Vuurwapenlisensies: Polisie sê oor uitspraak

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Woensdag gesê hy neem kennis van die Pretoriase hooggeregshof se uitspraak ten opsigte van ʼn hofaansoek van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters).

Maroela Media het vroeër berig regter Ronel Tolmay het verklaar dat twee artikels (artikel 24 en 28) van die Vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik is en het beslis dat alle vuurwapenlisensies wat verval het, of binnekort verval, geldig sal wees totdat die konstitusionele hof die betrokke artikels hersien het. Die parlement is ook 18 maande gegun om die wet te wysig om aan die Grondwetlike beginsels te voldoen. ʼn Kostebevel is ook ten gunste van SA Jagters uitgereik.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die SAPD is besig om die uitspraak te bestudeer om op die pad vorentoe te besluit. “Intussen sal die SAPD alle vuurwapens hou wat aan die polisie oorhandig is deur mense wat versuim het om hul lisensies in ooreenstemming met die Wet op Vuurwapenbeheer te hernu,” het Naidoo gesê.

“Verder sal geen van die betrokke persone in hierdie tyd vervolg word nie en geen van hierdie vuurwapens sal gedurende dié tydperk vernietig word nie.”

Intussen het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, die uitspraak verwelkom. Groenewald het gesê die polisie moet in die lig van die hofuitspraak nou seker maak dat alle klagtes wat teen vuurwapenseienaars geopen is, teruggetrek word.

“Daar word nogtans ʼn beroep gedoen op vuurwapeneienaars om voort te gaan met die hernuwing van hul vuurwapenlisensies en hul bevoegdheidsertifikate, al is die sperdatum reeds verby. Die polisie kan dit nie meer weier nie,” het hy gesê. “Hierdie hofsaak is ʼn deurbraak vir alle vuurwapeneienaars en die VF Plus wil die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging bedank dat hulle volhard het om die saak tot hier te voer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

franje van spanje ·

Enorme verligting!! Ek is n wetsgehoorsame burger op n plaas. Dankie almal wat opgetree het in my belang!!

Cherokee ·

Onthou julle hoeveel vuurwapenwinkels het toegemaak omdat die mark so te sê nie meer bestaan het nie? Hierdie kan dalk in skadevergoedingeise teen die regering ontaard.

Ek lees ·

Ek lees ” . . . wat aan die polisie OORHANDIG is deur mense . . . ” Dus het die polisie nie vuurwapens gekonfiskeer of val hierdie wapens onder ‘n ‘ander wet’ wat wie weet waar bestaan?
Kom nou SAPD gee hierdie mense se WETTIGE vuurwapens terug sodat hulle hulleself kan verdedig teen die vlaag van misdaad in hierdie onregeerbare piesang republiek. Daar is niks om in hierdie uitspraak te bestudeer want selfs ek kan dit verstaan of sou dit wees dat van hierdie wapens by julle (SAPD) weggeraak het?

Jakes ·

Ek stem saam . As hulle die vuurwapens terughou oortree hulle die wet en minag die hof

Hannes ·

Verstaan ek reg dat aanbeveel word dat indien my vuurwapen lisensie verval het, ek nou aansoek moet doen vir n hernuwing van die lisensie.
Op n ander webblad was die aanbeveling dat die wit lisensie tans geldig is en gewag moet word vir die nuwe wetgewing om in plek te kom???

Cherokee ·

Hannes, tydens die eerste herlisensieërings het ek Pieter Groenewald geskakel omdat daar soveel verskillende opinies was en gevra wat hy sou voorstel. Pieter het gesê dat dit nie nodig is nie maar, het hy voortgegaan, hy stel voor dat ek dit tog doen om in die roetine te bly. My advies sou wees dat jy dieselfde doen. Hernu jou lisensie. Dit gaan jou (±) R70 kos en jy gaan rustig slaap.

Catryn ·

Dit wat die Polisie WIL doen is TEENstrydig met die hofuitspraak, en moet hierdie mense se vuurwapens aan hulle teruggegee word, alle mense wat dit “ingehandig” het, moet dit eenvoudig gaan opeis, en klaar, in terme van die hofuitspraak. Dit is GEEN wettige beslissing waarmee die Polisie besig was nie, en hulle het mense onder valse inligting die vuurwapens laat ingee. Kry jou kwitansie, bewys en gaan haal jou vuurwapens. Die SAP is besig met ons mense se grondwetlike reg tot die besit van vuurwapens te probeer wegneem.

popeye ·

R70 vir lisensie en R70 vir bevoegdheid, dus R140 in totaal plus jou tyd om dokumentasie en motivering te skryf. Dis die moeite werd! Doen die regte ding. As jy ingehandig het , gaan vra terug!

Jan ·

Ek wil net seker maak – die status van die groen plastiekkaart lisensies, is dit dus nog geldig vir die huidige?

Dick Hattingh ·

my lisensie was nog in my groen boekie geplak…nooit hernu nie…so ek moet seker van die begin weer registreer. Ekt nie n kaart daai tyd gekry…omdat ek daai tyd in die buiteland gewerk, mar het nog steeds my vuurwapen…is ek in die moeilikheid?

Drakensberger ·

En nou gaan ons sukkel om nuwe wapens te lisensieer. Reeds gister my vrou en seun se aansoeke afgekeur ….. en ons bly op ‘n plaas. Is dit nie rede genoeg nie?

johnny_walker ·

Sluit aan by National Shooting Association , hulle sal jou help en jou aansoeke sal nie afgekeur word nie

Jan Nel ·

My beskeie opinie is, dat jy nie op hierdie stadium jou lisensie kan hernu nie. Daar is tans géén wet wat die prosedure rakende hernuwing voorskryf nie, aangesien die toepaslike artikels, wat wel daarvoor voorsiening gemaak het, ongrondwetlik verklaar is.

