Vullisterreinoudit op positiewe noot begin

AfriForum oorhandig die trofee vir die beste munisipale vullisterrein in 2016 aan Groter Tzaneen munisipaliteit Foto: AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy nasionale vullisterreinouditprojek by die Groter Tzaneen Munisipaliteit in Tzaneen van stapel gestuur. Tydens dié geleentheid het AfriForum ’n toekenning vir die beste munisipale vullisterrein vir 2016 (volgens AfriForum se verslag) aan dié munisipaliteit oorhandig. AfriForum het weer vanjaar ’n oudit op dié vullisterrein gedoen en dit met 100% bekroon. Dié oudit is gedoen aan die hand van die minimum vereistes waaraan ’n vullisterrein volgens wetgewing moet voldoen.

“Dié vullisterrein is geheel en al met elektriese heinings omhein, beskik oor ’n weegbrug en daar is sekuriteit by die hek,” het Chris Boshoff, projekkoördineerder by AfriForum, gesê. “Daar word ook ’n grootskaalse komposprojek gedryf. Dit is verblydend om te sien dat daar steeds vullisterreine is wat op so ’n hoë standaard bestuur word. Ons hoop dat ander munisipaliteite hierdie jaar dieselfde sal doen. Dit is vir ons belangrik om ook erkenning te gee waar dit toekom.”

Die Tzaneen-vullisterrein moes al in 2010 weens ’n tekort aan lugruimte gesluit het, maar te danke aan goeie kompaktering, innoverende bestuur en die herwinning van 200 ton vullis elke maand is die leeftyd van die vullisterrein met nog 20 jaar verleng. Boonop bespaar die vullisterrein jaarliks R7 miljoen deur herwinning toe te pas. Alle masjinerie is in werkende orde en vullis word daagliks gekompakteer.

“Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie in. Verder mag geen mediese afval op enige vullisterrein wees wat as algemene terrein geklassifiseer word nie. AfriForum het dié vereistes in 33 vrae verwerk en gebruik dan dié vrae om die vullisterreinoudit te doen,” het Boshoff verduidelik.

AfriForum gaan in die volgende twee weke vullisterreine in dié areas oudit waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Die uitslae gaan dan in ’n verslag opgeneem word en aan Edna Molewa, minister van omgewingsake, oorhandig word. “Ons is dankbaar vir die departement van omgewingsake se samewerking in hierdie verband en dat die departement se provinsiale afvalbestuursbeamptes vir ons oudits beskikbaar gestel is,” het Boshoff bygevoeg.

AfriForum het reeds elf terreine in Suid-Afrika (dit wil sê minstens een per provinsie) in samewerking met die departement as prioriteitsgevalle geïdentifiseer. Twee van die terreine – Heatherley en Libanon – is in Gauteng geleë en AfriForum gaan aanhou druk toepas om beide terreine voor die einde van 2017 op standaard te bring.

In 2016 het 82% van die 83 vullisterreine wat geoudit is nie aan die minimum standaarde voldoen nie.

Ondersteun AfriForum se vullisterreinouditprojek: SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hansie ·

Ek hoop hulle kom eendag by Sasolburg uit. Het Afriforum al amper n jaar terug gekontak vir hulp, die mense hier is besig om die dorp se mense te vergiftig, maar ons loop steeds in n muur van weerstand vas

Frik Kruger ·

Hulle harte sal gaan staan as hulle Northam en Thabazimbi se stortings terreine besoek. Geen plan geen wetgewing geen beheer. Te hartseer om van te praat.

Pensioenaris ·

Baie geluk Tzaneen. mooi voorbeeld vir al ons munisipaliteite! Hoop die ander volg dit na!

snoefie ·

spaar julleself die moeite en papier afriforum. edna het toiletpapier.

Eish ·

Dit is baie duidelik dat kundiges die terrein bestuur. Wat n vars briesie tussen oorweldigende stank van verrotting!

Obvoltooid ·

Klerksoord stortings terrein – Pretoria – het n nuwe plakkers kamp geword, Afriforum moet liefs nie daar ‘n draai maak nie

Hanna ·

Herwinning en bekamping van besoedeling is elkeen se verantwoordelikheid.
Dit laat mens trots voel as jy aktief deelneem aan herwinning. In ons huis is dit reeds n gewoonte.
Ipv 3 sakke Rommel per week, sit ons ,2 en n 3 kwart herwinning sakke uit en elke 3e week n nie-vol sal met nie- herwinbare Rommel.
Herwinbare Rommel bestaan grootliks uit verpakkings material.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.