VSA ongelukkig met SA se besluit oor Chang

Manuel Chang vroeër in die Kemptonparkse landdroshof. (Foto: ANA)

Die VSA het Woensdag sy teleurstelling uitgespreek met Suid-Afrika se besluit om die voormalige Mosambiekse minister van finansies, Manuel Chang, na sy tuisland uit te lewer om tereg te staan op aanklagte in Maputo.

“Die Amerikaanse ambassade in Pretoria neem met groot teleurstelling kennis van die mediaverklaring wat deur die minister van justisie en korrektiewe dienste [Michael Masutha] uitgereik is waarin hy aandui dat die Republiek van Suid-Afrika besluit het om [Chang] na Mosambiek uit te lewer, ten spyte daarvan dat hulle ons uitleweringsversoek ontvang het voor dié van Mosambiek,” het Robert Mearkle, woordvoerder vir die Amerikaanse ambassade, gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om mnr. Chang na die VSA te stuur om tereg te staan vir sy beweerde misdade, wat die burgers van die VSA geviktimiseer en die Mosambiekse regering van meer as $700 miljoen beroof het.”

Mearkle het gesê Chang word daarvan beskuldig dat hy $2 miljard bedrog deur middel van ʼn geldwasseryskema gepleeg het “wat die Amerikaanse finansiële stelsel misbruik en Amerikaanse beleggers ingeloop het”.

“Dit is weens Chang se beweerde betrokkenheid by hierdie finansiële misdade dat die VSA mnr. Chang se inhegtenisneming en uitlewering versoek het,” het hy gesê.

Chang (63) is in Desember verlede jaar in Suid-Afrika in hegtenis geneem op grond van ʼn Interpol-lasbrief wat deur Amerikaanse owerhede uitgereik is om Chang se uitlewering te versoek.

Chang was minister van finansies tussen 2005 en 2015 onder die presidentskap van Armando Guebuza. Gedurende sy termyn het Chang toesig gehou oor die ondertekening van verskeie geheime lenings ter waarde van $2 miljard om ʼn kusbeskermingsplan te finansier wat tussen 2013 en 2014 gefinaliseer is met die stigting van drie maatskappye, naamlik Moçambicana de Atum (Ematum), Proindicus en Mozambique Asset Management (MAM).

Die verkryging van die lenings, wat deur die land se sekuriteitsdienste gedryf is, het regulatoriese oorsigte ontduik. Die skuld is geheim gehou deur Guebuza se opvolger, Filipe Nyusi, wat ook as minister van verdediging in Guebuza se kabinet tot 2016 gedien het.

Manuel Chang vroeër in die landdroshof in Kempton Park. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Die geheime skuld het die verarmde Mosambiek in ʼn krisis gedompel, met skuld wat teen einde 2017 tot 112% van BBP gestyg het.

Die verborge skuld het daartoe gelei dat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) lenings aan Mosambiek opgeskort het, asook al 14 donateurs en finansieringsagentskappe wat altyd direkte ondersteuning aan die Mosambiekse staatsbegroting gegee het.

Maroela Media het vroeër berig Masutha het Dinsdag aangekondig dat Suid-Afrika Chang aan Mosambiek sal uitlewer om daar op korrupsieaanklagte tereg te staan. Masutha het bevestig dat die VSA se uitleweringsversoek ʼn paar weke voor Mosambiek se versoek aan Suid-Afrika gestuur is, maar hy het besluit om Chang aan Mosambiek uit te lewer.

“Nadat ek die kwessie in die geheel beskou het, en die maatstawwe van die VSA-SA-uitleweringsverdrag aan die een kant en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Protokol oor Uitlewering aan die ander kant in ag geneem het, is ek van mening dat geregtigheid ten beste sal geskied as aan Mosambiek se versoek voldoen word,” het Masutha in ʼn verklaring gesê.

In die VSA word Chang aangekla van sameswering om elektroniese bedrog te pleeg, oortreding van finansiële sekuriteitsregulasies en geldwassery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Weer een van daai besluite wat eie aan ons Kakistokrasie is! Geregtigheid sal NIE in sy tuis land geskied nie. Die Amerikaners sou sy geldwasgeld kon naspoor en beslag daarop gele het. Maar nee, die een hand was mos maar gerieflikheidshalwe die ander!!!

Willie ·

Dis sou nie gebuer nie, SA in die bed met Mozambiek. Hulle is vinkel en koljander, en so sal die boewery aangaan. Boeties kyk na boeties.

kobus ·

VSA hulle kan nie die afrika regerings vertrou nie.julle behoort dit te weet.leer maar weer maniere

khat ·

hoekom sal ond korupte regering en regstelsel dan vir vsa luister hulle sal eerder vir hulle kaders in mosambiek luister hulle van selfde stofasie skelm en bedrog speel hoog getuie in afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.