Vrywilligers spring in oor staking by dieretuin

Argieffoto

Argieffoto

Honderde vrywilligers het ingespring om die naweek diere by die Johannesburgse dieretuin te versorg nadat werkers met ʼn onbeskermde staking begin het.

Jenny Moodley, woordvoerder van Johannesburg Parke, het Sondag gesê die staking het Donderdag begin en busse vol skoolkinders moes Vrydag by die dieretuinhekke weggewys word. Volgens Moodley het die dieretuin Vrydag ʼn hofbevel gekry om werkers te dwing om terug te keer werk toe.

“Ons hoop die werkers sal Maandag sal terugkeer werk toe. Volgens die hofbevel moet hulle vir werk aanmeld of dissiplinêre stappe sal teen hulle gedoen word,” het Moodley gesê.

Ten minste 300 vrywilligers het ingespring om hokke skoon te maak en diere te voer, hoewel hulle Vrydag gedreig is om op te hou werk. Die stakende werkers eis salarisverhogings en is ook ongelukkig oor posgraderings.

Intussen het Paul Tlhabang, woordvoerder van die munisipalewerkersvakbond, Samwu, Sondag gesê die vakbond distansieer hom van die staking en wil nie deelneem aan die “fees van stakings” regoor die land nie.

Tlhabang het gesê hulle het eers Vrydag van die staking gehoor toe dit in die media gerapporteer is, maar neem nie daaraan deel nie, aangesien hulle tans met die dieretuin se bestuur oor die salariskwessie onderhandel. “Dit lyk vir ons soos geborgde wetteloosheid, want ons is klaar besig om met die bestuur van alle munisipale entiteite regoor die stad te vergader,” het hy gesê.

“Ons weet nie wat het aanleiding gegee tot hierdie staking nie en ons wil nie daaraan deelneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kathy ·

En dan kry hulle waaragtig nog kans om terug te gaan. Wys jou hulle gee nie ‘n duit om vir die diere nie, net geld en hoër poste. Dank die hele spul af en kry mense wat vir die liefde vir die diere daar is!!!! Word wakker mense!!+

Dirk ·

Dink stakers aan die lot en welsyn van wilde diere in magtelose omstandighede ingeperk en opgesluit teen hul wil? Wat is die stakers se gesindheid teenoor diere?

SNEL ·

Ek is groot gemaak, as jy nie hou van jou salaris of omstandighede nie….soek vir jou ander werk, maar deesdae het jy nie eers nodig om n CV uit te stuur vir beter salaris nie, jy staak net. Dis belaglik. Dis tyd dat mense wat staak hul werke verloor en so sal hulle leer om dankbaar te wees vir wat hulle het en om dit op te pas, en as hulle ongelukkig is oor die salaris of wat ook al, dan spring hulle uit en soek ander werk. Hier is onskuldige diere wat nou daar onder ly, dieselfde geld vir mense wat by hospitala, brandweer ens staak, dis dinge van lewe en dood, maar deesdae is dit te maklik om te staak, want niks gebeur met hulle nie. Tyd dat hulle hul werke verloor as hulle net die woord staak sê.

Tania ·

As die dieretuin my “besigheid” was sou ek almal dadelik afgedank het, die rede, hulle gee nie om vir die diere nie, hulle sal die diere laat “suffer” om ‘n punt te maak, DIT se alles van hulle persoonlikheid. Die scary ding is as hulle ander kan verhoed om na die diere om te sien, dan beteken dit hulle wil die diere eintlik skade aandoen wat NIKS te doen het met die hele situasie nie. Die diere is onskuldig in die hele situasie, en daar kom dit weer duidelik uit dat onskuldige bystaanders mens en dier altyd moet skade aangedoen word omdat ander mense nie gelukkig is nie.

Elize ·

Dank hulle af. Stel mense aan wat wil werk en die diere se belange op die hart dra. As hierdie klomp terugkeer werk toe gaan die diere heel waarskynlik daaronder ly. En die storie deesdae dat mense wat wil gaan werk gedreig word moet baie vinnig gestop word. Elke mens het die reg om vir homself te kan besluit of hy wil deelneem aan ‘n staking of nie.

Karma ·

Elize, makliker gesê as gedaan – ek sê ook: dank stakendes af, maar in die nuwe SA word die onwettige immigrant/student/staker/krimineel/misdadiger en hul menseregte meer beskerm as die gebore Suid-Afrikaner/werklike student/werker/nie-krimineel/wetsgetroue landsburger. Ek dink die oplossing is suiwer: ‘n voorafbepalende werkskontrak wat stipuleer dat die werknemer nie MAG staak nie en indien hulle sou staak, hulle onmiddellik en sonder skeidingspakket ontslaan sal word, soos met diefstal en slaap-aan-diens.

Ek sê dieselfde as Snel – as jy nie tevrede is met die salaris en werksomstandighede nie, vat jou goed en trek Ferreira, vat jou goed en trek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.