Vrystelling van matriekuitslae goedgekeur

Argieffoto

Argieffoto

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, het Donderdag gesê hy keur die “geloofwaardige” matriekuitslae van 2016 goed.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal op 4 Januarie die matriekuitslae bekend maak en matrikulante sal op 5 Januarie hul uitslae aanlyn kan kry of by hul skole kan afhaal.

“Ons streef steeds ʼn hoëgehaltestandaarde-stelsel na in die belang van Suid-Afrikaanse leerders,” het prof. John Volmink, voorsitter van die Umalusi-raad, tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê. “Die raad is ten volle bewus daarvan dat sommige van ons leerders oorweldigende moeilikhede moet oorkom om ʼn kwalifikasie te behaal, veral die graad 12-eksamen.”

Volmink het gesê namens die raad wens hy alle leerders geluk wat hierdie jaar aan die eksamen deelgeneem het, asook hul onderwysers, ouers, voogde en persone wat die leerders ondersteun. “Vir diegene wat nie suksesvol is nie, is daar weer ʼn kans in 2017. Werk dus hard en doen goed, ons wens julle alles van die beste toe vir 2017.”

Vanjaar se matrieks is die derde graad 12-klas wat hul finale eksamen afgelê het onder die nuwe leerplan, die kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring (Caps).

Volmink het laat blyk daar was sommige besware in die 2016- eksamen-uitslae.

“Alhoewel daar talle vakke is waar leerderprestasie van jaar tot jaar fluktueer, moet ons wiskunde uitsonder as een van die sleutelvakke waar die naald die afgelope paar jaar nog nie beduidend geskuif het nie,” het hy gesê. “Dit is inderdaad kommerwekkend dat wiskundegeletterdheid sedert 2004 ook nou saam met wiskunde, ʼn leergebied is waar leerderprestasie kritiek laag is.”

Volmink het gesê in 2016 het die eksamenstelsel ʼn “ongelukkige voorval” gehad toe ʼn vraestel in Limpopo uitgelek het wat ook na Gauteng oorgespoel het. Hy het gesê daar is bepaal dat nie meer as 100 leerders hierby betrek word nie.

“Umalusi bedank die departement van basiese onderwys vir die vinnige en beslissende optrede wat geneem is om dit te beperk,” het Volmink gesê. “Die besluit is geneem dat dit nie nodig is om ʼn hereksamen te hou vir die wiskunde vraestel 2 nie. Die departement van onderwys in Limpopo se nienakoming van die sekuriteitsmaatreëls moet egter binne die volgende eksamensiklus aangespreek word. Umalusi is baie besorg oor dié neiging en is van mening dat daar sterk opgetree moet word teen die betrokke leerders en beamptes.”

Volgens Volmink sal Umalusi gevolglik nie die uitslae van al die betrokke leerders bekend maak nie. Die ondersoek duur voort.

Hy het leerlinge oor Suid-Afrika heen ook gewaarsku om nie af te skryf nie.

Eksamenuitslae wat minister Angie Motshekga in Januarie vanjaar bekend gemaak het, wys dat Suid-Afrika se 2015 slaagsyfer op 70,7% gestaan het, ʼn afname van 5% in vergelyking met die slaagsyfer van 75,8% in 2014.

Die Wes-Kaap was die provinsie wat die beste presteer het, en het ʼn slaagsyfer van 84,7% behaal, gevolg deur Gauteng met 84,2%. Die Vrystaat het 81,% behaal.

Matrieks kan nou registreer om ʼn SMS te ontvang wanneer hul uitslae gratis op Maroela Media beskikbaar is. Klik hier om te registreer: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/matrieks-2016-registreer-om-kennisgewings-te-ontvang/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wimpie ·

Was daar dalk aanduiding in die nuuskonferensie watter vakke se punte aangepas is?

Lizelle Cronje ·

Wanneer word matriekuitslae vrygestel?
Julle berig sê die 4 de Januarie maar SABC News sê die 5 de Januarie?

Sune van Heerden ·

Dagsê Lizelle

Na verwagting word die uitslae op 4 Januarie bekend gemaak. Dit is moontlik dat nie alle provinsies op dieselfde dag bekend gemaak gaan word nie.
Hou Maroela Media gerus dop, ons sal dit publiseer sodra dit aangekondig word.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Richelle ·

Hi daar.

Daar was vir my gesê dat ons uitslae die 3de 12uur daai aand sal verskyn . Ek weet nie of dit so is nie. Ons almal is al so op ons senuwee. Kan iemand my asseblief sê wanneer die springs skole se uitslae sal verskyn,daar is so baie datums geen mens sal ooit regtig weet nie. Alles is deurmekaar. Laasweek op die nuus het dit gese die 5de.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.