Vuiste klap oor Oppenheimers se private lughaweterminaal

Jonathan (links) en Nicky Oppenheimer in die parlement. Foto: ANA

Die skatryk Oppenheimer-familie het Dinsdag hul private terminaal op die OR Tambo-lughawe heftig verdedig op ʼn vergadering met parlementslede wat deur spanning en ontwrigting gekenmerk is.

Die voorlegging aan die parlement se portefeuljekomitee oor binnelandse sake is in ʼn stadium ontwrig deur lede van Black First Land First (BLF) toe ʼn lid van die organisasie Nicky Oppenheimer, een van Suid-Afrika se rykste mense, te lyf gegaan het.

Andile Mngxitama, BLF-leier, is hardhandig deur die parlement se veiligheidspersoneel verwyder nadat hy begin skree het: “Maak Fireblade toe!” – met verwysing na Fireblade Aviaton, die Oppenheimers se maatskappy wat die private terminaal vir BBP- en BBBP-passasiers bedryf. (Laasgenoemde verwys na baie, baie belangrike persone.)

“Dit is ʼn kriminele familie dié,” het Mngxitama geskree. “Julle laat toe dat hulle julle belieg. Nicky en sy pa [wyle Harry Oppenheimer] het na die ANC gegaan. Hulle het die ANC gekaap.”

BLF-lede het vroeër sitplekke ingeneem tussen LP’s en na aan die Oppenheimers. ʼn Man het tot by Nicky en Jonathan Oppenheimer gestap, sy vinger na hulle gewys en hulle te lyf gegaan – voor lede van die parlement se veiligheidspan tussenbeide getree en hom en ander hardhandig uit die vertrek verwyder het.

Ná die chaos het die vergadering voortgegaan toe Nicky sowel as Jonathan Oppenheimer ontken het dat die private terminaal net vir hul familie bedryf word.

“Sedert dit met binnelandse sowel as buitelandse dienste begin het, het ons 13 884 bewegings gehad, waarvan die meerderheid binnelands was en die familie vir net 5% daarvan verantwoordelik was,” het Jonathan Oppenheimer gesê. “Dis dus geensins vir die eksklusiewe gebruik van die familie nie.”

Nicky Oppenheimer het vertel wat aanleiding gegee het tot die hofsaak waarin Fireblade Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, se oënskynlike ommekeer uitgedaag het toe hy besluit het om nie die bedryf van ʼn private doeane- en immigrasiediens by die terminaal toe te laat nie. Regstappe is dus toe as ʼn “laaste uitweg” beskou.

Hy het gesê hy en sy seun het besluit om te belê in ʼn poort van wêreldgehalte na Suid-Afrika en het begin beplan aan die bouwerk aan die fasiliteit van R150 miljoen.

Fireblade Aviation het toe met Denel begin onderhandel om die ruimte op OR Tambo te huur en het 27 goedkeurings van verskillende staatsdepartemente en -instellings ontvang.

Oppenheimer het in Januarie 2016 in Pretoria met Gigaba onderhandel en sy finale goedkeuring gekry.

“Ná hierdie ontmoeting het binnelandse sake in gebreke gebly om op te tree volgens die minister se goedkeuring. Dit het gou duidelik geword daar was geen voorneme om die ooreenkoms te eerbiedig nie.”

Dit het aanleiding gegee tot die regstappe toe die hooggeregshof Fireblade se kant gekies en Gigaba selfs daarvan beskuldig het dat hy onder eed gelieg het dat hy nie goedkeuring verleen het nie.

Gigaba se appèl is ook van die hand gewys. Die minister is blykbaar nou van plan om die konstitusionele hof te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Ander Annie ·

Skande der skande. Die video is noual die wêreld vol. Wat het Andile en sy BLF in elk geval bereik met hulle geskreeu en ongemanierde aksie? Geen saak kan met sulke gedrag bespreek word nie. Nee wat, Parlement moet streng optree geen Andile en sy BLF lede.

