VSA-deskundige getuig in Ford Kuga-saak

Ford het ook ‘n model van ‘n Ford Kuga na die hof gebring as hulpmiddel vir hul deskundige getuies.

ʼn Amerikaanse deskundige het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin getuig in die geregtelike ondersoek na die dood van Reshall Jimmy in die Ford Kuga-sage.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verskyn vandeesweek namens die Jimmy-gesin. Jimmy (32) het in Desember 2015 doodgebrand toe die Ford Kuga wat hy bestuur het aan die brand geslaan het. Die Ford-motormaatskappy is ook ’n party in die saak.

John Loud in die hof.

Tydens dié verrigtinge vandeesweek sal deskundige getuies van albei partye getuienis lei.

Ford se regsverteenwoordiger, adv. André Bezuidenhout, het Maandag hul eerste getuie, John David Loud, geroep. Hy is ’n Amerikaanse ingenieur van Exponent Incorporated en ondersoek stelsel‑ en meganiese probleme in onder meer Ford, Samsung en e-sigaret‑maatskappye se produkte.

Hy het getuig dat hy in November verlede jaar deur Ford gevra is om die Kuga-aangeleentheid te ondersoek. Hy moes onder meer die oorsaak en beginpunt van die brand ondersoek, die elektriese stelsels evalueer en verskeie hipoteses oor die aangeleentheid ondersoek.

Jimmy se suster, Renisha, in die hof.

Loud het getuig dat vier Ford Kuga’s van Suid-Afrika na sy laboratorium in die VSA gestuur is om sy ondersoek te fasiliteer. Hy het dié motors gebruik om verskillende relevante teorieë vir die moontlike oorsprong van die brand te toets. Hy het ook Jimmy se motor se diensrekords nagegaan en Jimmy se klagtes dat die motor se krag dikwels uitsny, geëvalueer.

Danny Joubert, ʼn kenner wat deur die familie aangestel is om die brand te ondersoek, het voorheen bevind dat die motor ernstige elektroniese probleme gehad het en dat die beheereenheid van die stelsels in die motor se bakwerk (body control unit of BCM) die oorsprong van die brand was. Luidens Joubert se verslag oor die voorval kon die drade na die BCM moontlik die brand begin het, gegewe die motor se geskiedenis van kragverlies.

Adv. Gerrie Nel en adv. Phyllis Vorster.

Loud sê dit wat Joubert gevind het, is verkeerd. Hy verskil van dié teorie en meen hy het geen kousale verbintenis tussen die BCM en die motor se kragverlies gevind nie omdat die BCM nie die motor se enjin beheer nie en dus nie krag kón uitsny nie. “Die motor se krag het moontlik uitgesny weens ’n sagtewareprobleem en die diensrekords wys dat daar sagtewareprobleme op Jimmy se motor herstel is.”

Hy voer aan dat die module vir enjinbeheer eerder die motor laat uitsny het. Ford het ook ʼn model van ʼn Ford Kuga na die hof gebring as hulpmiddel vir hul deskundige getuies.

Die saak gaan vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Essie ·

Alles goed en wel maar dit gaannie meer die insittende terugbring nie

Ellisras ·

En Advokaat Gerrie Nel is ernstig deur dir hof tereggewys oor sy vyandige houding in die hof. Die hof het gesê dit is ‘n ondersoek en Gerrie is veglustig.

Adam ·

Soek die regse Afrikaner dan nie veglustige mense wat kan terugslaan nie?

pit ·

Ek kan net noem dat my motor n probleem gegee het dat die deure nie wou oopmaak nie terwyl ek en my vrou in die motor was binne n parkeer gebied by n winkel sentrum . Gelukkig het die venster oopgemaak en kon ek uitklim toe ek by die huis aankom en die over ride sleutel kon gebruik op die bestuurder se deur. Die fout was veroorsaak deur n fuse (sekering) wat geblaas het na ondersoek ingestel is. Nou ..as n brand ontstaan het hoe de moses sou mens betyds uit die voertuig kon uitkom? Die motor vervaardiger het toe n sterker fuse voor gestel wat die werk goed doen.

sê net ·

Loud sê “die motor se krag het moontlik uitgesny weens ‘n sagtewareprobleem en die diensrekords wys dat daar sagtewareprobleme op Jimmy se motor herstel is.”
“obviously” is almal dan nie herstel nie!!
Ford moet maar net skuld erken…

Johan ·

Dit is irrelevant wat in die motor die brand veroorsaak het. Verskeie Kugas het aan die brand geslaan. Daar is dus ‘n besliste fabrieksfout aan Ford se kant. Om nou te wil stry oor presies waar die fout ontstaan het, is myns insiens minder belangrik.

Ellisras ·

Ford erken dat daar ‘n fout of foute is. Hulle erkan dat ‘n klomp Kugas gebrand het. Al wat hul sê is dat dit nie die ou se dood veroorsaak het nie. Al die ander brande was soortgelyk. Net die een was anders.

Johann cb ·

Ek vermoed Adv Nel gaan hierdie een verloor. Foutiewe sagteware en die afstandbeheer in die voertuig se sleutel, sou die enjin wel laat stol. Dit dien as beskerming teen brandgevaar.

Adam ·

Ek sal so bly wees indien jy my 40 jaar nadat ek gegradueer het kan leer hoe mens ‘n GDO “verloor”.

Planke ·

@Johann cb gee net kans adv Gerrie slaan toe waneer jy dit nie verwag nie. Wees rustig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.