Vuurwapens uit polisiepakkamers gesteel: Sakeman vas

Argieffoto ter illustrasie

Argieffoto ter illustrasie

ʼn Sakeman van Kaapstad is in hegtenis geneem in verband met dieselfde saak waarvoor ʼn voormalige polisiebeampte van Vereeniging hierdie week gevonnis is, nadat hy erken het hy het ongeveer 2 400 vuurwapens uit die pakkamers van die polisie gesteel en verkoop.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die sakeman sal binnekort in die Bellville-landdroshof verskyn. Hy wou geen verdere besonderhede oor die verdagte bekendmaak totdat hy in die hof verskyn het nie.

Maroela Media het vroeër berig Christiaan Prinsloo, ʼn voormalige kolonel in die SAPD, is tot effektief 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Ingevolge hierdie ooreenkoms het Prinsloo skuld beken op al 11 aanklagte teen hom, wat onder meer rampokkery, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die onwettige verkoop van vuurwapens, die besit van verbode vuurwapens, die uitwissing van of peuter aan vuurwapens se reeksnommers, bedrog en geldwassery insluit.

Prinsloo het gedurende 2007 en 2008 duisende vuurwapens wat by die polisie ingehandig is om vernietig te word, uit die polisie se pakkamers gesteel en verkoop. Van hierdie vuurwapens het later op misdaadtonele wat met bendegeweld verband hou, opgeduik en dit is uiteindelik met Prinsloo verbind.

Volgens Ntabazalila beweer die staat Prinsloo het die vuurwapens aan die sakeman verkoop. Die sakeman is die derde verdagte in die saak wat in hegtenis geneem word. ʼn Vuurwapenhandelaar, wat ook glo by die misdaad betrokke was, moet nog verhoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gert ·

Ai tog Kolonel, kan een mens so flippin onnosel wees?? Aan die ander kant, geld kan mens maklik mal maak.

Cobus ·

Die man het misdaad op ‘n baie ernstige manier aangehelp. Wie weet dalk het iemand gesterf agv sy dade. Gooi die sleutel weg

Veragterlik ·

beide moet vir moord ook aangekla word. of gewapende rooftogte. gesinsgeweld ens want het hy rekord gehou aan wie die onwettige wapens verkoop was. die Kolonel is slim om die blaam te verplaas. sluit hom toe. kry die ongemagtige wapens van fie straat af. en dan is meeste van hulle verhewe bo die wette. hoeveel kinders sterf in bende geweld. Het hierdie sakeman en Sapd lid n gesin? jy het seker die beste bodyguards wat jou vuil geld kan bekostig. sit hulle gesigte op “billboards” hou op! om kriminele te beskerm

Cherokee ·

Wat sou werklik die idee hiermee wees anders as dat dit in kriminele se hande sou bly, want waarskynlik sou dieselfde wapens nooit weer in die wettige handel kon beland as gevolg van die verwyderde reeksnommers; anders gesien, miskien kon dit wel weer genommer en ‘wettig’ verkoop word.

Lida ·

Ek wonder wat sal hy se as sy gesin met daardie einste wapens doodgeskiet word. SIES MAN

Anny ·

As ek nou een sou wees wie se wapen dit was wat destyds ingegee is en dis nou een waarmee misdaad gepleeg is , sal ek in die hof moet gaan verduidelik dat dit my wapen was maar dat ek die ding by hulle ingegee het vir vernietiging. Wat n gemors en onregverdig om dit v my te verwag jare na die tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.