Vuurwapeneienaars kan nou vir lisensies aansoek doen

Argieffoto. (Foto: Hansie Linde)

Vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, kan nou om nuwe lisensies aansoek doen sonder om hul vuurwapens vir veilige bewaring by die polisie in te dien terwyl dié aansoeke verwerk word.

Die jongste riglyne en direktiewe vir die verwerking van vervalde vuurwapenslisensies, bevoegdheidsertifikate, tydelike magtigings en permitte volg ná ʼn onlangse uitspraak deur die Konstitusionele Hof wat bepaal dat die eienaar van ’n vuurwapen waarvan die lisensie verval het, steeds die wettige eienaar bly en nie sy eienaarskap van só ’n vuurwapen verbeur nie.

Maroela Media het in Mei vanjaar berig dat die hof ten gunste van Fidelity Security Services beslis het nadat die sekerheidsmaatskappy hom aanvanklik tot die Pretoriase hooggeregshof gewend het om die polisie te dwing om laat aansoeke vir wapenlisensies te aanvaar en die polisie te verhoed om beslag te lê op vuurwapens waarvan die lisensies verstryk het. Dit het hoofsaaklik eienaars van handwapens geraak wie se vuurwapenlisensies slegs vir vyf jaar geldig is.

Die nuwe direktiewe bepaal uitdruklik dat dié vuurwapens nie vernietig hoef te word nie, nuwe lisensie-aansoeke daarvoor aanvaar moet word en dat eienaars van vuurwapens waarvan die lisensies verval het, nie vervolg sal word wanneer hulle om nuwe lisensies aansoek doen nie.
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) sê die jongste verwikkeling bring verligting vir ’n geskatte halfmiljoen vuurwapeneienaars wat versuim het om hul vuurwapenlisensies betyds te hernu.

“Hierdie vuurwapeneienaars is nie misdadigers nie en is in die meeste gevalle verantwoordelike vuurwapeneienaars wat bloot vergeet het om hul lisensies betyds te hernu. Die SAPD se houding teenoor hierdie vuurwapeneienaars het hulle vyftien jaar lank in ’n benarde posisie geplaas omdat hulle teregstaan ​​op kriminele aanklagte,” het Fred Camphor, hoof- uitvoerende beampte van SA Jagters, Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Ingevolge die direktiewe moet aansoekers die vuurwapen waarvoor hulle ’n nuwe lisensie benodig, tesame met afskrifte van die lisensie wat verval het aan die aangewese vuurwapenbeampte (DFO) by hul naaste polisiestasie voorlê vir inspeksie en bekragtiging. Die DFO sal ʼn 0146‑verifikasiesertifikaat uitreik wat deur die aansoeker sowel as die DFO onderteken word. Die vuurwapeneienaar mag die vuurwapen huis toe neem en dit in ’n goedgekeurde kluis berg soos gereguleer deur die Wet op Vuurwapenbeheer.

Die aansoeker moet voldoen aan presies dieselfde vereistes wat geld vir die aansoek om ’n lisensie vir ’n nuwe vuurwapen, onder meer ’n geldige bevoegdheidsertifikaat.

“Die nasionale opdrag aan polisiestasies is uitdruklik in sy instruksies oor die proses en die tydsbeperkings wat DFO’s en die sentrale vuurwapenregister (CFR) moet volg in die hantering van hierdie aansoeke,” het Camphor verder gesê.

Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die vermoë van die polisie om al die aansoek te hanteer.

“Met die groot agterstand in die stelsel moet nog gesien word of die DFO’s, en veral die CFR, die voorgeskrewe proses en spertye sal kan volg.”

‘Eiendomsreg herstel’

Die burgerregteorganisasie AfriForum het klarigheid oor die hernuwing verwelkom. AfriForum het na aanleiding van die hofbeslissing te kenne gegee dat Bheki Cele, die minister van polisie, so gou moontlik klarigheid moet gee oor die proses wat vuurwapeneienaars moet volg om uitvoering te gee aan die hof se beslissing. Die verlangde direktiewe is eindelik deur lt.genl. Michael Motlhala uitgereik en doen glo sedert 1 Julie die rondte by polisiestasies.

“Ons glo dat baie vuurwapeneienaars wat in die donker gelaat is weens die onsekerheid wat oor hernuwingsaansoeke geheers het, nou iets van die verlede is,” sê Armand Greyling, regs- en risikobeampte by AfriForum.

Die VF Plus het ook die nuwe regulasies verwelkom aangesien baie vuurwapeneienaars bekommerd was dat hul vuurwapens verlore kon raak ná inhandiging.

