Vullisverwydering hervat in Durban

Foto: Verskaf.

Durban se eThekwini-munisipaliteit het Dinsdag gesê die stad se vullisverwyderingsdienste is hervat nadat sy werknemers van die Expanded Public Works Programme (EPWP) teruggekeer het werk toe ná ʼn staking verlede week.

Honderde EPWP-werkers van die munisipaliteit het Vrydag begin staak en geëis om op ʼn voltydse grondslag deur die stad aangestel te word en ʼn salarisverhoging van R2 500  te ontvang.

EPWP-werkers het glo tydens hul staking die stad se strate met rommel en asblikke bestrooi asook werknemers van die stad se departement van reiniging en vaste afval verhoed om die strate skoon te maak.

Die munisipaliteit het Maandag vir die stakende werkers ʼn ultimatum gestel dat hulle die aandskof moet kom werk of die risiko waag dat hul kontrakte dalk beëindig kan word.

eThekwini het in ʼn verklaring gesê daar is Sondagaand omvattend met die werknemers beraadslaag. Hulle het glo tydens dié bespreking ingestem om onmiddellik terug te keer werk toe.

“Hulle het egter Maandag verder gestaak, voltydse indiensneming geëis en werknemers van die stad se departement van reiniging en vaste afval verhoed om hul take uit te voer.”

Die munisipaliteit het bygevoeg dat die mensehulpbronreserwes verhoog is om te verseker dat  die vullisagterstand voor die einde van die week opgeklaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.