VSA steun kwytskelding van entstofpatente

Pres. Joe Biden. (Foto: Jim Watson/AFP)

Die Amerikaanse pres. Joe Biden se administrasie het Woensdag sy steun vir ʼn wêreldwye kwytskelding van patentbeskerming vir Covid-19-entstowwe aangekondig.

Patentbeskerming beteken dat niemand anders vir ʼn tydperk van 20 jaar ʼn uitvindsel sonder die uitvinder se toestemming mag vervaardig, gebruik, versprei of verkoop nie.

Indië, wat gebuk gaan onder ʼn geweldige toename in virusgevalle, lei tans die stryd in die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) om meer produsente in staat te stel om die Covid-19-entstof te vervaardig.

Farmaseutiese reuse skop egter daarteen.

ʼn Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Katherine Tai, sê hoewel intellektuele eiendomsreg belangrik is vir ondernemings, ondersteun Washington die kwytskelding van patentbeskerming rakende die Covid-19-entstof om die pandemie te beëindig.

“Dit is ʼn wêreldwye gesondheidskrisis en die buitengewone omstandighede van die Covid-19-pandemie vra vir buitengewone maatreëls,” sê Tai.

(Argieffoto: GCIS)

Biden is onder groot druk om afstand te doen van die beskerming van entstofvervaardigers te midde van kritiek dat ryk lande dosisse opgaar ten koste van armer lande.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het die Amerikaners se besluit as geskiedkundig en ʼn monumentale oomblik in die stryd teen Covid-19 bestempel.

ʼn Beroep word al maande lank op die WHO gedoen om die beskerming van intellektuele eiendom op Covid-19-entstowwe tydelik op te skort. Groot farmaseutiese maatskappye en hul gasheerlande is egter gekant hierteen.

“ʼn Kwytskelding van patentbeskerming is ʼn eenvoudige maar verkeerde antwoord op ʼn ingewikkelde probleem,” het die Internasionale Federasie van Farmaseutiese Vervaardigers en Verenigings in Genève gesê.

Lande soos Nieu-Seeland het die Amerikaners se aankondiging egter verwelkom, terwyl die Australiese premier, Scott Morrison, die stap as “groot nuus” bestempel het omdat dit Nieu-Seeland in staat sal stel om mRNA-entstowwe plaaslik te vervaardig.

Frankryk is egter nie te vinde vir ʼn kwytskelding nie en verkies eerder ʼn skenking-gebaseerde model om arm lande te help om hul tekort aan dosisse te oorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Daar is altyd meer as een kant van ‘n storie…
Die wereld bewys maar net weereens dat GELD bo lewens gestel word. We are not united. Die wat die geld het, het mag. Die wat nie die geld het nie, is minder as niks. Dis nie te se dat die sonder geld nie ook iets het om te lewer nie, maar hulle is net nie in die “in” groep nie… Ons mensdom is darem maar werklik DOM.

Tubac ·

Groot verskil tussen steun vir kwytskelding en of werklike kwytskelding. Besit nie die mag om dit te verander nie. Dit kan alleenlik gedoen word as die eienaars daartoe stem. Die uitdrukking van talk is cheap but money buys the groceries is hier van toepassing.

annie ·

Wat kan Afrika anders doen as na-aap? En as mense negatiewe-nagevolge het van swak na-apery, gaan SA self vir die na-drama betaal? Eintlik gaan die entstof plaaslik ook deur Indiè gemaak word en so bly Indiè ons master as usual.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.