VSA-drukgroep moet Ramaphosa-toekenning terugtrek – AfriForum

Foto ter illustasie. (Foto: Ibrahim Boran/Unsplash)

Die burgerregtegroep AfriForum het ʼn brief aan ʼn Amerikaanse nie-regeringsorganisasie gestuur waarin hy vra dat die organisasie sy toekenning vir universele gesondheidsorg aan pres. Cyril Ramaphosa terugtrek. Die prys is toegeken vir  die beoogde inwerkingstelling van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

AfriForum sê hy het in sy brief aan The Access Challenge ook “die ware feite oor gesondheidsorg in die land bekend gemaak”.

Volgens AfriForum het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, die toekenning in September vanjaar namens Ramaphosa in New York ontvang. AfriForum het gesê hy maak dit in sy brief duidelik dat die organisasie nie gekant is teen gehalte- mediese sorg vir almal nie, maar dat die NGV nie die antwoord op die land se gesondheidsorgprobleme is nie.

“Dit is belangrik dat die internasionale gemeenskap kennis dra van die regte toestand waarin Suid-Afrika se gesondheidsektor is en nie deur die ANC mislei word om die implementering van NGV te verwelkom nie. Die regering weier bloot om die goue middeweg tussen private en staatsgesondheidstelsels te volg – wat uiteindelik tot beter gesondheidsorg vir almal in die land kan lei. Die politieke wil om werklik die gesondheidstelsel reg te ruk, ontbreek egter,” het Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder oor die NGV, gesê.

AfriForum pak ook die skuld vir die styging in private mediese koste die afgelope paar jaar op die regering.

“Dit is oneerlik van die regering om aan te voer dat die NGV nodig is weens die hoë koste van private gesondheidsorg wanneer die regulatoriese raamwerke wat die staat op die private gesondheidsektor afgedwing het, die hoofoorsaak daarvan is.”

In sy brief sê AfriForum dat korrupsie en wanbesteding in die openbare gesondheidsektor hoogty vier en dat die departement nie met nóg belastingbetalersgeld vertrou moet word nie. “Die regering se eie teenkorrupsie-eenheid vir gesondheid het onlangs bekend gemaak dat die gesondheidsdepartement jaarliks meer as R22 miljard verloor weens korrupsie en bedrog. Tog besluit die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in dieselfde maand om geen staatsamptenaar vir die Life Esidimeni-tragedie te vervolg nie. Dit bevorder onverantwoordbaarheid in dié departement wat reeds só ’n swak baanrekord het,” het Venter gesê.

The Access Challenge werk saam met nasionale leiers van verskillende lande om gelyke toegang tot gesondheidsorg en onderwys aan die wêreld se mees onderbediende bevolkings te bevorder.

Venter het gesê die brief is Woensdag aan die organisasie gestuur en hulle hoop op spoedige terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Judge Dredd ·

As “The Access Challenge” sosialisties/liberaal is – moenie verwag dat hulle enigiets sal doen.

Jack Sadie ·

Julle verstaan nie. Politici moet pryse kry vir wat hulle sê. As hulle pyse moes kry vir wat hulle doen, sou daar geen pryse wees nie. Natuurlik het daardie minister ook miljoene spandeer om die toekenning te gaan haal. Dit bly verstommend hoe totaal uit voeling met realiteit ons begeerders is( ek wou regeerders sê, maar die glips lyk beter)!

sweis ·

Al toekenning wat hy moet kry is die beste selfverryking bee opertunis.

Therese van Schalkwyk ·

Hierdie toekenning aan Ramaphosa herinner aan die verstommende aanwys destyds van die korrupte polisiehoof, Jackie Selebi (finish en klaar), as Hoof van Interpol. Laat ‘n mens sprakeloos en magteloos teen die onnoselheid van die mensdom.

mac ·

Hoekom probeer die staat nie eerder om die huidige staats hospitale te upgrade en personeel op te lei soos dit hoort nie, dan sal dit nie nodige wees om die sogenaamde NVG in te stel nie, as hul nie nou `n staatshospitaal kan bestuur nie hoe gaan hulle NVG laat slaag

ans ·

Net gister vertel my huishulp ,hoe sukkel hulle by die klieke en staats hospitale in Bloemfontein . Ek kan nie alles vertel ,.maar dis gaoties en skokkende verhale van hoe personeel hulle as pasiënte behandel . Met die houdings van ek soek net geld en voel nie vir die pasiënt . Ai mense wat het geword van jou wil en belofte om siekes te help . Geen mediese plan kan suksesvol wees met die gedrag en ook die diefstal van medisyne en toerusting . Hulle verkoop dit in hulle woonbuurt . ????????????????

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.