VSA nie beïndruk met SA, Rusland se vriendskap

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Argieffoto: Sergei Chirkov/AFP)

Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers oorweeg tans ’n resolusie om die gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Afrika, China en Rusland teen te staan.

Die resolusie behels ook ’n beroep op pres. Joe Biden se administrasie om ’n deeglike hersiening van die VSA en Suid-Afrika se verhouding te doen. Dít ten spyte daarvan dat die twee lande sedert 1994 sterk bilaterale betrekkinge geniet.

Action SA sê nou die resolusie, bekend as Resolusie-HR145, is net nog ’n voorbeeld van hoe die ANC se verbintenis met Rusland Suid-Afrika in die voet gaan skiet.

Die VSA is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot met ’n handelsurplus van $6,5 miljard met die VSA. Dít teenoor Suid-Afrika se handelstekort van $210 miljoen met Rusland.

Herman Mashaba, president van Action SA, sê dit is duidelik dat die ANC se “kommunisties gedrewe” lojaliteit teenoor Rusland min tot geen voordeel vir die mense van Suid-Afrika inhou nie. Tog word Russiese hooggeplaastes te midde van ’n oorlog met ope arms verwelkom en ’n gesamentlike militêre operasie deurgevoer.

Maroela Media het vroeër berig dié operasie, genaamd Mosi ll – die Tswana‑woord vir “rook” – vind oor die volgende tien dae tussen Durban en Richardsbaai plaas en is ’n herhaling van die gesamentlike oefeninge wat in 2019 tussen die drie lande plaasgevind het.

Die Russiese oorlogskip Admiral Gorshkov aan die Chinese kus in 2019 (Foto: STR / AFP) / China OUT)

Die gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Afrika, China en Rusland aan die KwaZulu-Natalse kus het egter opnuut die wenkbroue laat lig aangesien dit met die eenjaarherdenking van Rusland se inval in Oekraïne saamval.

Resolusie-HR145 doen nou ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om alle toekomstige militêre oefeninge met China en Rusland te kanselleer en weer by oefeninge onder leiding van die Verenigde State aan te sluit.

Suid-Afrika word ook in die resolusie gevra om die handves van die Verenigde Nasies te respekteer en Rusland se “ongeregverdigde en onuitgelokte inval” van Oekraïne in die openbaar teë te staan.

Maar kan resolusie-HR145 slaag?

Die resolusie is Dinsdag deur ’n Republikeinse verteenwoordiger ter tafel gelê en sal nou aan die huiskomitee oor binnelandse sake verwys word. Die betrokke verteenwoordiger, John James, dien tans sy eerste termyn in die Amerikaanse Kongres uit en het betreklik min invloed in die Huis van Verteenwoordigers.

Luidens ’n berig van Daily Maverick sal die resolusie daarom uiteindelik nie slaag nie.

Mashaba vrees egter nou dat Suid-Afrika se lojaliteit teenoor Rusland “aansienlike negatiewe gevolge vir die land inhou, ons ekonomie ’n knou gee en werksgeleenthede kos.

“Die ANC se verbintenis om Rusland te ondersteun tydens die voortslepende oorlog is nog ’n teken van hoe die regerende party nie omgee vir die behoeftes van Suid-Afrikaners nie, maar ’n reeds gehawende plaaslike ekonomie – wat gebuk gaan onder die ANC-geskepte ramp van beurtkrag – sal opoffer om Rusland te paai.

“Suid-Afrika behoort in ’n tyd waarin ons mense swaarkry, alles in sy vermoë te doen om die ekonomie te laat groei en werk te skep – en nie om die VSA, ons grootste handelsvennoot, te isoleer nie,” sê Mashaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Mnr De Beer ·

Want die onbevoegde ANC weet nie wat hulle doen nie. Stry maar met my.

Harley Davidson ·

100% korrek, net ‘n jammer pres Trump nie aan stuur van sake nie want dan het hulle gebloei.

George ·

glad nie. Hy was meer blaf as byt, hy het oorgenoeg kans gehad.

domheks ·

cr se ou maatjie vertel hom hoe ‘n kommunis moet optree…

jou gewete ·

glad nie, volgens feite oor jare het hulle egter nog n maksimum van nagenoeg 12 jaar oor van die 40 jaar wat son heerskappy gewoonlik hou

Vrystaat2109 ·

Gaan lees ook wat Ian Smith van Rhodesië gesê het.

marius ·

Niemand gee meer ‘n duit om wat die amerikaners se of dink nie . Hulle is grond toe .

