Vrystaters sit vyf dae sonder water

Argieffoto: Wikimedia

ʼn Beton-pyplyn naby De Hoek-opgaardam het op 16 November gebars en inwoners van Dewetsdorp en Wepener het vyf dae sonder water gesit.

Die Demokratiese Alliansie het verlede week ʼn mosie in die Mangaung-metroraad gebring en eis verbeterde dienslewering en die opgradering van infrastruktuur in die metro. “DA-raadslede in die gebied moes inwoners in kennis stel dat die water as ʼn noodmaatreël afgesluit gaan word weens die gebarste pype, aangesien die Mangaung-metro versuim het om met sy inwoners te kommunikeer oor die saak,” het DA-raadslid Eddie Rasseou in ʼn verklaring gesê.

“Eers Saterdagaand, twee dae nadat die water afgesluit is, het adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, begin om watertenks beskikbaar te maak in die betrokke woonbuurte. Die noordelike opgaardamme is ook geraak, weens die wanbestuur van die krisis in die suidelike woonbuurte. Die DA het vanoggend klagtes ontvang van inwoners dat geen water in Pentagonpark beskikbaar is nie.”

Die DA doen ʼn beroep op die ANC-beheerde munisipaliteit om dadelik ʼn plan in werking te stel om die krisis te bestuur. “Ons doen ʼn beroep op die munisipaliteit kragtens artikel 152 van die Grondwet wat bepaal dat inwoners die reg het op ʼn verantwoordbare regering, ʼn veilige en gesonde omgewing en doeltreffende dienslewering.”

Intussen het die VF Plus gesê Bloemwater mag nie die inwoners van Bloemfontein in die Mangaung-metro finansieel verantwoordelik hou vir ‘n verlies aan inkomste gedurende die vyf dag lange waterkrisis wat die stad tans ervaar nie.

Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metroraad, het gesê die verlies aan inkomste weens die waterlekkasies en water wat gedurende die krisis aan inwoners by waterpunte verskaf is, is vir die watervoorsiener, Bloemwater, se rekening. “Die soveelste watertekort in Bloemfontein die afgelope paar jaar vind plaas te midde van gevaarlike lae damvlakke en ‘n droogte. Gebrekkige instandhoudings deur die metro se waterverskaffer, Bloemwater, dra by tot die waterkrisis wat die stad die afgelope week lamgelê het,” het sy gesê.

Die VF Plus sal vrae aan die burgemeester, Olly Mlamleli in die Mangaung-metroraad vra om uit te vind wat die kostes van die afgelope waterkrisis beloop. “Ons wil weet hoeveel water verlore gegaan het, wat die finansiële implikasie van die krisis vir Bloemwater sal wees en of belastingbetalers verantwoordelik gehou sal word vir Bloemwater se onvermoë om die waterinfrastruktuur in stand te hou. Gebrekkige of verouderde waterinfrastruktuur is net nie meer ‘n aanvaarbare verskoning vir die metro se voortslepende waterprobleme is nie.”

Snyman van Deventer voeg by inwoners spaar reeds water soos deur die nasionale departement van waterwese voorgeskryf word en betaal ook verhoogde watertariewe as besparingsmaatreël. “Die vuisvoos verbruiker mag nie verantwoordelik gehou word vir Bloemwater en die Mangaung-metroraad se onvermoë om volhoubare waterdienste en infrastruktuur te verseker nie. Die VF Plus sal ook in die metroraad vra vir ‘n oudit van waterinfrastruktuur om te bepaal wat die tekorte aan waterinfrastruktuur in die metro is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

HPV ·

Bankrot metro. Vuilste metro. Onbevoegste metro. Nou ook waterlose metro. Waar? Mangaung metro!

Esther van Biljon ·

Dit baie erg om vyf dae sonder water te wees, en wil net se as dit vir Radio Rosestad wat mense ophoogte gehou het van die water situasie nie, sou daar nie baie mense geweet het wat gaan aan nie. Weet nie waarom stem jy nog vir politieke partye, want daar word nie na jan publieke gekyk nie, maar boeta as hul jou stem nodig het, dan kry jy elke dag n sms. So ek glo geen politieke party meer nie, en stem nie weer nie. En die ergste, skaars was die water terug of daar weer n lekasie en wonder hoelank nou weer sonder water. En dan moet jy nog betaal ook, en moenie dink jy kan weier nie, oooo probeer dit net.

:-) ·

Dis nou die ANC se beter lewe vir almal….mense wat in lang toue by watertenks moet staan met houers om te wag vir water! Wat ‘n grap!

Apartheid ·

Apartheid se pype wat nou bars. Ja, regtig, want daar is heelwat asbespype wat nou na 30/40 jaar tot niet is. Ook op Evander is daar dieselfde probleem. Waar hierdie pype gelê is is van die terreine ook bykans onbereikbaar. Tog verstout ek my dat daar, glo ek, geen geld gespaar is vir die vervanging van hierdie pype. Nou is ‘spoeg en plak’ aan die orde van die dag.

Johannes van Staden ·

Die anc se sogenaamde ” good story ” hehe is eintlik n ” good mess ”

Ekke ·

Vanderbijlpark sonder water van Vrydag aand. En dit omdat Randwater nie gou genoeg betaal is nie. En dit is ook nie die eerste keer nie. ELM probeer om kabel diefstal die skuld te gee elke keer.

Vanderbijlparker ·

Ons in Vanderbijlpark is tans op dag 5 sonder water.Ek wil net weet,wat van mense wat nie kan bekostig om water te koop nie,vir baie mense is R20 dalk nie baie geld nie,maar daar is oumensies,en ook behoeftiges wat nie R20 het om water te koop nie,daar word nie aan ons water voorsien nie.En dit alles omdat Emfuleni nie hulle skuld aan Randwater betaal nie,en ons Burgermeester (wat nou skielik bedank het) agre 14 jarige meisie aanvoeter.

Ronel ·

Dele van Kroonstad middedorp sit nou vir dag 2 sonder water

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.