VUT ontken gewelddadige uitsettings

Studente betoog by VUT. Foto: @BennBurn op Twitter.

Studente betoog by VUT. Foto: @BennBurn op Twitter.

Die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) het ontken dat hy studente by sy Vanderbijlpark-kampus met geweld uit koshuise verwyder het.

Mike Khuboni, woordvoerder van die universiteit, sê die studente het Dinsdag kennisgewings ontvang dat hulle teen 07:00 Woensdagoggend die koshuise moes ontruim.

“Daar was studente wat geweier het om die koshuise te ontruim en veiligheidswagte moes van kamer tot kamer gaan om vir hulle te sê om die koshuise te ontruim,” het Khuboni gesê.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) beweer egter dat die studente teen 06:00 Woensdagoggend reeds uit die koshuise geskop is. Mandisa Mashego, woordvoerder van die EFF in Gauteng, sê die studente is deur veiligheidswagte en lede van die polisie se honde-eenheid uit die koshuise gejaag.

“Die studente is nie die kans gegun om enige van hul besittings te vat en nie en sit nou op straat,” het Mashego gesê.

Volgens Mashego word meer as 3 000 studente geraak. Sy sê ‘n EFF-studenteleier is in hegtenis geneem nadat die persoon glo probeer het om medestudente te beskerm nadat veiligheidswagte glo vuurwapens uitgeruk het en gedreig het om die studente te skiet. “Nog ʼn student is in die hospitaal met ernstige beserings terwyl talle ander ook beseer is.”

Khuboni het egter ontken dat die polisie betrokke was. Studente het verlede week begin betoog. Khuboni sê studente het eiendom beskadig en die ingang van die kampus versper. Die studente het betoog weens ʼn gebrek aan fondse in die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).

Khuboni sê die universiteit se bestuur sal voor die einde van die week vergader om te besluit wanneer die koshuise weer sal heropen en klasse hervat sal word.

Studente by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het dosente intussen daarvan beskuldig dat hulle rassisties is. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.