George ·

En Rusland staan die oefeninge saam met die VSA aan. Die VSA wat die meeste oorloe al begin het in wereld geskiedenis.

Anel ·

Wel, wonder wat hulle nou gaan doen noudat ons af gegradeer is na grys status!!!!

Kokerboom ·

In foto sê Putin seker vir Ramaphosa: Weet jy kameraad, ons het nie KFC in Rusland! Dis ‘n ernstige saak!

Sean ·

En so het die anc dan ook n deur oopgemaak wat hulle nie toemaak nie Die russe sluip hulle tande vir suid afrika en ons bekwame regering wys mos nou vir hulle ons kan ons self nie beskerm nie

Sean ·

Aangesien hulle nie meer huise in dubai kan kry agv van die guptas probeer hulle nou rusland Hulle moet iewers heen kan vlug as die wiele af kom

Vonny ·

Amerika stel sanksies in…!
Of
Enige voorwaarde.
ANC kan niè sonder VSA ..

Joseph ·

Hulle (die ANC regering) gee lankal nie meer om vir die burgers van SA nie. Hulle is magsbehep en dink net aan hul eie status en bank rekenings. Binne kort gaan ons erger sanksies teen ons he as wat ons gehad het voor 1994.

Grassie ·

Suid-Afrika behoort heeltemaal neutraal te staan in die Oekraïne oorlog. Rusland is nou kamma ‘n demokratiese land maar Putin was voor hul “demokrasie” ‘n senior lid van die KGB, die wreedste en gevaarlikste geheime diens in die wêreld. ‘n Jakkals verander van hare maar nie van streke nie. Okraïne was die mees korrupte land in Oos-Europa. Tydens Obama se bewind het Biden en sy berugte seun in Oekraïne geboer en onrus gestook. Hulle was o.a deur Soros gefinansier. Hulle het ‘n bewindsverandering daar bewerkstellig en ernstige korrupsie het ontstaan. Nie een van daardie twee lande is ons ondersteuning werd nie.

Henk ·

95% van die Afrikaners weet nie eens dat die VSA ons in die rug gesteek het in Angola tydens operasie Savanna in 1976 .

Pietertjie ·

En geleidelik kan die wêreld sien hoe Nelson Mandela se ANC uit die kas klim.

Danie ·

Jy kan nie jou brood beide kante botter nie SA se sogenaamde onpartydige leiers gaan op die swaar manier leer en ek hoop gou ook.

Marthinus W ·

Wie gee Amerika die reg om aan ons voor te skryf wie ons vriende mag wees, en met wie ons militere oefeninge mag doen? Is Amerika God? Is Amerika die alleeneienaar van die wereld? Indien Amerika dan die wonderlike demokrasie is, sal hulle ons vryheid van keuse respekteer. Watter vermetelheid.

piet ·

SA kan dit nie bekostig dat die VSA vies raak vir ons nie, hulle is ons grootste handelsvennoot.

Mariana ·

Bittermin Suis-Afrikaners is beïndruk. Dis net die klomp ANC boeties en sussies wat dink hulle is oulik. Siesa!!!

Haan ·

Die VSA se dae as die wêreld se polisieman is getel. Ander lande kyk met afsku na hul huigelary en vernietigende liberalisme en soek elders na vennote. Die greep wat die petrodollar media op ons denke het, kan egter nie onderskat word nie. Ek kyk afwagtend na wat sal uitvloei uit hierdie uitkringende oorlog.

Douglas ·

Dis eintlik sad dat die ANC die verkeerde vriende gekies het, en dat hulle dit Kan of nie will sien nie,
Nog iets hulle sal nooit leer nie,

Oosie ·

Anc weet die skrif is teen die muur en sy opvolger gaan die land nie kan red.

Elizabeth ·

Wat ‘skuld’ die ANC Rusland? SA skuld Rusland NIKS.. Waar is die ANC se lojaliteit teenoor sy eie mense? Is hier nie genoeg werkloosheid in SA nie? Word wakker mense. ANC moet op sy eie swaard val. In 2024.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.