“Hierdie proses sal ook die taak van die polisie vergemaklik aangesien daar nou groter duidelik is oor hoe om op te tree aangaande lisensies wat verval het. Dit beteken ook dat toekomstige vuurwapen-amnesties nie meer nodig sal wees nie, wat sal meebring dat die verspreiding van nuwe lisensie-aansoeke oor ’n langer tydperk kan geskied,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

“Die opeenhoping van nuwe aansoeke sal sodoende voorkom word wat die administrasieproses by die nasionale vuurwapenregister sal vergemaklik.”

Die party sê hul standpunt was nog altyd dat wettige eienaars hul vuurwapens in hul besit moes kon hou terwyl die lisensiëringsproses afgehandel word.

“Vir die eerste keer word daar nou behoorlik en grondwetlik oor eienaarskap opgetree met dié regulasies.”

Sakeliga, wat as vriend van die hof in Fidelity se saak opgetree het, sê die nuwe direktief “herstel prakties die eiendomsreg van vuurwapeneienaars, wat voorheen onderwerp was aan die vernietiging van hul eiendom bloot op grond van administratiewe besluite”.

Sakeliga sê indien die direktief, wat gegrond is op ʼn redelike begrip van die wet, uit die staanspoor deur die SAPD toegepas was, sou miljoene rand se regskoste, sowel as nog honderde miljoene meer se administratiewe koste en ekonomiese skade die afgelope paar jaar gespaar gewees het. “Dit is nietemin welkom dat die SAPD hierdie instruksie nou uiteindelik uitgevaardig het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marius ·

Goedso. Wettige eienaars kan nou hulle lisensies hernu en die regering kan effens gestuit word om wettige eienaars te onteien van hulle eiendom.

Anel ·

My man wag al amper 2 jaar vir sy handwapen en jaggeweer se lisensies wat hy hernu het. Nou wonder ek hoeveel langer hy nou gaan wag? Maar ek is baie bly oor hierdie. Daar is net een persoon by ‘n stasie wat met die aansoeke werk en dan ook net tot 12:00. Dit is geen wonder dat lisensiekaarte verval nie. Mense kry net nie afsprake nie. Hoop ook dit gaan nou verbeter!

Cherokee ·

Dit is wonderlike nuus vir vele vuurwapeneienaars, van wie lisensies vergete was.
Maar as die lisensie nog nie hernu is nie, en die eienaar skiet ‘n inbreker om sy gesin te beskerm, wat presies sal die opvolg wees? Waarskynlik sal diskressie gebruik word. Dit is tog logies.

Astrain ·

Die polisie het wettige vuurwapen eienaars onder geweldige druk geplaas en gedreig. Mense moes tyd afneem by die werk om in chaotiese toestande in ellelange toue vir ure te gaan staan. Party mense het uit moedeloosheid hul vuurwapens vernietig of verniet weg gegee aan wapenhandelaars. Miljoene rande is vermors, duisende werksure is vermors en ons is soos kriminele hanteer. Ideale korrupsie klimaat was geskep vir desperate mense om amptenare om te koop vir hul lisensies. Daar was die sg bystand van sekere instansie en individue wat hope geld gemaak het uit sg bevoegdheid skrywes wat hulle gecopy en paste het vir elke aansoek @ R1500 per persoon. Dis is @#&* skande wat hierdie narre aanrig aan ons regte. Ek het besluit ek sal aanhou TOTDAT my vuurwapen in my hande is – ek sou nie laat hulle my moed breek nie! Vandag na 376 dae het ek dit terug na emails, oproepe en algemene teistering vir my lisensie en bevoegdheid. Wie moet al die kostes betaal ? Jan Publiek!!!

Gerhard ·

Ja, ke het al 14 Februarie my bevoegdheid sertifikaat ontvang, dit na 1 en half jaar. So, wonder hoe lank gaan ek nou nog wag vir my lisensie en intussen le my handwapen in veilige bewaring by SAPD. Jissie, wonder hoe gaan ons ons land in geheel regkry. Alles is n gesukkel, alle Staatsdepartemente.

Jack ·

15 jaar het dit geneem om die boelies te stuit. Cele is seker nou eers kwaad oor sy eie hulpeloosheid. Wonder wie is die jongman in die grootmens wereld.

Pietertjie ·

Ek wag al twee jaar vir my gewone aansoek om verwerk te word.

Cherokee ·

Doen jy ooit navraag? Selfs vir Suid Afrika is dit te lank. My hernuwing(s) was in weke, nie maande.

Adri ·

Hoekom moet lisensies hernu word? As ek een maal gekwalifiseer het om die wapen te besit, verander niks wat hernuwing noodsaak nie. Die antwoord is ‘n openbare geheim: geldmakery!

gpsa ·

Het my wapen 2 jaar terug inhandig tydens amnestie. Nou al meer as 2 jaar later en steeds nie terug gekry nie. Spyt kom te laat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.