VSA se staal- en aluminiumtariewe begin SA vervaardigers byt

Argieffoto (Foto: MEIBC/Facebook)

Solidariteit het Donderdag gesê dat Suid-Afrikaanse uitvoerders van staal- en aluminiumprodukte onder geweldige druk verkeer nadat die VSA onlangs vir Kanada en Meksiko vrystelling gegee het van staal- en aluminiumtariewe.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het dié vrystelling tot gevolg dat die prys van Kanadese en Meksikaanse staal en aluminium heelwat goedkoper geword het in vergelyking met die staal van Suid-Afrika. Die VSA het in Mei 2019 die tarief van 25% op staal en 10% op aluminium opgehef vir Kanada en Mexiko.

Croucamp sê voorts dat die Suid Afrikaanse vervaardigers, onder andere Duferco, Cisco, Columbus Stainless, South 32 en ArcelorMittal, wat staal en aluminium na die VSA uitvoer, onder geweldige druk verkeer. “Die situasie waarin hierdie vervaardigers hulself bevind, is baie ernstig van aard omrede die uitvoere na die VSA vinnig besig is om op te droog. Fabrieke is reeds besig met afleggings en die moontlikheid bestaan dat fabrieke gaan sluit,” het Croucamp gewaarsku.

Hy voer aan dat die opheffing van die tariewe ʼn verdere terugslag is vir die sukkelende Suid-Afrikaanse bedryf wat reeds deur gebuk gaan onder die kragtariewe wat deur Eskom verhoog is en die koolstofbelasting wat deur die regering ingestel is.

Solidariteit het aan die begin van Junie 2019 ʼn versoek aan die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, gerig om ʼn vergadering met die vernaamste rolspelers in die Suid-Afrikaanse staalbedryf byeen te roep om uitdagings te bespreek.

Aldus Croucamp steun Solidariteit ook die versoek deur plaaslike vervaardigers aan die minister om dringend die impak van die Amerikaanse tariewe te bespreek. “Ons fokus daarop om die bedryf van ondergang te red en werksverliese te bekamp. Daar moet vinnig en ernstig na uitdagings gekyk word sodat oplossings gevind kan word,” het Croucamp bygevoeg.

In die VSA lyk die prentjie ook nie so rooskleurig vir die staalbedryf nie, in teenstelling met wat verwag is nadat tariewe op staal- en aluminium-invoere ingestel is. Vroeër die week het U.S. Steel aangekondig dat die staalreus twee hoogoonde in Chicago en Detroit gaan afskaal. Dié aankondiging volg op die afskaling van ʼn hoogoond in Europa. U.S.Steel gaan produksie met 200 000 ton per maand verminder. Die maatskappy het verder sy verdienstevooruitsigte verlaag. Twee ander staalvervaardigers in die VSA, naamlik Nucor en Steel Dynamics, het ook vandeesweek soortgelyke waarskuwings uitgereik.

Staalpryse in die VSA het die afgelope jaar drasties gedaal. Paniekaankope van staalvoorraad het gevolg na die aankondiging van die staaltariewe in Maart 2018. Die vrees dat daar voorraadtekorte kon ontstaan, was deels die oorsaak vir die paniekaankope en berging van voorraad. Die teenoorgestelde het egter gebeur met te veel staal in voorraad in die VSA nadat die vraag gedaal het as gevolg van ʼn verlangsaming in die motor-, energie- en konstruksiesektore, wat staalaankope en staalpryse drasties laat daal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yster ·

Waarom sal die VSA met RSA wil handel dryf as die RSA toenemend erge vergrype pleeg en kommunisme onteenseglik bedryf? Daar is ‘n erger wordende kloof tussen die twee lande en ‘n mens hoef nie te wonder nie… dinge gaan slegter word. Dit is duidelik dat CR nie ‘n gesonder rigting gaan inslaan nie. Baie jammer!!

Suzie ·

Hulle besit alreeds baie van ons myne, ons is klaar verkoop aan die Chinese. Die mense besef dit net nie.

Piet ·

Kallie daai is te laat ou vriend , ek was die ander dag in die pad gesteek by my werk van jare , Wie het oor geneem daar , n span van 70 Chinese outjies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.