Vullisverwyderaar sterf op Pta-golflandgoed

Argieffoto: Netcare 911.

Argieffoto: Netcare 911.

ʼn Vullisverwyderaar is Vrydag in ʼn beweerde fratsongeluk op ʼn spog-golflandgoed in die ooste van Pretoria dood.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het in Glendowerstraat in die Woodhill-golflandgoed plaasgevind.

“Volgens inligting van die toneel was die werkers besig om rommel te verwyder en op ʼn vullistrok te laai,” het Botha gesê. “Die werker, in sy 20’s, het na bewering op die kant van die bewegende trok probeer spring en onder die wiele beland.”

Die man was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.

Ao. Dave Miller, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het aan Maroela Media die voorval bevestig. Hy het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

Dis NIE ‘n fratsongeluk maar ‘n manier van doen om op en af van die kante van trokke te spring. Daar word dan ook soos vinke aan die kante gehang van die trok terwyl daar soos besetenes met die trokke gery word. Dis ‘n wonderwerk dat daar nie meer ongelukke is.
Hier by ons is daar van 13 trokke slegs DRIE wat loop wat nog meer werksdruk veroorsaak.
Wonder waar is die personeel van die ander tien trokke ?

Leeutjie ·

Peet ek het ook opgemerk dat die bestuurder van die vullis trok nie stop nie. Die trok bly beweeg en ek dink die arme werkers moet spring om by te bly!

SNEL ·

Dis hartseer om te dink dis nou juis iemand wat op n heerlike manier n geldjie probeer verdien het wat nou so tot sy einde kom.

Eliza-beth ·

SNEL, ek maak gereeld vingerfoute en dink soms ek is disleksies want gereeld draai ek letters om! Dalk was dit wel ‘n heerlike geldjie vir hom, bo en behalwe dat dit eerlik is! Lekker in die son en buite wees – dis nie aldag ‘n LEKKER werk, maar vir hom was dit dalk, die gefluit en gelag, die ouens kan soms heel vrolik hul werk doen. Hulle werk ook maar hard en soos ek sê dalk was dit heerlik vir hom om te weet hy kry salaris aan die einde van die maand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.