Dit sal dus ‘n leë regshandeling wees wat op geen wet gebasseer is nie en min of meer dieselfde waarde hê as ‘n lisense wat in ‘n lucky packet gevind is.

Cherokee ·

Die bevoegheidsertifisering is ‘n goeie ding. Ek het my eerste rewolwer gekoop toe ek nog baie jonk was. By ‘n meubelwinkel ingestap, na die vuurwapens gekyk en van ‘n spesifieke rewolwer gehou. Ek het aan die verkoopsman R40 gegee vir die rewolwer en hy het op sy beurt vir my ‘n A4 dokument gegee en gesê dat ek dit en R2 na die magistraatskantoor moet neem. Die magistraat was in gesprek met iemand anders en terwyl hulle gesels het hy die papier uit my hand geneem en daarna gekyk. My gevra “Wat wil jy daarmee doen?” My antwoord was een woord “Selfverdediging”. Hy het die dokument geneem, dit geteken en gestempel en met sy gesprek met die ander man aangegaan. Ek het R2 betaal en terug gegaan na die winkel waar ek die papier ingehandig het en die rewolwer geneem het met ‘n pak patrone. Later my lisensie gaan haal. …… Die bevoegheidsertifikaat is nodig.

Wilma ·

Hoe moet ek nou te werk gaan om my vuurwapenlisensie te hernu? Dit het in Junie 2016 verval?

Cherokee ·

Gaan na ‘n polisiekantoor en vra na die vuurwapenbeampte (firearms officer) en besoek daardie kantoor. Moet niks onnodigs sê nie. Moet nie ‘n storie vertel oor lisensies wat verval het nie. (Volgens hierdie berig het dit niè verval nie) Sê bloot dat jy dokumentasie benodig om ‘n lisensie te hernu.

Nou maak jy ‘n afskrif van jou bevoegdheidsertifikaat, van jou oorspronklike lisensie en van jou ID dokument. Skryf twee briewe – een as motivering waarom jy die wapen benodig (baie ry op die pad dien nie as motivering nie so maak seker dat jou motivering reg is) en ‘n tweede skrywe waarin jy ‘n verduideliking opdis waarom jy die hernuwing nagelaat het. Laat alles sertifiseer by die polisiestasie se toonbank en handig dit in by die beampte, steeds sonder veel woorde. Jy kan gerus by die eerste besoek vra watter dokumentasie hy (of sy) alles wil hê maar dit wat ek noem behoort genoeg te wees.

Volgens die berig is niks hiervan meer nodig nie maar doen liewer te veel as te min want jy wil jou wapen behou.

Cherokee ·

In die eerste paragraaf het ek bedoel jy moet die vorms aanvra wat nodig is om te voltooi.

Jan Nel ·

Cherokee, help my reg asb. Ingevolge watter wet moet mens dan nou jou lisensie hernu? Die enigste artikels in enige wet na my wete wat voorsiening maak vir hernuwing van vuurwapenlisensies, is nou ongrondwetlik.

Cherokee ·

Jan Nel, indien ‘n polisieman wat nie Maroela Media se nuus lees nie, jou met jou wapen voorkeer en vra om jou lisensie te sien, kan dit nogal ‘n lastigheid afgee indien hy jou wil aankla vir onwettige besit en jy aan hom verduidelik dat jy in ‘n digitale koerant gesien het dat jou stokoue lisensie steeds geldig is. Hy sal vir jou die wet kan wys wat sê dat jy die lisensie moet hernu en jy gaan sukkel om Maroela se artikel aan hom te vertaal. Dit sal makliker wees om die lisensie te hernu totdat dit in die wetboeke is dat jou ou lisensie nooit verval het nie. Indien jy nie nou reggehelp is nie beteken dit dat jy ‘n dobbelaar is en dìt kan jou dalk meer kos as R140 en die tyd om dit te doen.

Cherokee ·

Nog iets, hou afskrifte van alles wat jy ingee vir jouself. Doen dit dus X 2.

Dalene ·

Kan die aansoekvorms slegs by ‘n polisiekantoor afgehaal word of is daar aansoekvorms beskikbaar op ‘n internet webwerf?

Cherokee ·

Verseker sal jy die vorms op Internet vind. Vra vir Dr Google waar om te soek.

Gerrit ·

As ek ‘n aanbeveling mag maak. Moenie probeer geld spaar deur jou eie vuurwapen lisensie motivering te doen nie. Daar is mense wat soesialiseer in die doen en motivering van nuwe lisensies en hernuwings! Kry so betroubare persoon en doen en kry dit die eerste keer reg. ‘n Afkeuring is moeiliker om goedgekeur te kry as om van die begin af die ding reg te gedoen het! Sluit aan by ‘n erkende vereeniging en kry jouself wettiglik bewapen!

Bruno Stef ·

Die ene Jaco Bothma van die Polisie het op Forum die publiek hoog en laag gedreig om hulle vuurwapens in te handig n klompie jare gelede. Dit was MAW n groot bluf sal die persoon ons dan kan verduidelik namens wie of wat hy dan so n groot lawaai gemaak het teenoor wetsgehoorsame burgers of het hy net sy base se opdragte uitgevoer.

Lou ·

Baie dankie JAGTERS VEREENIGING. Ek gaan nou beslis aansluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.