‘Vrywillige afsondering’ vir oues voorgestel oor Covid-19

Johannesburg (13 April 2020) (Foto: AP Photo/Jerome Delay)

Dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het Maandagaand regstreeks ʼn gesprek met kenners gevoer oor Covid-19.

Mkhize het gesê meer as 1,8 miljoen gevalle van die nuwe koronavirus is reeds wêreldwyd aangemeld met 117 569 sterftes.

In Suid-Afrika is 83 663 toetse reeds gedoen waarvan 2 272 persone positief getoets het vir die virus en 410 persone herstel het. Teen 13 April is 27 sterftes in Suid-Afrika aangemeld.

Die epidemioloog prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële raadgewende komitee, het gesê Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk se trajek van die verspreiding van die virus was aanvanklik dieselfde, maar sedert 26 Maart het Suid-Afrika se trajek afgeneem, waarskynlik weens die afsonderingsperiode wat ingestel is.

Hy het verduidelik dat epidemioloë kyk na die Rₒ-koers van ʼn virus. Dit word bepaal deur die hoeveelheid ander persone wat besmet word indien iemand die virus opdoen. As een persoon slegs een ander persoon aansteek, dan is daar ʼn geleidelike groei in die verspreiding van die siekte. As een persoon meer as een ander persoon aansteek, dan groei die virus baie vinnig en as een persoon minder as een ander persoon aansteek, dan neem die pandemie af. “In Suid-Afrika is dit tans een ander persoon wat aangesteek word, en dit is hoekom ons ʼn geleidelike groei sien,” het Karim verduidelik.

“Dit is die doel van al die regulasies wat ons ingestel het soos sosiale distansiëring, handewassery en algehele afsondering.”

Karim het benadruk dit is hoogs onwaarskynlik dat Suid-Afrika die pandemie en ʼn eksponensiële verspreiding sal ontduik, omdat niemand immuniteit het teen die virus nie.

Hy het verduidelik dit is belangrik om die verspreiding van die virus te vertraag sodat die kurwe selfs verder afgeplat kan word. “Sodoende kan ons seker maak dat die virus nie buite beheer versprei nie. Dit bied ons ook die geleentheid om vinniger en eenvoudige toetse te ontwerp sodat daar nie ʼn onnodige las op hospitale is nie, soos wat tans in ander lande die geval is.”

Die taakspan sal vandeesweek die gemeenskapsoordrag monitor deur die gemiddelde toename in gevalle en die toetse wat gedoen word.

“Ons sal teen 18 April weet of die beraamde gemeenskapsoordrag akkuraat is,” het hy gesê. Die toename is tans ʼn gemiddeld van 67 gevalle per dag (dus ʼn toename van tussen 45 en 89 gevalle per dag).

“Indien die gemiddelde toename tussen 10 en 16 April meer as 90 gevalle per dag is, sal ons die afsonderingsperiode moet verleng,” het hy verduidelik. “As die gemiddelde toename minder as 44 per dag is, kan ons begin om die afsonderingsperiode geleidelik te beëindig.”

Hy waarsku dat daar soms groot verskille kan wees in daaglikse getalle weens aktiewe toetsing.

Karim het gesê dit is ook belangrik dat die land een tree voor die verspreiding van die virus bly en nie wag totdat pasiënte by hospitale aanmeld voor daar opgetree word nie.

Volgens hom is daar kommer dat ʼn gebrek aan toegang tot gesondheidsorg tot ʼn toename in sterftes kan lei. Persone wat MIV-positief is en tuberkulose onder lede het, kan ook erge simptome beleef indien hulle besmet word.

“Ons het ʼn behoefte aan ʼn vrywillige afsonderingsperiode tot minstens die einde van September vir ouer persone (minstens ouer as 60) en diegene met onderliggende dodelike siektes,” het hy gesê.

Hy het benadruk dat Suid-Afrika ʼn unieke epidemiese trajek beleef en die huidige trajek kan waarskynlik toegeskryf word aan die doeltreffende vroeë afsondering wat ingestel is. “ʼn Eksponensiële kurwe is byna onafwendbaar. Die afsondering het Suid-Afrika egter tussen vier tot ses weke kans gebied om voorbereidings te tref voor die gevalle toeneem. ʼn Sistematiese benadering moet gevolg word om die besmettingskoers laag te hou terwyl die afsonderingsperiode geleidelik en in fases opgehef word.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stof ·

Mmmmmmm… En nêrens in die media word berig oor die oplossing nie. Die enigste oproepe tot samesyn voor die Hoogste Gesag, word bloot individueel op sosiale media gedoen, maar die groter en publieke media, is doodstil.
Sal ons dus aanhou om bloot chemies en veral polities hierna te kyk, of gaan ons in massas, verootmoedig voor Vader en Hom as die eerstelinie antwoord erken?

Stephanie ·

En ons is mense bokant sestig, met geen pensioen, wat pas n nuwe besigheid begin het. Kan nie afsondering bekostig!!!

Johan Venter ·

Baie min mense wat pas ‘n nuwe besigheid begi het se besigheid sal die afsondering oorleef. Teen die trend gaan die afsondering nog minstens tot middel Mei plaasvind

Jorrie ·

Die grootste risiko is mense wat in versorgingsoorde ens is. Indien hulle versorgers in en uit beweeg is hulle aan groot risiko blootgestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.