Vuurwapens gevind ná inbraak op plaas

Foto verskaf deur SAPD Noordwes

Ses mans is in hegtenis geneem in verband met verskeie oortredings wat strek van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en roof tot poging tot moord. Polisiebeamptes in Noordwes het beslag gelê op drie vuurwapens en meer as 200 patrone.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê twee verdagtes, onderskeidelik 21 en 33 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Vryburg-landdroshof verskyn op aanklag van roof, diefstal en onwettige besit van vuurwapens. “Die twee verdagtes is Woensdag in Stella naby Vryburg in hegtenis geneem. ʼn Plaaseienaar het Dinsdag, 29 Desember, teruggekeer ná die Kersvakansie en besef iemand het by die venster ingebreek en toegang tot sy huis bekom. ʼn Rewolwer en ʼn jaggeweer met 200 patrone is uit die kluis gesteel,” het Mokgwabone gesê. Tydens die ondersoek het polisiebeamptes weer die jaggeweer en 200 patrone gevind waar dit in bosse weggesteek is. “Die ondersoek duur voort.”

In ʼn afsonderlike voorval sal ʼn 32-jarige verdagte na verwagting Maandag in die Molopo-landdroshof verskyn, op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en poging tot moord. Hy is Woensdagaand omstreeks 23:00 in Mahikeng-omgewing in hegtenis geneem. “Tydens die inhegtenisneming het hy ʼn rewolwer en ammunisie in sy besit gehad. ʼn Voorlopige ondersoek verbind die verdagte met ʼn saak van poging tot moord wat in Desember in Setlopo gepleeg is.”

In Delareyville het Taukobong Mothobi (21), Matimba Mmokwa (18) en ʼn 17-jarige beskuldigde het Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van roof. Mothobi staan ook tereg op ʼn bykomende aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. “Al drie beskuldigdes bly in aanhouding. Hulle moet Maandag weer in die hof verskyn.” Die drie persone het in die hof verskyn nadat hulle na bewering ʼn 17-jarige meisie van haar selfoon beroof het toe sy huis toe geloop het saam met haar broer. Die broer en suster is met ʼn mes gedreig voor die rowers met haar selfoon van die toneel gevlug het. Mothobi, wat die meisie se broer ken, het ook ʼn ongelisensieerde vuurwapen (pistool) en ammunisie in sy besit gehad met sy inhegtenisneming.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul toewyding en dat die beskuldigdes aangekeer en beslag gelê het op onwettige vuurwapens. Hy herinner die publiek aan die vuurwapen-amnestieperiode wat op 31 Januarie 2021 tot ʼn einde kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.