Vrywillige skeidingspakkette vir Lily-mynwerkers

Argieffoto

Argieffoto

Die Lily-myn se besigheidsreddingpraktisyn het werkers by dié myn in kennis gestel dat hulle nou kan begin om aansoek te doen vir vrywillige skeidingspakkette weens operasionele redes en ʼn gebrek aan befondsing.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is die nodige befondsing om die werkers se salarisse vir April en Mei of enige van hul uitstaande oortyd en toelae te betaal, nog nie verkry nie. “Die gevolg hiervan is dat die werknemers wat vir vrywillige pakkette aansoek doen, dit op die voorwaarde doen dat hulle hul uitstaande salarisse eers sal ontvang sodra die nodige befondsing verkry is, maar dat die afleggingspakket se uitbetaling dalk eers oor ʼn jaar sal geskied wanneer die myn weer in produksie is,” het Du Plessis verduidelik.

“Die onsekerheid, frustrasie en ernstige finansiële nood het daartoe bygedra dat vele werknemers nou aansoek doen om vrywillige pakkette om sodoende toegang te kry tot werkloosheidversekeringstoelae en hul pensioengeld,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis is dit die enigste manier waarop die werkers ʼn mate van sekerheid oor hul toekoms kan verkry. “Sedert die mynongeluk op 5 Februarie plaasgevind, moet die werkers die bestuur en politici se valse beloftes aanhoor waarvan daar nog niks gerealiseer het nie. Dit is veral Lily-myn se topbestuur wat valse hoop geskep het, terwyl Solidariteit se Helpende Hand hul werknemers van kospakkies moes voorsien om te oorleef,” het Du Plessis gesê.

Solidariteit doen weereens ʼn beroep op die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) en Sasfin om die leningaansoeke rakende Lily myn se salaris- en kapitaalprojekbefondsing gunstig te oorweeg. “ʼn Groot aantal werksgeleenthede kan nog gered word as die nodige befondsing bewillig word om ʼn nuwe skag te sink en die ander gedeelte van die maatskappy se mynwerksaamhede wat nie deur die mynongeluk geraak is nie en waar nuwe werksgeleenthede geskep kan word, te befonds,” het Du Plessis gemaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frederik ·

” wanneer die myn weer in produksie is ” Sê jy. Ek glo nie hul gaan maklik weer ondergrondse werkers kry om weer in produksie te kom nie.

Henk Venter ·

‘n Paar onkundige vrae:
Ek is seker die myne het versekering op die tipe van ding om hulle te dek?
Mynwerkers word skandalige salarisse betaal invergelyking met wat die myn vir sy produk kry, hoe is dit moontlik dat daar nie reserwe fondse beskikbaar is nie.
Die sogenaamde “beleggers” in die myn het seker dan ook nog nie hulle “winste” en rentes ontvang nie. Ek is seker dit is die geval, gesien in die lig van die feit dat daar nie geld is om hulle slawe te betaal nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.