Nou ja Toe. ·

Karma.
Oppenheimer & Kie sit met hul hoofkantoor in die land van die Kwien en stroop ongebreideld SA bates.
Saam met die Suzman brigade…kry hul wat hul toekom.

Chris du preez ·

Wat soek hulle in die parlement tussen die LP s. Nog steeds geen sekuriteit .

bgj van der westhuizen ·

so raak die narre in suid afrika net meer en meer die lede van blf besit niks en hulle gin nie mand eits wat besit nie hy moet eerder n werk kry en begin om van hom self eits te maak

Leeutjie ·

Blf mag vingers rondswaai en klap en skreeu…tot die Oppenheimers hulself onttrek uit die land en talle werkloos laat!!! Maar nee..hulle velle is mos wit en Blf mag mos!!!!! Dis rassisme met n uitroepteken!!!

Nita ·

Die BLF en sy lede moet hul liewer besig hou met die verbetering van die rioleringstelsels in Suid-Afrika. Los die Oppenheimers uit. N groot deel van die land se vooruitgang is deur hulle bewerkstellig.

sinies ·

Vervolg BLF krimineel vir aanranding om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak.

Estelle ·

Die Afrika mentaliteit van ek het nie, maar jy het, so jy mag nie meer hê nie.

Al ·

BLFL is te lui om vir ñ bestaan te werk en wil als op ñ skinkbord hê.
Hul besef nie deur harde werk en hope geduld raak jy ryk nie.
Rassiste!

Alida ·

Gigaba is nou besig om vure dood te slaan na sy blapsie. Hy sal later aandag skenk hieraan as hy moed het om enigsins sy gesig op TV te wys.

Hendrik van George ·

Gigaba, wat eintlik een van die hoof narre in die ANC is, is weereens besig om waarde te vernietig en te verwoes. Die terminaal voeg waarde by op OR Tambo.

Riaan ·

Is hierdie nie dieselfde Oppenheimers wat die ANC en hulle terroriste bendes gesteun het tydens die aparteid era nie. Nou moet hulle n vinnige escspe route he vir die dag as totale anargie losbars. So draai die wiel

Carl ·

Genade die familie bly al lank reeds in London en kan buiten dien vlieg wasr hulle wil wees sonder om R150m te investeer. Hierdie is tot opbou van die land

Anoniem ·

Ek glo nie julle besef hoeveel die Oppenheimers vir SA beteken nie. Ek se nie hulle is reg nie maar ons moet verstaan dat sonder hulle is SA bankrot en miljoene sal sonder werk sit. Gaaan google hulle belange dan sal julle sien wat behoort aan die Oppenheimers. Dus menere voordat julle mense soos die Oppenheimers en die ander talle ryk mense wil kritiseer dink bietjie waar kom jou werk en inkomste vandaan. Wonder of jy nog so sal aangaan as jou werk weggevat word en jy nie meer n bord kos op jou tafel kan sit nie.

humor ·

Riaan jy raak darem nou hier n ding aan waaroor daar baie gepraat kan word. Een uitspraak wat ek uit hierdie geledere kan onthou is dat die boereoorlog / engelseoorlog welverdiend was omdat die Boere te agterlik was om die land te ontwikkel. Maar nouja hulle het sekerlik baie aan die land opgebou, maar ook tog selfverryk

Staak saam ·

Die brandsiek hond wat die Oppenheimers so mooi gevoer en vertroetel het byt nou terug.
En kalmeer, wat ek bo se is net beeldspraak.

Rooikop ·

Blink Stefaans se skandes raak net meer en meer ……………….. hy moet definitief
uit sy eie bedank of gefire word ………………

Vihanca ·

Wat ek nie kan verstaan nie? Hoekom was BLF daar gewees? Hulle is nie deel van die komitee of parlement nie. Is sulke vergaderings en verduidelikings aan ‘n ondersoek van die parlemt dan oop aan die publiek? . BLF sukkel nog om die R605 000.00 bymekaar te maak om te registreer vir volgende jaar se verkiesing. Net ‘n dom vraag van my kant af.

