Maroela Media het vroeër berig die brand het Donderdagoggend omstreeks 02:00 by die Lakehaven Child and Youth Care Centre in Newlands-Oos ontstaan.
Robert McKenzie, woordvoerder vir die provinsiale nooddienste, het gesê vier persone is beseer in die brand. Een van die huise is verwoes in die brand.
Ncumisa Ndelu, provinsiale woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling, het gesê daar was 18 persone in die huis toe die brand uitgebreek het. “Sewe kinders en ʼn 19-jarige is dood,” het sy gesê.
Ndelu het bygevoeg ander kinders het die brand oorleef en is vir snye en rookinaseming behandel. Twee kinderversorgers het ook beserings opgedoen. “Meeste van die kinders wat by die weeshuis tuisgaan, is met vakansie en was nie op die perseel nie.”
Verskeie soek- en reddingsvoertuie van die polisie en lykswaens was Donderdag by die perseel.
Die gebied is ook afgesper terwyl forensiese ondersoekbeamptes ondersoek ingestel het. ʼn Aantal voertuie het ook aangekom om kos af te lewer en persone, vermoedelik familielede, het die huis besoek en is in trane daar weg.
Shehnaaz Gabru, uitvoerende direkteur van die sentrum, het tranerig aan verslaggewers gesê sy glo alle noodontruimingsprosesse is gevolg. Sy het ook bevestig daar was 18 kinders op die perseel. “Personeellede het omstreeks 01:40 ontdek ʼn brand het in een van die huise uitgebreek en alle ontruimingsprosedures is gevolg,” het sy gesê.
Gabru het gesê hulle probeer nog die verlies verwerk. “Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Owerhede stel ondersoek in,” het sy gesê. “Al die kinders en ouers van die oorledenes ontvang traumaberading. Ons waardeer die ondersteuning en boodskappe van meegevoel wat ons reeds ontvang het.
Volgens ʼn verklaring deur die eThekwini-munisipaliteit wat Donderdagmiddag uitgereik is, is die brandweer omstreeks 02:25 ontbied en brandbestryders het ongeveer 10 minute later, omstreeks 02:35, opgedaag.
James Nxulo, Durban se uittredende burgemeester, en Zandile Gumede, die vrou wat hom waarskynlik sal opvolg ná die plaaslikeregeringsverkiesing, het ook die tehuis besoek en hul medelye betoon.
Verskeie inwoners van omliggende huise het hul skok en misnoeë uitgespreek oor die brand. ʼn Aantal persone het gesê hulle het nie enigiets deur die aand gehoor of gesien nie.
Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie ondersoek doen agt geregtelike doodsondersoeke. “Vuilspel word nie in hierdie stadium vermoed nie,” het hy gesê.
Pres. Jacob Zuma het ook intussen in ʼn verklaring sy meegevoel betuig. “Ons is baie hartseer oor hierdie tragiese verlies van lewe en die ernstige beserings wat die ander kinders opgedoen het. Ons innige meegevoel met al die families wat deur ʼn baie moeilike tyd gaan. Mag die beseerdes fisies en emosioneel genees ná hierdie trauma,” het hy gesê.
Zuma het gesê die provinsiale regering sal noodsaaklike ondersteuning aan die betrokke families verleen.
Hierdie is werklik tragies en baie hartseer sjoe
Personeellede ontdek brand om 01:40 maar brandweer word eers 2:25 ontbied…Hoekom so lank wag?..Rus sag kindertjies Pappa God sal mooi na julle kyk
Here, help hierdie mense om weer te kan herstel wat afgebreek is, al die hartseer wat hul moes ervaar, die lewens wat geneem is. Hul sorg vir hierdie wees kinders, hul gee om. Wees goed vir hul, beskerm hul… en vir die kinders wat moes sterf RIP By God is jul veilig.
Ek moet vra: wanneer hou ‘n mens op om ‘n kind te wees? ‘n 19-jarige “kind” is ook dood in die brand; hoekom is ‘n person wat reeds stemgeregtig en mondig is, dan nog in ‘n weeshuis? EN: wat laat my dink dit is dalk ‘n brandende sigaret of zol wat die brand veroorsaak het? Nietemin: dit was tragies en RIV aan die onskuldige kindertjies wat in die brand omgekom het.
Regtig nie nodig die uilating nie.
Almal word nie met n goue lepel in die mond gebore nie.
Elke kind verdien n regverdige kans in die lewe om hulle voete te vind.
Daar is regtig persone wat sukkel, emosioneel, geldelik en vele meer.
Is baie tragies, RIV en sterkte aan almal wat hierdie groot verlies moet deur werk