Vurige debat oor hoof van polisiewaghond

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Nasionale Vergadering het vandag met ʼn groot meerderheid besluit dat Robert McBride se posisie as hoof van die onafhanklike polisie-ondersoekeenheid (Opod) nie hernieu sal word nie.

Dit was ʼn vurige debat wat soms in chaos ontaard het.

Die debat is ingelei deur die ANC-LP Francois Beukman, wat ook voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie is.

Beukman het op die regsaspek van die politieke appelswaaiery tussen McBride en die minister van polisie, genl. Bheki Cele, gekonsentreer. Hy het uitgewys dat McBride se kontrak op 28 Februarie tot ʼn einde gekom het en dat hy geen noodwendige reg op die hernuwing van die kontrak en gevolglike verlenging van sy ampstyd het nie.

Volgens Beukman het die meeste lede van die portefeuljekomitee besluit dat hulle met Cele saamstem en dat McBride se kontrak dus nie hernieu moet word nie.

Dianne Kohler-Barnard. Foto: Reint Dykema

Namens die DA het Dianne Kohler Barnard behoorlik onder Beukman en die ANC ingeklim en hulle die kop gewas.

Volgens Kohler Barnard behoort die ANC hom te skaam dat hy iemand wat sy werk behoorlik doen, nie die kans gun om daarmee voort te gaan nie – dieselfde denkwyse wat destyds die Skerpioene vernietig het.

“Ek is vandag skaam om saam met daardie ANC-lede in dieselfde portefeuljekomitee te dien, want die stert swaai die hond. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat moet die polisie en die minister verantwoordbaar hou. Hoe kan hulle dit doen as die minister kan voorskryf wie die pos vul?

“Die ANC-LP’s het self nog deurgaans aangevoer McBride vaar uitstekend, maar toe die minister praat, toe spring hulle. Probeer die minister iets wegsteek? Nou stel hy ʼn waarnemende hoof aan wat om verskeie redes nie eens sekerheidsklaring het nie. Wat ʼn skande!” het Kohler Barnard uitgeroep.

Namens die EFF het die party se LP Nazier Paulsen gesê hoewel sy party ook meen McBride moenie in die pos voortgaan nie, verskil hul redes van die ANC s’n. Die EFF meen steun van wat hulle noem “regse organisasies soos die Helen Suzman-stigting” beteken McBride kan nie onpartydig optree nie.

Die IVP en die NFP het dit ook gesteun dat McBride nie heraangestel word nie. Die UDM en die ANC was in ʼn reusagtige woordewisseling omdat die UDM meen die gebeure wys die minister meng in waar hy nie moet nie.

Die debat is afgesluit deur die ANC-LP Jerome Maake wat gesê het die DA probeer die ANC uit die regering stoot.

Volgens Maake is McBride ʼn senior ANC-lid en is dit dus ʼn saak wat die ANC intern sal hanteer soos hy wil.

Nadat die DA uit protes uitgestap het, is met 172 stemme teen 5 besluit dat McBride se kontrak nie hernieu sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Msie ·

McBride weet seker dinge wat Min. Cele en die ander wil wegsteek! Hy het sy werk te goed gedoen en moet nou daavoor boet!

Koos ·

Uiteindelik!!!

Hoop hierdie soort prosesse waar ongewenstes in magsposisies is, word baie vinnig baie meer – selfs met ongewenste ministers in die parlement en in sekere partye se kandidaatslyste ook, skerp en konsekwent toegepas!!!

Ons land kort ‘n wye en diep algehele skoonmaak aksie in die kringe waar mens werklikwaar integriteit, eerlikheid en bowe alles, diensbaarheid teenoor ons land en al sy mense verwag.

leser ·

mooi gedoen, sit die m@@%@@naar op straat, dis waar hy hoort

Phillip Duvenage ·

So n bêk moet jam kry. Ek stem heelhartig met jou saam.

