Vrywaringsvorm teruggetrek vir polisielede wat entstof weier

Talle polisielede was hoogs ontsteld oor die vorm. (Foto: SA Polisie)

Die polisie het ʼn vrywaringsvorm teruggetrek vir beamptes wat weier om die Covid-19-entstof te ontvang.

Talle polisielede was hoogs ontsteld oor die vorm wat onder meer bepaal dat die beamptes wat die vorm onderteken die polisie vrywaar teen enige eise, verlies, beserings, skade of dood wat kan voorkom en wat regstreeks spruit uit die beampte se besluit om nie ingeënt te word nie.

Renate Barnard, sektorkoördineerder van die openbare sektor by Solidariteit, sê die vorm was volgens ʼn regsmening wat die vakbond ingewin het, “ongrondwetlik en onwettig” in die huidige formaat. Dit is waarskynlik ook die rede waarom die polisie dit teruggetrek het.

Barnard sê as daar gekyk word na ʼn e-pos wat die polisie vandeesweek oor die vorm uitgestuur het, gaan ʼn nuwe brief waarskynlik geformuleer en uitgestuur word.

“Polisielede is baie bekommerd en weet nie altyd watter keuses hulle het om te maak nie. Solidariteit is pro-keuse wat betref die Covid-19-entstof, en ʼn werkgewer kan jou nie dwing om dit te ontvang nie,” sê Barnard.

Sy sê dit is belangrik dat mense ingeligte besluite maak, maar dat daar wel voordele aan die entstof is.

Mense kan egter onder meer op grond van die reg op liggaamlike integriteit, asook weens godsdienstige oortuigings, besluit om nie die entstof te ontvang nie.

Gerugte dat die weiering van entstof tot die opskort van ʼn polisiebeamptes se pensioen- of mediesefondsvoordeel kan lei, het soos ʼn veldbrand versprei en groot paniek veroorsaak.

Maar Barnard sê dit is gewoon nie waar nie.

“Die pensioenfonds is in jou dienskontrak met die staat vervat en dit het niks met die Covid-19-entstof te doen nie. Dit kan nie net weggeneem word nie.”

Sy sê Covid-19 is een van die minimum voorgeskrewe voordele by Polmed, die mediese fonds vir polisiebeamptes, en solank as wat iemand ʼn opbetaalde lid is, word eise ingevolge gewone prosesse hanteer – of jy ingeënt is of nie.

Daar mag ook nie gediskrimineer word teen enigiemand wat besluit om nie die entstof te ontvang nie.

Die Wet op die Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Coida) beskerm werkers se regte boonop verder, onder meer teen afdreiging en beïnvloeding om van vergoeding afstand te doen.

Lesiba Thobakgale, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisieunie (Sapu), sê die vakbond het nooit met die polisie op ʼn vrywaringsvorm ooreengekom nie.

“Ons sal nooit instem tot iets wat ons lede van hul regte ontneem nie.”

Hy sê daar is intussen met die polisie vergader en die vorm is onttrek.

Thobakgale sê as “verantwoordelike vakbond” moedig hy egter sy lede aan om die entstof te ontvang, maar die keuse om dit wel te doen, berus by die individu.

“Ons kan hulle net aanmoedig om hulself, hul kollegas en gemeenskappe te help beskerm.”

Die polisie het nog nie op ʼn versoek om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

Vra asb vir die manne /vroue wat nie die teenmiddel wil neem nie , om ook hospitaalbehandeling te weier as hulle sou covid opdoen. !!

Heinrich ·

So wat jy basies sê is dat daar 100% sukses is met hierdie eksperimentele doepa (want dit kwalifiseer nog nie as ‘n vaksine nie), daar absoluut geen newe effekte of sterftes as gevolg hiervan in die wêreld aangemeld is nie, dat die nuwe variante geen effek op jou gaan hê as jy ingeënt is nie? Wat van mense wat ingeënt is en nog steeds gehospitaliseer moet word, het hulle dan meer regte?

Johan ·

Gee dit maar nog 2jaar of so, Koos. Jy gebruik die mRNA behandeling (nie inenting nie) 100% op jou eie risiko, wat insluit dat daar geen waarborg is teen defekte van die produk nie! Ek gaan nie te gou op daai wa klim nie….maar jy is meer as welkom, dis jou volste reg.

Fritz ·

Soortgelyk aan vet mense wat hospitaal behandeling moet weier as hulle hartsiektes opdoen?

Johan ·

My Ma het gister v die inspuiting gegaan die sy voel baie beter oor die lewe, so dit help ten minste vir die ongegronde vrees en paniek. As dit die ou tanie doodmaak, was dit haar keuse. Terloops as ek die vrees so sien wonder ek waar is die gelowiges? Is die wêreld regtig so great? Dalk kan iemand dit v my verduidelik.

Jack ·

Nog deel van die afdreigende houding van cele en die anc. Maak soos ek se of.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.