” kry is die saak reg.

Natasha ·

In Centurion kan jy nie eens n afspraak kry tensy jy n bestuur skool betaal vir een nie. As jy my vra is dit snert en kan net beteken dat dit nou weer n opkopery is.

Erica ·

Jip ek bly in centurion. Nog geen oop spasie vir 4md. Ek moes maar Brakpan toe gaan. Kyk of jy afspraak daar kan kry. Nou nie die vrienlike plek nie maar dit vat so 2ure om alles te doen met afspraak en al

Anoniem ·

Dit is absoluut belaglik. Nie een Verkeerskantoor antwoord ‘n telefoon nie, dit sluit die omliggende verkeersdepartemente van Bloemfontein in.
In Bloemfontein laat hul net die eerste 100 by die hek in. Jy skryf jou naam op ‘n papier vir die
volgende dag, jammer die volgende dag is dit weer presies dieselfde.
Ek het moed opgegee.

Emma ·

Dis oral so, selfs hier in Port Elizabeth. Ek sukkel al 3 maande en moet ook af vat by my werk. Elke keer is daar iets fout. My lisensie verval in Oktober. Ek het weereens aanlyn my volgende afspraak gemaak vir 30 Sept.(hulle het beperkte datums beskikbaar)as ek daardie dag nie gehelp word nie, sal ek eerlikwaar nooit weer my lisensie hernu nie. Dis die staat se skuld dat wetsgehoorsame mense begin wette oortree.

Smoothie ·

Moenie Raadop Wees Oor Rybewyse in die Vrystaat nie! Mense sal nog steeds Bestuurlisensies kan hernieu, al is dit na Augustus 2021. Die nuwe Minister van Gesondheid wil nie Covid 19 Vlak 3 na Vlak 2 verskuif nie, aangesien meer mense, nie ingeënt word nie. Dit laat Rybewyskantore geen ander keuse om net 180 per groot kantoor toe te laat nie. Departement Arbeid beperk ook mense per kantoor. Water, kragonderbrekings, stakings deur Verkeerspersoneel laat mense raadop, maar probeer net volgende dag of die volgende week. Meer mense gaan van die koue dood, so dit regverdig nie die doel nie. Covid is ‘n longaantasbare siekte. In die Vrystaat kos ‘n Bestuurslisensiekaart R186 en ‘n tydelike Bestuurslisensie R48, so baie goedkoper as Knysna in Suid-Kaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.