VSA-sneeustorm: SAL-vlugte gekanselleer

Argieffoto

Argieffoto

SAL het Vrydag al sy vlugte na Washington DC in die VSA gekanselleer nadat ʼn noodtoestand in vyf Amerikaanse state aangekondig is weens ʼn hewige sneeustorm wat op pad is.

Tlali Tlali, woordvoerder van SAL, het gesê die besluit is geneem om, ter wille van passasiers en bemanningslede se veiligheid, alle vlugte tussen Johannesburg en Washington DC vir Vrydag en Saterdag te staak. “Die besluit is gegrond op weervoorspellings van uiters ongunstige toestande vir opstyg en landing in Washington DC,” het hy gesê.

ʼn Winterstorm wat ’n potensieel hewige sneeuval sal meebring, sal Washington DC na verwagting oor die naweek tref. Noodtoestande is reeds in Tennessee, North Carolina, Virginia, Maryland en Pennsylvania afgekondig.

Die vervoerowerheid van die Washington-metropool het Donderdag aangekondig dat die stad se treinstelsel vanaf Vrydagaand tot Sondag nie in werking sal wees nie.

Tlali het gesê vlugte tussen Johannesburg en die stad New York sal nie geraak word nie. “Hoewel vlugte tussen Johannesburg en die stad New York tans nie geraak word nie, monitor SAL die situasie op ʼn voortdurende grondslag in samewerking met lughawe-owerhede in New York en sal nog ʼn reiskennisgewing uitstuur indien nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.