VSA gee miljoene vir ontginning van aardgas in SA

Die Virginia-gasprojek. (Foto: https://za.usembassy.gov/)

Die Amerikaanse regering het Donderdag aangekondig hy het ʼn lening van net meer as R600 miljoen ($40 miljoen) toegestaan aan die energiemaatskappy Renergen om aardgas en helium by Virginia in die Vrystaat te ontgin.

Die lening is deur die Amerikaanse staatsagentskap Overseas Private Investment Corporation (Opic) toegestaan. Die finale ooreenkoms is Dinsdag onderteken.

Volgens die ooreenkoms sal Opic die kapitaal aan Renergen beskikbaar stel om die eerste fase van die Virginia-gasprojek te bou. Die projek het ten doel om by te dra tot wêreldwye heliumvoorsiening in die lig van voorspelde voorraadtekorte.

Behalwe vir die ontwikkeling en kommersialisering van metaan- en heliumvelde sluit die projek ook die konstruksie en bedryf van ʼn gasversamelingspyplynstelsel in asook ʼn nuwe aanleg waar aardgas en helium tot ʼn vloeibare vorm verwerk word.

Die Virginia-gasprojek sal Suid-Afrikaners in diens neem ooreenkomstig die Amerikaanse regering se prioriteit om in Suid-Afrika se ekonomiese groei te belê en werkloosheid in die land hok te slaan.

Stefano Marani, uitvoerende hoof van Renergen, het oor die ooreenkoms gesê: “Ons is baie trots om saam met Opic as ons finansiële vennote te werk en ons sien uit om saam hierdie projek te ontwikkel terwyl ons bepaal wat die volle omvang van helium is wat geproduseer kan word in ʼn tyd van ernstige voorraadtekort.”

Noudat die finale ooreenkoms onderteken is, sal Renergen binne die volgende paar dae die eerste leningsuitbetaling ontvang. Die maatskappy sal dan begin werk om die projekbedrywighede van die grond af te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Stem hulle het baie te se hoekom kom vat hulle nie vir hulle n klomp nie

Pieter ·

Amerika was een van die lande wat die anc ondersteun het hoekom is hulle en al die ander lande nou so stil want hulle weet hulle het n groot fout gemaak en hulle sal dit nooit erken nie

Francois ·

Pieter,
as dit by brandstof ontginning kom is enige regering totaal blind en het erge geheuverlies ou maat.

Sarel ·

As hulle weet wat ek weet…. kyk na Madipi ens…. En gaan hierdie ‘n beurtkrag vrye gebied nou word. Dit gaan begin met hierdie bedrag…. geen twyfel dat dit ‘n paarkeer herhaal moet word in die toekoms tot indien voltooiing.
Sterkte VSA

Mariann ·

Hoe ontgin hulle die gas? Is dit “Fracking”? Alles is tjoepstil gehou in die Virginia/Welkom are. ‘n Doodse stilte…

Gemaskerde Sopbeen ·

Hahahaha….mooi so. Wat “verkoop” ons volgende? En volgende? Dit bly so teleurstellend dat Afrika NIKS kon doen met sy magdom natuurlike hulpbronne….en die produkte daarvan aan die wêreld verkoop nie……….maar so goed is om die hulpbonne te verkoop, uit te voer, en die eindresultaat terug te koop met die geld wat hulle vir die hulpbronne gekry het!!! Meer pateties as dit is daar seker nie……Donker Afrika…..

Ursula ·

Ek kan jou n brief gee dit gaan nie daarvoor gebruik word nie. Die gaan ook sonder verduideliking disappear

wraggies ·

Sal binnekort ‘n goeie paar Vrystaatse amptenare kits miljoeners sien word, wie op hulle beurt natuurlik die regerende party oa mildelik sal ondersteun.

humor ·

Die regering sal moet besef in die internasionale wereld, handel bestaan daar nie so iets soos n kersvader nie. Ons weet wie gaan die grootste voordeel trek????????

Rubber ·

Ag Amerika julle kan sommer ons dorpe en stede se riool in die strate kry vir metaangas ontginning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.