Wim Kotze ·

Vihanca, Nicky wou seker nie gehelp het met die verkiesings-deposito nie. Die Oppenheimer’s is mos reeds deur die ANC gekaap.

jakes ·

Die BLF sal nog uitvind dat jy streel nie n leeu se maanhare asof dit n skoothondjie is nie. Die Oppenheimers is invloedryke mense wat derduisende mense in SA van werk voorsien. Glo my, hulle sal nie hulself met korrupsie bemoei nie want hulle is ryk genoeg en het niks of niemand se aalmoese nodig nie. Tipies van die BLF wie se blaf geen byt het nie. Hulle maak net hul eie en SA se naam krater. Wat n piesangrepubliek het ons nie geword nie.

se iets ·

Vir my is dit net jaloesie wat so maak. BLF wil ook geld he, so nou dat hulle nie hulle vingers in die pie kry vir geld nie nou is dit nie reg nie.
Shame wat mense sal doen om aandag te kry.
Oppenheimers het gewerk vir wat hulle vandag het hoekom kan die BLF ook nie?

Jeremia ·

Ja, eendag was daar …. Eers het die een lot gekom en hulle in daardie land verryk.
Maar eers was daar ‘n groot oorlog en toe het baie mense gesterf.
(Belangrike dele van storie uitgelaat t.w.v. woordbeperking)
Toe was daar weer oorlog en toe daardie oorlog nie meer aan daardie land se grense was nie, het dit binne in die land geskuif.
Nog voor die misdadigers voor die voet begin plunder en moor het, het die verryktes gesorg dat hulle betyds padgee.
Maar hierdie keer het hulle per vliegtuig gegaan en nie meer per skip soos tydens vorige oorlog nie.
Toe kom daar die nuwe lot om hulle (verder) te verryk en jakker rond en bont met privaat vliegtuie om onder meer sprokietroue te hou.
Toe skielik heel toevallig gee hulle toe ook baie betyds pad – per vliegtuig.
En res kos nie te veel verbeelding nie….

Haan ·

Danien, jy het nie n idee hoe diep hul kloue in die Afrikaner se geskiedenis lê nie. Hulle het n groot oorwinning behaal deur die myne van die ZAR onder “Anglo-American” te annekseer na die boereoorlog.
Vra jouself : “Cui bono?”

Anoniem ·

Ja Haan ek dink of ek weet presies wat hulle gedoen het daarom se ek ek se nie hulle is reg nie maar weet jy hoeveel mense het werk deur hulle toedoen. Ons almal weet om geld te maak moet jy onderduims en genadeloos wees, selfs van die kerke is net so maar kom ons los dit daar ek het my lewe lank gewerk vir verskeie firmas waarvan die meeste op die een of ander manier verbintenisse het met die Oppenheimers en ek kan hulle ongelukkig nie met klippe bestook nie want jy sien Haan ek het kaal in die lewe gekom en gaan kaal uit die lewe. My tyd op aarde is geleen asook als wat ek bereik het was maar net geleen. Niks maar niks kan ek saamvat as ek my laaste asem uitblaas maar ek en jy en die Oppenheimers gaan eendag moet rekenskap gee. Die rykman was en sal altyd genadeloos wees van Lazarus se tyd af.

Aankla ·

Wat sommige mense nie besef nie, is dat SA mense soos die Oppenheimers nodig het om in die ekonomie te belê.
Wat het BLF in die eerste plek in die parlement gemaak? Hulle is mos nie lid van die Parlement of hierdie betrokke portefeuljekomitee nie. Hulle het maar net weereens bewys hoe onopgevoed en barbaars hulle eintlik is. Hoop die Oppenheimers kla hulle aan. Dit behoort ‘n interessante hofsaak te wees en sal verseker dat BLF nie genoeg geld bymekaar sal kry om as politieke party in vlg. jaar se verkiesing mee te doen nie. Hulle sal al hulle geld met die hofsaak verloor (:

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.