VSA hef reisbeperkings vir Suider-Afrikalande op

Argieffoto (Foto: Michał Parzuchowski/Unsplash.)

Die VSA sal volgende Vrydag die reisverbod teen verskeie Suider-Afrikalande, insluitend Suid-Afrika, ophef. Dit volg nadat dié lande verlede week van die Verenigde Koninkryk se rooilys verwyder is.

Die VSA en verskeie ander lande het einde November in reaksie op die Omikron-variant, wat deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes geïdentifiseer is, reisbeperkings ingestel teen agt Suider-Afrikalande, te wete Suid-Afrika, Botswana, Namibië, Zimbabwe, Lesotho, Eswatini, Mosambiek en Malawi.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Verenigde Nasies het hul stem teen die reisbeperkings verhef en amptenare in Suid-Afrika het gesê dat die land gestraf word omdat die variant deur plaaslike wetenskaplikes geïdentifiseer is.

Kevin Munoz, assistent-perssekretaris van die Withuis, het die verbod op Twitter goedgepraat en aangevoer die beperkings het die VSA tyd gegee om die Omikron-variant en die entstowwe se reaksie daarop onder die loep te neem.

ʼn Senior amptenaar van die Withuis het intussen aangevoer dat aangesien die Omikron-variant wêreldwyd en ook regoor die VSA teenwoordig is, sal internasionale reisigers van die Suider-Afrikaanse lande nie ʼn beduidende impak op die aantal positiewe gevalle in die VSA hê nie.

Net nadat die reisbeperkings ingestel is, het pres. Joe Biden die tyd vir toetsing voor vertrek verminder tot een dag in teenstelling met drie dae.

In die VSA is die Omikron-variant nou verantwoordelik vir meer as 90% van alle gevalle landwyd.

Feesvierings en samekomste tydens die Kerstyd sal na verwagting die positiewe gevalle in die VSA verder laat styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.