Vuurwapenamnestie toe nie verleng

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pogings van die polisiediens om die vuurwapenamnestietydperk te verleng wat op Sondag 31 Mei ten einde geloop het, is van die baan. Geen vuurwapenamnestie geld tans nie.

Dit blyk intussen uit die syfers wat die polisie Woensdag bekend gemaak het dat duisende vuurwapens ingegee is by polisiestasies en duisende aansoeke om die hernuwing van vuurwapenlisensies wat verval het, ingedien is, maar dat die polisie se hantering van die vuurwapens en die aansoeke teen ’n absolute slakkepas beweeg.

Maroela Media het vroeër berig dat Bheki Cele, minister van polisie, die parlement genader het oor die moontlike verlenging van die vuurwapenamnestietydperk. Dit nadat AfriForum versoek het dat die amnestietydperk verleng word omdat vuurwapeneienaars wat van die amnestieperiode gebruik wil maak, moontlik deur die afsonderingstydperk verhinder word.

Dit wil wel voorkom of ’n nuwe amnestietydperk van 1 Augustus tot 31 Januarie aanstaande jaar ingestel kan word, mits die parlement dit goedkeur.

Genl.maj. Okkie Terblanche, DA-LP, het op 27 Mei op ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie uitgewys dat die Vuurwapenwet nie voorsiening maak vir die verlenging van ’n amnestietydperk nie.

Argieffoto: SAPD

Nadat die polisie Woensdag tydens ʼn portefeuljekomiteevergadering ’n konsepkennisgewing ingedien het om ’n nuwe amnestietydperk in te stel vanaf 1 Junie tot 30 November, het die komitee aan die polisie uitgewys dat amnestie kragtens wetgewing ook nie terugwerkend ingestel kan word nie, wat ook daardie poging gesink het.

Die polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het Woensdagoggend ’n versoek aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, gestuur vir die parlement om ’n nuwe amnestietydperk goed te keur, wat van 1 Augustus vanjaar tot 31 Januarie aanstaande jaar sal geld.

Aangesien dit vandag eers by Modise ingedien is, kon Sitole se versoek nog nie amptelik deur die portefeuljekomitee bespreek word nie omdat Modise nog nie kans gehad het om dit amptelik na die komitee te verwys nie.

Die portefeuljekomitee kon dus nie vandag die jongste amnestievoorstel bespreek nie omdat hulle dit nog nie amptelik ontvang het nie. Die konsep van ’n amnestie is wel in beginsel goedgekeur.

Volgens die polisie se syfers is 27 336 wapens tydens die amnestie ingegee. Hiervan is 6 891 gestuur om ballisties getoets te word sodat vasgestel kan word of dit in misdade gebruik is. Nog net 33 van die toetse is afgehandel. Van die 33 is agt vuurwapens wel positief met misdaad verbind.

Van die 10 704 aansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies is nog net 147 afgehandel, wat beteken teen die huidige pas sal dit jare neem om die huidige proses af te handel.

Die DA-LP George Michalakis het aan Maroela Media gesê vuurwapenamnestie is nie iets wat die amptelike opposisie in beginsel opponeer nie, maar dan moet dit op die regte manier en om die regte redes gedoen word.

“Die proses aan die kant van die polisie is ondeurdag en gejaagd sonder dat hulle al ’n behoorlike assessering van die sukses van die vorige amnestie kon doen.

“Dit kan nie die plek inneem van doeltreffende misdaadbekamping en polisiëring nie; veral nie as dit lyk of die polisie een van die mees korrupte entiteite in die land is nie,” het Michalakis gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cheetha

Kan nie glo mense gee hul wapens verniet vir die klomp nie.

marius

Hoeveel van die wapens behoort aan mense wat wettiglik in besit was , maar net eenvoudig as gevolg van eensydige wetgewing nie meer kan of wil hernieu nie . Publiseer die inligting of gaan dit as poging tot rassisme gesien word ?

PieterP

Gee vir my kêrels, ek sal stoor tot julle tot julle sinne kom!!!

Alexander

‘n Absolute dwaasheid om jou wapen vir die korrupte spulletjie in te handig. Jy word dalk nog met daai einste wapen van die gras afgemaak.

Oujongvrou

Sal die laaste dag wees dat ek n wapen aan hulle sal gee. Wat van al die skurke wat rondloop met wapens. En mnr Cele moet bietjie se waar is al die polisiewapens wat net weg is.