Vuurwapen-saak: Malema-regspan is desperaat

Julius Malema, leier van die EFF. (Foto: EFF/Twitter)

Die vyfde dag sowel as die eerste week van die strafregtelike vervolging van Julius Malema vir verskeie oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer is in die Oos-Londen-streekhof afgehandel. AfriForum het in 2018 die strafregtelike klagtes teen Malema en sy lyfwag, Adriaan Snyman, aanhangig gemaak.

Sleutelgetuies het tydens die eerste week van die verhoor in die hof getuig, insluitend ’n ballistiese deskundige.

“Malema het in Februarie in die hof verskyn vir die ‘Skiet die boer’-haatspraaksaak waar die kernkwessie die aanhitsing tot geweld in daardie lied was,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. “Nou verskyn Malema in die hof omdat hy na bewering ’n vuurwapen onwettig op ’n verhoog afgevuur het. Dit laat ’n mens wonder, wat is volgende? Om werklik slagoffers te skiet?”

Van Zyl sê Malema het tydens die haatspraaksaak getuig dat as hy en sy party die lirieke letterlik bedoel het, sou hulle regte gewere op die verhoog afvuur en nie bloot met hul vingers beduie nie.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, voeg by dit wil voorkom asof Malema en Snyman se regspan al hulle geld gewed het op ’n taktiek om oral twyfel in hierdie saak te probeer saai en om diegene wat getuig het, veral die ballistiese deskundige, te diskrediteer. “Dit blyk egter asof hierdie taktiek nie werk nie.”

Malema het vroeër vandeesweek skuld ontken op die vuurwapenverwante aanklagte waarop hy teregstaan. Dít nadat die saak teen hom en sy medebeskuldigde, Adriaan Snyman, al jare lank sloer. Snyman het glo destyds die wapen aan Malema oorhandig waarmee verskeie skote afgevuur is. Verdoemende getuienis is Donderdag in die Oos-Londense streekhof teen die twee gemaak.

Die saak sal na verwagting op 5 September 2022 in die Oos-Londen-streekhof voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Is hulle bang vir die twee? Vonnis hulle en kry klaar. Oranje pas by Malema.

Jannie van Niekerk

Daar is ‘n miljoen keer groter kans dat elke enkele lewende wese in die heelal binne ‘n halfsekond ‘n multimiljarder sal word as wat daar een kans is dat Malema OOIT in die Geskiedenis van die mensdom tot soevr as in die ewigeheid ooit verevolg sal word vir sy misdade. Daarvoor sal sy huisvriende, Ramaphosa, Andre Gaum en Chris Nissen sorg.