Neels ·

Ek het mos van te vore gese McBrid het te naby aan die koruptenare in die ANC polisie mag beweeg en moet weggewerk word. Hier is nou n duidelike bewys hoe naby hy gekom het om hlle te ontbloot en die hele klomp moet sam span soos met al di ander kere

Antjie ·

Ai! Ek hou nie van ʼn bomplanter as hoof van die polisie se in-hul-plek-hou liggaam nie, maar nog minder van iemand wat spesifiek daar geplant word om nóg meer waarhede te help toesmeer. Kom ons vra die ANC moet sommer ʼn Toesmeer Departement begin ook, en hulle mag gee om in opdrag van enige Zuma-kader, enige ander departement en alle lede van die publiek in die ANC se kassie te hou.

Arak ·

So die DA veg hard vir die bomplanter en moordenaar om sy werk te hou. Wat het geword van sy dogter se klag van aanranding teen hom, of is die ook onder die mat ingevee? Dink die DA regtig dat iemand wat uit sy dade gewys het dat hy ‘n immorele terroris is die beste persoon is om die polisie te ondersoek. Hoekom veg hulle nie liewer so hard vir elke eerlike mens wat besig is om sy werk te verloor weens die gemors by eskom nie.
Ek is ook van mening dat ons maar na Jan-Jan moet verwys as die DA se (nie amptelike) beeldpoetser, eerder as ‘n politieke korrespondent, want al sy berigte het net ten doel om die DA se beeld so ver moontlik te probeer poets.

Akademi Buktu ·

Ja, laat die minister wat weens onreëlmatighede (ook bekend as korrupsie) as nasionale Kommissaris van Polisie gepos moes word, asb op die hoër ontplooiingsvlak sy dinge ongesteurd doen. Dis mos maar die ANC styl. Integriteit is ‘n Europese konsep, of hoe?

Sarel ·

Mcbride hoort in die tronk , vraag is egter of sy opvolger n persoon gaan wees wat sy werk onbevange sal kan uitvoer. Neem net kennis dat dit dieselfde kommitee is(Voorsitter) wat gestem het dat die wetgehoorsame landsburgers ontwapen moet word sodat slegs die veiligheiddienste en dus in efek die misdadigers , wat ook n groot aantal van genoemde magte behels gewapen sal wees. Mens kan maar net bekommerd wees oor wat die groter plan is.

chriss ·

Hy hoort defenitief in die tronk en is net so korrup as al die staats amptenare.

Dankie tog ·

Dankie tog, die bomplanter is weggejaag. Nou moet hulle nog net daai arrogante Beukman wegjaag, hy was mos ook by die ou ICD. Hy mik seker weer vir die pos …

JohanL ·

As Heksie se motivering “water dra”, dan moet omtrent almal in huidige regering tronk toe gaan !!!!!

Attie. ·

Nou is ons uiteindelik van hom ontslae….tensy hy weer in n pos ingedruk gaan word….wat van onbasadeur in Zimbabwe ?

JohanL ·

In beginsel agv dit wat hy in verlede gedoen het, het ek ook nie veel ooghare vir McBride nie. Maar gaan lees bietjie Johan Booysen se boek en jy sal agterkom dat McBride ‘n werklike “passie” het om korrupsie uit te roei. En dit klop dan nou juis met dit wat nou besig is om te gebeur – hy doen sy werk goed en daarom word hy uitgewerk, want hy is besig om op die korruptes se tone te trap. En dit sluit die Minister in.

Realis ·

Die wêreld is ‘n harde, koue plek as die soustrein jou afgooi. Welkom in die gewone man se wêreld Robert. Hier word jy as maar net nog ‘n lafhartige massamoordenaar onthou.

Lerato ·

Ek het gewonder of Cele Roux Shabangu in McBride se pos gaan aanstel?
Dan kan hy sommer ‘n ogie hou oor die verhuring van geboue vir die polisie se gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.