VSA staak dalk J&J-entstof weens ‘bloedklonte’

Argieffoto (Foto: hakan german/Pixabay)

Amerikaanse gesondheidsowerhede het Dinsdag aanbeveel dat die gebruik van Johnson & Johnson se entstof teen Covid-19 vir eers as veiligheidsmaatreël in die VSA gestaak word, weens ʼn moontlike verband tussen dié entstof en ʼn seldsame soort bloedklont.

Die Suid-Afrikaanse regering wik en weeg glo intussen of Suid-Afrika ook vir eers sy gebruik van dié entstof moet opskort terwyl die veiligheid daarvan ondersoek word, berig Business Live.

Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR), het Dinsdag gesê die navorsingsraad, navorsers en die minister van gesondheid voer tans besprekings rakende Suid-Afrika se gebruik van die entstof in die lig van enkele gevalle in die VSA en Europa waar pasiënte bloedklonte ontwikkel het.

Die VSA se Food and Drug Administration (FDA) en die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer evalueer tans die “potensiële betekenis” van die voorkoms van serebrale veneuse sinustrombose (CVST), ʼn soort bloedklont in die brein, tesame met ʼn gebrek aan bloedplaatjies (trombositopenie) wat by ses pasiënte aangemeld is.

Die pasiënte is almal vroue tussen 18 en 48 jaar oud, wat 14 dae ná inenting simptome begin toon het.

Meer as 6,8 miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof is reeds in die VSA toegedien, wat beteken dat die seldsame soort bloedklont in ongeveer een uit ʼn miljoen gevalle waargeneem is.

“Mense wat die J&J-entstof ontvang het en binne drie weke ná inenting ernstige hoofpyn, buikpyn, pyn in die been of kortasemheid ontwikkel, moet hul [dokter] raadpleeg,” het die FDA gesê.

Die VSA se sentrums vir siektebeheer sal Woensdag ʼn vergadering met ʼn topkennerskomitee belê om hierdie gevalle en die betekenis daarvan te bespreek terwyl die FDA ʼn ondersoek sal uitvoer.

Die gesondheidsowerhede beveel intussen aan dat die gebruik van die entstof gestaak word totdat die proses afgehandel is. Die staking sal egter ʼn knou aan die Amerikaanse regering se entstofplan toedien aangesien 45% van die VSA se volwasse bevolking reeds minstens een dosis van ʼn entstof teen Covid-19 ontvang het.

Die J&J-entstof is vroeër geloof omdat dit teen yskastemperatuur geberg kan word en net een dosis benodig – anders as Pfizer en Moderna se entstowwe wat twee dosisse benodig en gevries moet word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adri ·

Die aanvanklike euforie oor die entstowwe begin nou genadiglik geleidelik afneem namate die resultate en gevolge bekend raak.

Francois ·

Waaroor worry slmal. Suid Afrika sal dy 10% prestasie van inenting eers teen 2030 bereik want hulle is pateties

Hendrik ·

Dus is jou kans een uit n miljoen om die bloedklonte op te doen. Dink net, as jou kans een uit n miljoen was om aan COVID-19 te sterf, sou daar minder as 100 mense in SA gesterf het. Die J&J entstof is met ander woorde nog steeds baie veiliger as om COVID-19 op te doen.

Jedi Knight ·

Daarsy. Span die kar voor die perde. Gee eers die entstof vir mense, en doen dan daarna toetse om die newe effekte te bepaal.

Fedup ·

Glenda, you as a professional should know better.
Force the circus to listen.
No vaccine will stop this virus.
Tell the truth and get it over with.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.